Moody’s gradeer SA af van stabiel na negatief

Deel op

President Jacob Zuma het die besluit van die graderingsagentskap Moody’s verwelkom om nie Suid-Afrika se oorhoofse kredietgradering te verlaag nie.

Moody’s het bevestig dat die land se kredietgradering dieselfde bly, maar egter gesê dat die uitkyk van stabiel na negatief verander is met ‘n Baa2-gradering.

Volgens Moody’s sal Suid-Afrika steeds twee kerwe bokant sub-beleggingsgraad gegradeer word.

Zuma sê die kredietagentskap se besluit toon dat die regering vordering maak met transformasie, maar die rand het weer teruggesak nadat dit aanvanklik effens herstel het toe die nuus uitgekom het.

Die sentiment op die markte was gemeng met vrese dat Fitch en Standard & Poor steeds die land se kredietgradering afwaarts kan aanpas.

Die agentskap het gesê Suid-Afrika is by ‘n keerpunt na ‘n paar jaar van dalende ekonomiese groei.

Die Internasionale Monetêre Fonds het intussen die ANC geloof vir hul verhoogde samewerking met die privaatsektor.

Die IMF sê dit kan die implementering van transformasie aanhelp en ekonomiese groei ondersteun.

Maar dit is nie seker of vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie by die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) oor Afrika 2016 in Rwanda hierdie week volkome sal herstel nie.

Beleggings in staatsinstellings deur die privaatsektor is Maandagaand op ‘n hoëvlakvergadering in Pretoria bespreek op die vooraand van die Rwanda-byeenkoms.

Zuma en sy adjunk, Cyril Ramaphosa het met bestuurshoofde van maatskappye en vakbondleiers by die Uniegebou in Pretoria vergader oor die kwessie.

Die president het van die maatreëls wat beleggersvertroue sal aanwakker, toegelig.

Die regering sê hy bly daartoe verbind om besteding aan energie, infrastruktuurontwikkeling, landbou en die veredeling van minerale te verhoog.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.