Zimbabwe sal sy eie weergawe van die Amerikaanse dollar druk om ‘n nypende kontanttekort in die land die hoof te bied.
Omdat die land meer moet invoer en baie minder uitvoer, wat ‘n handelstekort veroorsaak, is daar ‘n skaarste aan papiergeld.
John Mangudya, president van die sentrale bank, wil mense aanmoedig om rande te gebruik omdat handel met Suid-Afrika oorheers.
Hy het gesê die kontant sal gesteun word met US$200 miljoen van die Afreximbank in Kaïro.
Mangudya het gesê stappe word oorweeg om sy landsgenote te speen van die Amerikaanse dollar, en beperkings op hoeveel kontant op een slag uit die land geneem kan word, sal ook oorweeg word.
Die U$2, $10, en $20 note is vir dié doel ontwerp en sal dieselfde waarde as die Amerikaanse ekwivalente hê.
Zimbabwiërs gebruik die Amerikaanse dollar asook ander buitelandse geldeenhede soos die Suid-Afrikaanse rand en die Chinese yuan.
Zimbabwe het in 2009 die Amerikaanse dollar aanvaar ten koste van sy eie geldeenheid nadat hiperinflasie ingeskop het.
Daar is ‘n paar ander lande wat ook die Amerikaanse geldeenheid gebruik soos El Salvador, die Marshall-eilande, Mikronesië, Palau, en die Nederlandse gebiede wat Bonaire, Sint Eustatius, en Saba insluit.
Panama, Oos-Timor, en Ecuador se geldeenheid is ook aan die dollar gekoppel maar hulle het hul eie munte gedruk.