Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die bank het nie die besluit van die handelsbanke om die maatskappy Oakbay Investments se bankrekenings te sluit beïnvloed nie.
Hy het dié opmerking gemaak tydens die aangekondiging dat die repokoers onveranderd op sewe persent sal bly, het RSG berig.
Die president van die Reserwebank het die aankondiging by ‘n vergadering van die Monetêre Beleidskomitee van die bank in Pretoria gedoen.
Dit beteken dat die prima uitleenkoers op 10,5% persent bly.
Die aankondiging is wyd verwag na Statistiek Suid-Afrika se aankondiging dat die inflasiesyfers beter is as wat verwag is.
Die Verbruikersprysindeks het in April op ‘n jaar tot jaar grondslag tot 6,2% verlangsaam.
Kganyago sê hy is bekommerd oor die verwagte styging in voedsel-en brandstofpryse in die komende maande.
Die land se vier grootste banke het hulle verhoudinge met Oakbay verbreek na bewerings dat sy eienaars, die Guptafamilie, ongeoorloofde politieke invloed by president Jacob Zuma het.
Zuma en die Guptas het sedertdien die bewerings ontken.
Kganyago sê Oakbay se enigste opsie is om hof toe te gaan.