België sê nee vir Namibiese indringerbos

Deel op

Die Belgiese minister van energie, me. Annemie Turtelboom, is sterk gekant teen dié regering se subsidiëring van ’n kragstasie in die stad Gent wat elektrisiteit sal opwek met indringerbos uit Namibië.

Die Vlaamse dagblad De Morgen berig die rede hiervoor is die Namibies-­Israeliese sakeman mnr. Gershon Ben-Tovim, hoof uitvoerende beampte van Greencoal­ (Namibia) Limited wat die hout sal lewer, se vermeende bande met die Italiaanse Mafia.

Greencoal is in 2010 in Namibië geregistreer en die maatskappy se registrasienommer is 2010/0314.

Ben-Tovim was ’n sakevennoot van die omstrede Vito Palazollo wat tans tronkstraf in Milaan, Italië, uitdien vir sy betrokkenheid by die Cosa Nostra-­mafia se geldwassery-skandaal waarby US$80 miljoen se dwelmgeld betrokke was.

Belgian Eco Energy (BEE), die Belgiese maatskappy wat die kragstasie wil oprig, het na wat berig word ’n ooreenkoms met Ben-Tovim gesluit vir die verskaffing van biomassa uit Namibië om as grondstof in die opwekkingsproses te gebruik.

De Morgen het vroeër die week ’n “ingeligte bron” aangehaal wat gesê het die laaste ding wat die (Belgiese)­ regering wil doen, “is om miljoene se subsidie aan ’n buitelandse misdadiger te gee”.

Turtelboom het verlede Vrydag op grond van die inligting in ’n verslag oor Ben-Tovim se betrokkenheid, probeer om ’n stokkie te steek voor die subsidiëring van die kragstasie. Sy het egter nie genoeg steun daarvoor gekry nie.

BEE maak aanspraak op subsidie van meer as 2 miljard euro oor die volgende 15 jaar vir dié projek en is van voorneme om ’n kwart van die biomassa wat vir opwekking gebruik gaan word, uit Namibië in te voer.

’n Groot deel van dié subsidie sal volgens die berig in De Morgen aan­gewend word om Ben-Tovim vir die lewering van die indringerbos te betaal.

Ben-Tovim en Palazollo se­ ­sakebande strek terug tot kort ná Namibië se onafhank­likwording.

Hulle het in die negentigerjare saam ’n volstruisbroeiery op Palazollo se plaas naby Omaruru begin. In 1995 het Palazollo vir hom geld geleen om ’n diamantmyn in Rusland te koop.

Verder het hy eksklusiewe regte bekom om diamante in Diamantgebied 1 tussen Oranjemund en Bogenfels te ontgin.

Die Instituut vir Sekuriteitstudies (ISS) het vroeër in ’n verslag oor geörganiseerde misdaad in Namibië sy bedenkinge uitgespreek oor waarom een van die mees winsgewende konsessies binne ’n De Beers-diamant­gebied aan ’n buitelander soos Ben-Tovim toegeken is.

Volgens die instituut se verslag het hy ook bande gehad met August 26, die kommersiële arm van die Namibiese weermag.

De Morgen berig Ben-Tovim se naam duik ook op in skandaal waarin die Britse parlementariër Tony Baldry daarvan beskuldig is dat hy in 2012 sy invloed gebruik het om ’n ­diamantonderneming in Sierra Leone wat aan eersgenoemde behoort, van die swartlys in dié land te haal. Baldry is glo 65 000 euro daarvoor betaal.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.