‘n Agtienjarige “belowende atleet” wat aan die Hoërskool Hugenote gematrikuleer het, sal Maandag in die landdroshof in Wellington verskyn in verband met die moord op die skrywer Winnie Rust.
Die skryfster wat verhale oor rassekwessies gepen het, is verlede Woensdag doodgemartel, vermoedelik deur die tiener wat sy gehelp het.
Volgens Noloyiso Rwexana, ‘n polisiewoordvoerder, is die vermeende moordenaar die naweek in hegtenis geneem deur die Wellingtonse speurtak nadat verskeie artikels wat by Rust gesteel is, in sy besit gevind is.
Die verdagte is die seun van die kleurlinghuishulp.
“Vir ons is dit nie ‘n prioriteit of haar moordenaar vasgetrek word nie,” het Rust se jonger broer, Chris van der Merwe (72), gesê nadat hy gehoor het die tiener is gevang.
Intussen is ‘n tweede verdagte ook vasgetrek vir die moord. Hy sal glo Dinsdag verskyn.
“Die polisie kan bevestig dat ’n 34-jarige verdagte ook vir Winnie se moord in hegtenis geneem is en in die hof sal verskyn sodra hy formeel aangekla word,” sê Rwexana.
Bure het Woensdagmiddag harde geluide uit die woonhuis van die egpaar hoor opklink. “Ons het harde geluide gehoor wat uit die huis gekom het,” het ‘n buurvrou aan Nuus24 gesê.
Maar die egpaar se kwaai Duitse herdershond, Max, het nooit geblaf nie.
Inwoners het gesê Rust het nie haar gru-dood verdien nie, omdat sy so uitermatig barmhartig was.
“Sy is die laaste mens met wie so iets moes gebeur en dit maak ’n mens nogal kwaad. Haar sagte manier van omgee het ‘n invloed op almal in die dorp gehad, of jy nou wit, swart of bruin is,” het ‘n vriendin van 30 jaar aan Nuus24 gesê.
Rust se vrygewigheid het van haar ‘n “rolmodel” gemaak, het sy gesê. Sy het glo dikwels kinders van alle rasse gehelp.
Nog ‘n kennis het haar beskryf as iemand met ‘n “fyn oog vir onreg”.
Verskeie bure het by navraag gesê hulle voel uiters onveilig op Wellington.
Een wit inwoner is ‘n paar maande gelede deur booswigte oorval wat voorheen in sy tuin gewerk het.
“Ons het drie jaar gelede van Johannesburg af hierheen getrek. My man het juis Woensdag nog gesê dat dit soveel veiliger hier as daar is, maar ek dink nie so nie. ’n Mens is nêrens veilig nie, nie eens in jou eie huis nie.”
Rust se drie kinders woon in die buiteland.