Matthew Theunissen teken amptelik verskoning aan vir gebruik van ‘K-woord’

Deel op

Matthew Theunissen, die nagraadse student wat uit protes teen rassekwotas in sport op Facebook gesê het, “die land word deur ‘n spul kaffers regeer”, het nou via sy vader se prokureur amptelik verskoning aangeteken. Sy skrywe, wat aan “sy edele minister Fikile Mbalula, die mense van Suid-Afrika, die regering van Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie” gerig is, heet “Ope brief (en) onvoorwaardelike verskoning”.

In die brief, wat op Engels vrygestel is, en elders op PRAAG in die oorspronklike te lese is, druk hy sy spyt uit oor sy verklaring op Facebook “wat ‘n invloed op sy lewe had, maar belangriker, die uiterste leed en belediging aan ander aangerig het”. Hy bied “onvoorwaardelik verskoning vir sy gedrag, sy taalgebruik, rassistese opmerkings [aan] en die wyse waarop hy in dié oomblik sy gevoelens verwoord het”.

Terwyl Theunissen se oorspronklike uitbarsting veral teenoor die minister van sport, Fikile Mbalula, geskied het, bied hy nou insgelyks ‘n verskoning aan die minister aan deur te sê:

“Minister, u het ontelbare pogings aangewend en vordering in die departement van sport en ontspanning gemaak om Suid-Afrika te verenig en om grondwetlike waardes hoog te hou wat daarop gerig is om Suid-Afrika die groot nasie te maak wat dit is.

“Dit ly geen twyfel dat my verklaring aanstootlik was nie, en sou, in weerwil van u posisie, u persoonlik leed aandoen. Daar is geen verskoning vir my om die taal te gebruik wat ek wel gebruik het nie, en ek kan my bloot beskikbaar stel aan u, u genade en raad oor hoe ek kan begin om die skade wat ek u berokken het, reg te stel.”

Teenoor die ANC-bewind, wat enkele dae tevore nog ‘n klomp swartnerwe en “d*se” was, bied Theunissen insgelyks verskoning aan deur te sê:

“Ongeag (my) politieke posisies en mening, is my gedrag onverskoonbaar en my verklarings oor u ongegrond. Ek het geen idee wat dit behels om ‘n land te bestuur nie, wat nog te sê om mense van ‘n apartheidsbewind na vryheid te neem nie. My gedagtes word toegeskryf aan ‘n grondige gebrek aan begrip en my verklaring was nie net in swak smaak nie, maar blatant oneerbiedig. Ek vra opreg om verskoning daarvoor.”

Intussen het die kleurlingrubriekskrywer Eusebius McKaiser geweier om Matthew Theunissen se verskoning te aanvaar en gesê hy beskou hom steeds as ‘n “rassis”.

Onder andere skryf McKaiser in sy rubriek op IOL:

“Die woord ‘kaffer’, vrees ek, is so uniek gelaai met minagting, kwaadwilligheid, haat en boosaardigheid dat niemand wat nie ‘n rassis nie, dit sou gebruik nie.”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.