DANC, linkse HSM verhewig heksejag teen regter Mabel Jansen

Deel op

Suid-Afrika, wat een van die enigste lande ter wêreld is waar selfverklaarde kommuniste steeds in die regering dien en die Kommunisteparty deel van die regerende alliansie is, is besig om in Stalinistiese suiweringsveldtogte te verval. Nadat ‘n vroueregter van Pretoria, Mabel Jansen, haar in ‘n privaat Facebook-boodskap aan die marxistiese feminis, Gillian Schutte, oor die sadistiese kinderverkragtings deur swart mans uitgespreek het, is ‘n heksejag tans teen die regter aan die gang wat van uur tot uur verhewig.

Oënskynlik gaan dit daaroor om die regter te verwyder ten einde haar met meer polities gedienstige en antiwit regslui te vervang. Sowel die DA as die ANC, asook die hoofstroommedia, neem hieraan deel.

Volgens News24, het regter Mabel Jansen en die hoofregter Mogoeng Mogoeng, wat self ‘n Zuma-aanstelling is, “die minister versoek dat sy op spesiale verlof geplaas moet word”. Dit sou met ander woorde op ‘n skorsing neerkom. In die ou Suid-Afrika kon ‘n regter slegs met ‘n tweederdemeerderheid van die parlement verwyder word. Dit blyk egter dat ‘n burokratiese liggaam, die regterlike dienskommissie (RDK), oor die magte beskik om ‘n regter so te sê van haar amp te onthef of ten minste tydelik van die regbank te verwyder.

Nie net is Gillian Schutte, die linkse ekstremis wat die huidige veldtog van stapel gestuur het, bekend om haar wêreldvreemde haat vir blanke mans nie, maar sy spreek gereeld menings uit wat selfs dié van Julius Malema oortref sover dit nasionalisering van die ekonomie en straf vir “andersdenkendes” betref.

In ‘n brief wat inderhaas deur die RDK vrygestel is, word daar ‘n openlike aanval op die regter en haar bevoegdheid geloods deur dieselfde liggaam wat oor haar bevoegdheid as regter gaan oordeel. In die eerste paragraaf van ‘n brief oor die aangeleentheid, sê die kommissie:

“Die regterlike dienskommissie het met kommer kennis geneem van die openbare ontsteltenis, asook openbare en sosialemediadekking van die sosialemediaplasings van regter Mabel Jansen, ‘n regter van die Gautengse afdeling van die Hooggeregshof, Pretoria.”

Daarmee erken die kommissie dat hy hom laat lei deur die soort kuberstorm wat op kunsmatige wyse deur Gillian Schutte, News24, IOL en ander media aangeblaas word. Vandag het News24 ‘n video-onderhoud van nagenoeg 7 minute vrygestel waarin ‘n joernalis klakkeloos vrae aan haar stel, sonder enige kritiek, en sy toegelaat word om haar gewone propaganda oor die “boosheid van witheid” uit te saai.

Sowel die DA as die ANC, wat met mekaar wedywer om “rassisme” deur blankes aan die groot klok te hang, terwyl gruweldade soos verkragting deur swart mans goedgepraat word, het geëis dat regter Mabel Jansen moet bedank.

PRAAG loop tans ‘n meningsopname, aan die regterkant van praag.org, waarin die publiek gevra word om oor die aangeleentheid te stem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.