Weste stap uit Uganda se presidentsinhuldiging oor al-Basjir

Deel op

Amerikaanse, Europese en Kanadese verteenwoordigers het uit die inhuldiging van die Ugandese president, Yoweri Museveni in Kampala gestap.

Die Westerse lande het uit protes teen die teenwoordigheid van die Sudanese leier, Omar al-Basjir, die byeenkoms verlaat en omdat die Ugandese president die Internasionale Strafhof beledig het in sy toespraak.

Museveni het in sy verwelkomingstoespraak aan die begin van sy vyfde ampstermyn kritiek uitgespreek teen die ISS en hulle “‘n spul nuttelose mense” genoem.

Al-Basjir het die plegtigheid bygewoon ten spyte van ‘n internasionale lasbrief teen hom op klagtes van menseslagting.

Amnestie Internasionaal sê al-Basjir moet verantwoording doen vir menseregte-skendings en Uganda moet sy internasionale verpligtinge nakom.

‘n Onlangse hofuitspraak in Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse regering skerp gekritiseer oor die Soedannese leier se teenwoordigheid.

‘n Lasbrief is uitgereik om Al-Basjir in hegtenis te neem, maar Suid-Afrika het versuim toe hy hom verlede jaar in Johannesburg bevind het vir ‘n Afrika Unie-beraad.

Indië het ook geweier om die president in hegtenis te neem tydens sy besoek aan Nieu-Delhi in Oktober verlede jaar het die Internasionale Strafhof gesê.

Indië is nie ’n stigter-ondertekenaar van die Verdrag van Rome waardeur die hof tot stand gebring is nie, maar die hof voer aan dat Indië ’n plig het ingevolge ’n resolusie van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad.

Al-Basjir se immuniteit is volgens die internasionale reg opgehef, maar Afrikalande steur hulle nie aan die hof se uitsprake nie.

Al-Basjir het ongehinderd in Indië opgedaag vir ’n Indië-Afrika-beraad en is vriendelik deur premier Narendra Modi ontvang. Die twee het intussen samesprekings gehou.

Indië is die tweede grootste handelsvennoot van Soedan na China. Verskeie Indiese olie-, gas- en konstruksiemaatskappye werk in Soedan.

In Maart verlede jaar het die president ook Egipte besoek waar hy aan ‘n internasionale ekonomiese konferensie deelgeneem het en hy het China ook besoek sedert die lasbrief uitgereik is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.