Polisie moet bontstaan om openbare geweld te keer

Deel op

Die polisie moes plek-plek in Suid-Afrika bontstaan om openbare geweld te onderdruk.

Honderde plakkers van die Tornado-woongebied naby Brits in Noordwes het na die munisipaliteit opgeruk.

Die opmars was glo om ‘n memorandum oor swak dienslewering in die gebied aan die Madibeng-munisipaliteit te oorhandig.

Die munisipaliteit se departement van Water en Sanitasie is vroeër onder administrasie geplaas.

Volgens die plakkers is plaaslike projekte van miljoene rande wat ‘n sportveld, sanitasie en HOP-huise insluit, nooit voltooi nie.

By Dwarsloop buite Bosbokrand in Mpumalanga is die R-40 met twee vragmotors en brandende bande versper.

‘n Polisiewoordvoerder sê hulle probeer om die oproeriges uiteen te jaag. Die oproermakers is vermoedelik ontevrede oor die kandidaat wat as wyksraadslid benoem is.

Die polisie moes motoriste van Acornhoek waarsku om alternatiewe roetes te gebruik.

In Vuwani in Limpopo het onlangse gewelddadige oproer teen herafbakening nog nie bedaar nie.

Vier-en-twintig skole is die afgelope tyd aan die brand gesteek.

Volgens die Tsongas dreig die polisie hulle glo dat hulle ‘n tweede Marikana-slagting te wagte kan wees.

By Vyeboom sê inwoners is die situasie is steeds onveilig vir mense van buite. Daar is steeds slote in die strate.

Die oproer het die ekonomie tot stilstand gebring in Vuwani en omliggende dorpe.

Taxibestuurders se inkomste is negatief geraak daardeur en hulle sê hulle kan nie meer die lenings op hul voertuie terugbetaal nie.

In Kokstad in die suide van KwaZulu-Natal, sê die burgemeester Nosisa Jojozi sê sy vrees vir haar veiligheid.

Oproeriges eis dat sy en die onderburgemeester bedank.

Ontevredenes het ook probeer om die onderburgemeester se huis aan die brand te steek.

Jojozi het ‘n oproep om kalmte gedoen en sê mense moet die regte kanale volg om hulle griewe te lug.

Die polisie probeer steeds om die twee strydende groepe op Kokstad uitmekaar te hou.

Paaie is met brandende bande en rommel versper, winkels is geplunder en skole moes sluit.

Vyftig mense is reeds in hegtenis geneem en van openbare geweld aangekla.

Hulle het in die streekhof op Kokstad verskyn en sal weer aanstaande Donderdag verskyn.

In Sebokeng, suid van Johannesburg het inwoners gewelddadig geraak glo oor die stadige pas van dienslewering.

Hulle het strate met brandende buitebande en klippe versper, Verkeer is ook ontwrig.

Die inwoners wil hê dat die regering kom kyk hoe die omgewing lyk waarin hulle moet leef. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.