EgyptAir het glo skerp geswenk sê Griekse lugbeheer

Deel op

Die hoof van Egipte se forensiese owerheid het ’n gevolgtrekking verwerp dat slegs klein stukkies liggaamsdele ná die EgyptAir-ramp gevind is omdat ’n ontploffing aan boord plaasgevind het.

’n Intensiewe ondersoek is aan die gang waarom die Airbus 320 van EgyptAir Donderdagoggend vroeg met 66 passasiers aan boord in die Middellandse See neergestort het.

Die grootste deel van die wrak, sowel as die vlugopnemers, is nog nie gevind nie.

’n Egiptiese forensiese amptenaar het gesê 23 sakke liggaamsdele is sedert Sondag gevind, het Reuters berig.Die opnemers se batterye hou net 30 dae.

Inligting wat verskaf is deur die lugvaartowerheid in Griekeland, wat die vliegtuig gemonitor het voordat dit Egiptiese lugruim bereik het, verskil van die Egiptiese inligting oor die vliegtuig se laaste oomblikke.

Panos Kammenos, Griekeland se minister van verdediging, het Donderdag gesê die Griekse radarnetwerk het skerp bewegings raakgesien voordat die vliegtuig hoogte verloor en toe verdwyn het.

Ehab Mohieldin Azmi, hoof van Egipte se lugnavigasiediens­, het gesê Egiptiese amptenare het nie opgemerk dat die vliegtuig swenk of hoogte verloor nie.

“Natuurlik het ons meer as een keer probeer om die vliegtuig te roep, maar daar was geen reaksie nie. Ons het vliegtuie in die omgewing gevra om ook te probeer, maar dit was onsuksesvol,” het hy gesê.

Egipte se openbare vervolger het Griekeland gevra om transkripsies van gesprekke tussen die vlieënier en die Griekse lugverkeerbeheer te oorhandig, asook dat amptenare ondervra word of die vlieënier ’n sein gestuur het dat die vliegtuig in die moeilikheid is.

Tot dusver is geen aanduidings van plofstof gevind nie. Hisjam Abdelhamid, hoof van Egipte se forensiese owerheid, het gesê dit is te vroeg om tot enige gevolgtrekking te kom.

Minstens twee ander bronne met regstreekse kennis van die ondersoek het gesê dit is te vroeg om te sê wat die oorsaak van die ongeluk was. Franse ondersoekers het gesê die vliegtuig het ’n reeks waarskuwingseine oor rook aan boord, asook ’n moontlike rekenaarprobleem, gestuur net voordat die vliegtuig van die radarskerms verdwyn het.

Lugvaartkenners het gesê sabotasie of ’n tegniese probleem kan nie uitgeskakel word nie. Ondersoekers maak staat op die wrakstukke, sakke en klere, sowel as chemiese ontledings om die spore van ’n ontploffing te probeer vind.

’n Span wat deur Egipte se burgerlugvaartowerheid saamgestel is, doen die tegniese ondersoek.

Drie amptenare van Frank­ryk se burgerlugvaart-­ondersoekeenheid en ’n kenner van Airbus is ook sedert Vrydag in Kaïro om te help. Egipte het ’n robotduikboot gestuur en Frankryk ’n skip om na die vlugopnemers te soek.

Teen druktyd was daar nog nie sprake dat die opnemers gevind is nie. Hulle lê in ’n gebied waar die see tot 3 000 m diep is.

Familielede van slagoffers gaan tuis in ’n hotel naby die Kaïro-lughawe. Hulle gee nou DNS-monsters om te help om die liggaamsdele te identifiseer.

Amjad Haqi, ’n Irakiër wie se ma, Najla, omgekom het, het ­gesê die families is nie amptelik ingelig dat liggaamsdele gevind is nie.

“Al waaraan hulle kan dink, is om die vlugopnemers en die wrakstukke te kry. Dis hul probleem, nie myne nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.