‘n Administrasiegebou is aan die brand gesteek ná verskeie voorvalle van diefstal op die VUT-kampus in Vanderbijlpark vroeër hierdie week.
By Rhodes Universiteit in Grahamstad is grootskaalse brandstigting glo ter elfder ure afgeweer.
Studente van die Vaal Universiteit van Tegnologie het op loop gegaan teen Mafoko Sekuriteit, en beskuldig die private maatskappy van saamswering met misdadigers omdat hulle nie veiligheid op die kampus verseker nie.
Die polisie het gesê: “Eiendom is reeds beskadig, so ons probeer om die geweld wat daar plaasgevind het te onderdruk. Misdaad is reg voor die polisie gepleeg en dit is wat [hulle] probeer het om te onderdruk.”
Studente sê die sekuriteitsmaatskappy help misdadigers om toegang tot die kampus te verkry om hul eiendom te steel.
Bestuur by VUT sê hulle is altyd beskikbaar om betrokke te raak by studenteprobleme, maar is aanhoudend met vyandigheid begroet.
Die waarnemende adjunk-visekanselier Segopane Seroka het gesê die studente se reaksie op die bestuur se memorandum Dinsdag was om dit op te skeur en te verwerp.
Die Rhodes-universiteit sê intussen ‘n reuse poging tot brandstigting op die Grahamstad-kampus, is afgeweer.
Die vise-kanselier, Sizwe Mabizela sê twee brande is in die hoof administrasiegebou begin, maar ‘n veiligheidsbeampte kon daarin slaag om dit te blus voordat dit ernstige skade kon aanrig.
Hy het die poging veroordeel. Die polisie ondersoek die saak.