Leon Lemmer: Leon de Stadler sit sy kruistog teen Afrikaans voort

Deel op

Dit is algemene kennis dat blanke Afrikaanssprekendes die voorste vegters teen Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) is. Heel moontlik is daar niemand wat meer afkeurenswaardig in hierdie rol funksioneer as Leon de Stadler nie, want hy doen dit onder die dekmantel van deskundigheid, dus as taalkenner en boonop as hoogleraar in Afrikaanse taalkunde. Hy is ook die direkteur van die US se Taalsentrum en gevolglik uitstekend geplaas om met oënskynlike gesag oor hierdie onderwerp te praat.

By twee vorige geleenthede het ek oor De Stadler se bedenklike anti-Afrikaansrol geskryf (Praag 7.11.2012 en 16.03.16). In laasgenoemde geval het hy gerapporteer oor die resultate van ‘n “navorsingsprojek” wat in sy taalsentrum uitgevoer is. Pas het hy aanvullend oor hierdie resultate berig (Die Burger, 12 Mei, p 15). Dié artikel is klaarblyklik as ondersteuning van die US-rektor, Wim de Villiers, se verengelsingsbeleid bedoel. De Stadler kruip dus voort agter die rektor aan. Hy het dieselfde tydens die bewind van die vorige twee rektore, Chris Brink en Russel Botman, gedoen.

Maar let op die grondverskuiwende progressie ter benadeling van Afrikaans. Vir Brink het dit om tweetaligheid (Afrikaans en Engels) gegaan, dus weg van ‘n Afrikaanse US. Die Upingtonse Brink het binne enkele jare in Australië verengels. Vir kameraad Botman, die ANC-aktivis, het dit om meertaligheid (Afrikaans, Engels en minstens ook ‘n swart Afrikataal soos Xhosa) gegaan. Botman het graag beweer dat hy Xhosa probeer baasraak. Vir De Villiers, die veramerikaanste wêreldburger, gaan dit om blatante verengelsing, met ter wille van die skyn, dus om ‘n voet in die deur te kry, die nominale behoud van Afrikaans en Xhosa, maar sonder om hulle omvang of tydsduur te spesifiseer. Dít is waaraan De Stadler sy entoesiastiese steun toegesê het.

Wat De Stadler hierdie keer skryf, is enersyds herhaling van sy vorige artikel en andersyds improvisasies daarvan. Sy doel bly presies dieselfde: om Afrikaans af te kam. Aan die US is daar glo “steeds meer (veral Afrikaanse) studente [wat] Engels as hul voorkeurtaal in hoër onderwys verkies.” Wat hy polities korrek doelbewus verswyg, want hy weet dit, is dat daardie Afrikaanse studente wat Engels verkies by uitstek in bruin geledere aangetref word. Deur hierdie feit te verswyg, word al die blanke Afrikaanssprekende studente taalgewys onder verdenking geplaas. “Twee-derdes van die studente verkies Engels as akademiese taal … Sedert 2008 is daar dus ‘n verdere verskuiwing ten gunste van Engels, en hierdie verskuiwing vind veral by Afrikaanssprekende studente plaas.” Dit hang saam met die toenemende verbruining van die Afrikaanssprekende sektor omdat studente-toelating sterk anti-blank en rasgegrond is want rasteikens word nagejaag.

De Stadler vervolg: “ons studente ‘n sterk positiewe houding openbaar oor die waarde van meertaligheid.” Later: “dat daar ‘n besonder sterk sentiment is oor die waarde van meertaligheid in hoër onderwys.” Wat opval, is dat De Stadler hierdie resultaat formuleer nie spesifiek ten gunste van Afrikaans nie, maar (soos die sogenaamde Afrikaanse Taalraad graag doen) ten gunste van meertaligheid, wat uiteraard nie Afrikaans hoef in te sluit nie. “73% van die studente ag meertaligheid aan die US belangrik of baie belangrik.” Hy voeg darem by: “daar is ook ‘n duidelike positiewe houding oor die behoud van Afrikaans en die Afrikatale.” Hy sal nie ‘n lansie vir Afrikaans as sodanig breek nie, daarom word Afrikaans hier met Afrikatale gekoppel. Hoeveel van Afrikaans behou moet word en vir hoe lank word glad nie te berde gebring nie.

De Stadler sonder drie negatiewe kenmerke van die US-taaldebat uit: “minder goeie argumentasie”, “voorstelle wat nie altyd strook met die werklikhede … nie” en “‘n aanvallende skerpheid.” Hy noem nie ‘n enkele positiewe aspek van die taaldebat nie, klaarblyklik omdat die “taalbulle” poog om die heil van Afrikaans te bevorder. Hy betreur dit ook nie dat sy “navorsingsresultate” so negatief vir Afrikaans is nie. Pleks daarvan prys hy die objektiwiteit van die resultate deur te beweer “dat ons ‘n kritiese universiteitsgemeenskap het wat op verantwoordelike wyse nadink.” Dit gaan glo om “gehalte-opvoeding”, vandaar blykbaar die verdoeming van onderrig in Afrikaans.

