Die Vrystaatse provinsiale regering gaan die stand van gesondheidsdienste in die provinsie ondersoek nadat ‘n afvaardiging van die Treatment Action Campaign (TAC) met die provinsiale kabinet vergader het.
Anele Yawa van die TAC sê die tekort aan medikasie, skorsing van gesondheidswerkers en onbevoegdheid van die LUR vir gesondheid, Benny Malakoane, was op die agenda vir die vergadering.
Die ingryping van adjunkpresident Cyril Ramaphosa is klaarblyklik die rede vir die vergadering tussen die Treatment Action Campaign (TAC) en die Vrystaatse regering.
Yawa sê die nie-regeringsorganisasie het Ramaphosa genader om toegang tot die Vrystaat te kry.
Hy sê enkele dae ná dié vergadering het die premier van die Vrystaat Ace Magashule – in sy hoedanigheid as voorsitter van die provinsiale Vigsraad – die TAC genader om probleme in die provinsie te bespreek.
LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Sam Masinini, het die media ná die vergaderingnamens die provinsiale kabinet toegespreek.
Hy sê in ‘n vergadering wat op 11 Mei plaasgevind het, het dit duidelik geword dat die uitvoerende bestuur op die saak moet begin fokus.
Hy het ontken dat die departement tot dusver nie doeltreffend ten opsigte van die gesondheidskrisis in die provinsie opgetree het nie.