Swart onderwysers het nie Dinsdag by skole in Mashau, naby Vuwani in Limpopo vir klas opgedaag nie. Geen van die beloofde mobiele klaskamers is nog afgelaai nie.
Vuwani en Malamulele in Limpopo word steeds as uiters onbestendig bestempel ten spyte daarvan dat die minister van Staatsveiligheid die situasie dmv sekere hoofmanne probeer kalmeer.
By die Maligana Wilson-sekondêre skool het slegs twee van die 23 onderwysers aangemeld. Leerlinge het by skole opgedaag maar kon nie onderrig ontvang nie omdat onderwysers uit vrees vir geweld wegbly.
Sowat 24 skole is die afgelope ruk afgebrand na etniese geweld uitgebreek het oor ‘n besluit rakende die munisipale afbakening van die gebied
Parlementslede het ‘n blitsdebat oor die etniese krisis in Vuwani in die Nasionale Vergadering gehou. Tydens die blitsdebat oor die etniese geweld in Vuwani in die Nasionale Vergadering is die afbrand van skole gekritiseer.
Die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo het ‘n streng waarskuwing gerig aan inwoners wat onderwysers in en om Vuwani in Limpopo intimideer.
Tradisionele leiers in die gebied het ook hul kommer uitgespreek. Hoofman Livhuwani Matsila wat Mahlobo vergesel, sê onderwysers het onderneem om aan te meld vir werk.
Matsila sê hulle is teleurgesteld, veral na hul gesprekke met die onderwysvakbond, Sadou en skoolbeheerliggame.
Die OVK het reeds in April ‘n beroep gedoen dat die geweld by sy lokale gestaak word.
Op Vuvani in Limpopo moes nege lokale weens onrus gesluit word.
Die Hoofkiesbeampte, Mosotho Moepya het ‘n beroep op kiesers gedoen om hulle van geweld te weerhou en hulle reg om te stem uit te oefen.
Die EFF se hoofsweep, Floyd Shivambu het die ANC en ‘n tekort aan ekonomiese ontwikkeling die skuld gegee vir die onrus in Vuwani.
Shivambu sê die geweld hou verband met konflik binne die ANC.
Hy beweer die burgemeester van Makhado en sekere raadslede besef dat hulle hulle poste sal verloor indien Vuwani volgens ‘n besluit van die Munisipale Afbakeningsraad by ‘n nuwe munisipaliteit ingesluit word.