Karel Combrinck: Suid-Afrikaanse ‘demokrasie’ is reg vir die slopemmer

Deel op

Soos ons teen hierdie tyd seker almal weet, is demokrasie die godsdiens van die dag. Demokrasie het nie vir alle mense, te alle tye en op alle plekke dieselfde betekenis nie. So het die lakeistate van die Sowjetunie hulleself sonder om te blik of te bloos Demokratiese Republieke of Volksrepublieke genoem. Van die lande wat nog steeds as demokratiese republieke of volksrepublieke bekendstaan, is Sjina, Noord-Korea, die Kongo, Laos, Algerië, Sri Lanka en Ethiopië. Onder dié wat in die verlede so bekend gestaan het is : Oos-Duitsland, Roemenië, Joegoslawië, Georgië, Tsjeggoslowakye, Pole , Albanië, ens., nie juis regimes waarmee ordentlike mense in die openbaar gesien sou wou wees nie.

‘n Demokratiese- of volksrepubliek is een waar die regering geskied deur ‘n handjie vol potentate of ‘n kliek wat hoofsaaklik daarop uit is om hulleself te verryk en te bevoordeel. Die Sowjette en hulle satelliete het hierdie regerende kliek genoem die apparatsjieks of die nomenklatoera.

Een van die kenmerke van ‘n regering deur apparatsjieks is dat hulle nasionalismes en minderhede binne hulle grense meedoënloos onderdruk. ‘n Verdere eienskap is dat hulle geen werklike politieke opposisie duld nie. Dis óf die kommunistiese party óf niks.

Suid-Afrika is, hoewel nie amptelik so genoem nie, in wese tog duidelik ook ‘n «demokratiese» republiek . Dis ‘n republiek waar die enigste kwalifikasie om te regeer ‘n swart vel is. Politieke partye bestaande uit wittes, of waarin daar ‘n betekenisvolle wit verteenwoordiging is, word nie noodwendig verbied nie, maar word deur ‘n oorwig swart velle outomaties van enige deelname aan die landsregering uitgeskakel.

Wat beteken die woord demokrasie dus in Suid-Afrika ? Dit beteken gewoon permanente regering deur ‘n ANC-kliek. Demokrasie beteken swart en swart beteken ANC.

Pas het ons verneem dat ‘n Moslem tot burgemeester van Londen verkies is. Dit lyk na een van twee dinge : óf die meerderheid bruikbare idiote het vir die Moslemkandidaat gestem, óf die Moslems maak nou in Londen die meerderheid uit en ‘n Moslemkandidaat is daar nou ook van ‘n outomatiese meerderheid verseker. Die posisie is nou dat in die hoofstad van die eens magtigtige Britse ryk, geen ander kandidaat vir ‘n burgemeestersverkiesing gevind kan word nie as ‘n Jood en ‘n Mohammedaan en dat die getalle-oorwig noodwendig ‘n Moslemburgemeester beteken. Dit kom van politiek korrek wees en linkse media klakkeloos napraat en nadoen. Dit lyk werklik asof die produk van breinspoeling, die nuttige idioot, ons voortbestaan op die aardbol op demokratiese wyse gaan vernietig.

Die Amerikaners woon nou al tien jaar onder ‘n swart president danksy nuttige idiote enersyds en outomatiese meerderhede andersyds, maar danksy, boweal, die demokrasie.

Sinies beskou, is die demokratiese stelsel gegrond op ‘n massa konformerende en manipuleerbare idiote. Churchill het op ‘n keer die kwinkslag kwytgeraak : «The best argument against democracy is a five-minute conversation with the average voter.»

Plato het gesê dat tirannie heel maklik ontwikkel uit die demokrasie. En omdat die moderne demokrasie ‘n situasie is waar bloot koppe getel word, maak dit Plato se stelling net nog meer waar. ‘n Regeringsmodel wat berus op getalle en dus op massas, sit logieserwyse sonder moeite om in ‘n diktatuur waar die massas as onderbou dien vir die ambisies van ‘n handjie vol uitbuiters. Aangesien ons in ‘n krimpende wêreld lewe waar skeidslyne en grense al hoe meer vervaag en waar die wêreld ontwikkel in, soos dit genoem word, ‘n «global village», gaan dit beteken dat hulle wat die getalle het, noodwendig die aarde gaan beërwe en ons weet mos wie hulle is. Wie kan nog onthou hoe Nelson Mandela gebulder het: «We have got the powa, bacause we have got the nambas?» Met demokrasie van hierdie aard is die Westerse beskawing en die Westerse mens gedoem om te verdwyn.

En dan loop die moderne demokrasie en die groot geldmagte ook hand aan hand. Karl Marx het iewers gesê die demokrasie is die produk van die bourgeoisie. Bourgeoisie was Marx se term vir grootkapitaal. Wat hy daarmee bedoel het, is dat die grootgeld die moderne demokrasie geskep het ten einde sy poel van potensiële winste uit te brei. En, natuurlik noudat die Europese volkree, die Duitsers, die Franse en die Engelse se getalle nie meer noemenswaardig groei nie, probeer die grootgeld om hulle winspoel te vergroot deur immigrante in te bring en basters van hulle te maak. Maar hierdie is miskien ‘n onderwerp vir ‘n afsonderlike artikel.

Dog daar is ook ‘n meer idealistiese siening. Op sy beste is ‘n demokrasie ‘n bestel wat minderhede beskerm, wat vryheid van mening en spraak maksimaal toelaat, wat die onafhanklikheid van die regbank te alle tye waarborg, wat geregtigheid aan al sy mense bied, wat landsburgers teen misdaad en geweld verweer, wat gelyke behandeling gee aan alle etnisiteite en godsdienste, insluitende dus die reg om om hulle kinders op te voed in die taal van hulle keuse en wat allermins «ongeregtighede van die verlede» uitbuit om wraak te neem en een groep bo die ander te bevoordeel. Is so ‘n demokrasie in Suid-Afrika moontlik ? Dis onwaarskynlik dat Suid-Afrika, met sy bevolkingsamestelling en geskiedenis, ooit ‘n werklike demokrasie kan wees.

As ons dan nie so’n demokrasie is nie en dit nie kan word nie, as ons inteendeel ‘n demokrasie het wat ons onderwerp aan die tirannie van getalle en wat bloot ‘n voorwendsel is vir die élite van een bepaalde ras om hulleself aan ongekende rykdomme te vergryp, wil ons dan hoegenaamd ‘n demokrasie wees ? Die Bybel sê, as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit. Die Bybel sê ook die mens is nie gemaak vir die Sabbat nie, maar die Sabbat vir die mens. So is die mens ook nie gemaak vir die demokrasie nie, maar die demokrasie is gemaak vir die mens. Dus, as die «demokrasie» jou laat struikel, trek dit uit soos ‘n vuil en verslete jas en smyt dit in die slopemmer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.