Voorheen het De Stadler homself voorgedoen as eerder mens- as taalbewus; asof Afrikaners nie ook mense is nie. Alle tale is mensgemaak; dus deel van mense se kultuur. Maar Afrikaans mag maar afgegradeer word as jy by voorkeur aan nie-Afrikaners dink, soos wat De Stadler inderdaad polities korrek doen: “Daar is ‘n groeiende getal studente wat reeds die uitdaging [!] het om ‘n tweede of derde taal (Engels) te studeer. Die toevoeging van nog ‘n taal [Afrikaans!] wat hulle moeilik verstaan of selfs glad nie, plaas ‘n onregverdige en onregverdigbare las op die skouers van hierdie studente – hulle het juis nie altyd gelyke kanse nie.”

In hierdie laaste aanhaling bereik De Stadler se voorbedagte gemeenheid ‘n hoogtepunt. Dit gaan vir hom om nie-wittes, spesifiek swartes. Engels word voorgehou as hulle (enigste) gekose onderrigtaal. Afrikaans word nie eens by die naam genoem nie, maar word gekarakteriseer as moeilik en ‘n las. ANC-politieke retoriek word bygesleep met “uitdaging” asook die tweeledige verwysing na sogenaamde onreg. Hy het die benadeling van swartes deur wittes op die oog; nie bv moontlike genetiese benadeling nie. Maar wat De Stadler seker die meeste geniet het, is die steelhou wat hy inkry teen die beweging wat hom beywer vir gelyke kanse vir Afrikaans aan die US: Breyten Breytenbach en genote (kyk gelykekanse.com).

Dan die geykte: “‘n taal nie deur dwang bevorder kan word nie,” omdat taal glo “iets moet wees wat mense kies.” Volgens De Stadler verskil taal dus van transformasie, wat aan dese en gene in die nuwe Suid-Afrika opgedring word; ook aan die US. Die mode-standpunt wat De Stadler klaarblyklik onderskryf, is dat Afrikaansonderrig opdringing impliseer, terwyl die koloniale taal Engels, ten spyte van die voorbeeld wat bv Alfred Milner gestel het, vry van opdringingspotensiaal is. In die vorige politieke bedeling het ons Afrikaanse en Engelse universiteite gehad wat vry was van die onoorkomelike probleme wat twee- en meertaligheid veroorsaak. Toe kon studente ‘n universiteit en terselfdertyd ‘n onderrigtaal kies en daar was nie die dwase geredekawel oor taalopdringing nie. Daar is kwalik enige ondubbelsinnige pro-Afrikaanse stelling in De Stadler se artikel. Hy haal studente aan maar hy laat hom geensins ten gunste van Afrikaans uit nie. Sy versugting is vir ontmoetings “oor kultuurgrense heen”, vir “interkulturele saamwees” en vir “toekomsgerigte Suid-Afrika”; dus nie ‘n enkele goeie woord vir die ou Suid-Afrika en die US van weleer nie.

Myns insiens ondersteun De Stadler De Villiers se verengelsingsbeleid heelhartig: “Die konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch wat tans oorweeg word, wil ‘n talige ruimte skep waarbinne die universiteit hom tegelyk kan verbind tot toeganklikheid én die bevordering van meertaligheid.” Naas opdringing is uitsluiting ‘n euwel waarmee Afrikaans geassosieer word, maar op magiese wyse nie Engels nie. In werklikheid gee hierdie twee dogmas (Afrikaans-opdringing en nie-toeganklikheid) uitdrukking aan die vooroordele waaraan anti-Afrikaanselemente ly.

Maar ons moet glo nie anti-Afrikaanselemente aan die kaak stel nie: “‘n Taalsentriese – en veral Afrikaans-sentriese – debat soos die een wat tans heers, doen Afrikaans geen guns nie. Veral die skerpheid wat soms uitdop [!], plaas Afrikaans weer in ‘n negatiewe raampie as ‘n taal wat mense uitsluit of vervreem. Dit is daarom baie belangrik dat die debat ‘n sterker mens-sentriese karakter kry en dat ons goed nadink oor die belange van alle Suid-Afrikaners.” Met daardie mens-sentries word eintlik bedoel dat ons taalbenadering sogenaamde benadeelde mens-sentries moet wees en dat daardie “alle Suid-Afrikaners” Afrikaners maar kan uitsluit, want hulle is in die ou Suid-Afrika bevoordeel en daardie bevoordeling word mos onverdund in die nuwe “nie-rassige nuwe Suid-Afrika” voortgesit. Die Maxistiese gebod is dat Afrikaners moet swyg wanneer Afrikaans vertrap word. Wim en sy meelopers moet dus toegelaat word om ongesteurd die US te verengels.

Ek weerhou my daarvan om in verdere besonderhede te skryf oor wat ek dink van die gesindheid wat De Stadler as ‘n Afrikaanssprekende blanke en daarby ‘n Afrikaanse taalkundige op hierdie tydstip in die geskiedenis van die Afrikaner en Afrikaans openbaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.