Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Nuwe laagtepunte

Deel op

Wim de Villiers se eerste jaar as rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) is deur ongeëwenaarde politiekery gekenmerk. Om hoop vir daardie universiteit se toekoms te probeer vind, het ek onwillekeurig aan die volgende Bybelvers gedink: “‘n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ‘n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jesaja 42:3).

De Villiers het op 1 April (Gekkedag) reeds ‘n jaar lank die pos van rektor beklee. Asof dit ‘n datum met positiewe assosiasie in die US se geskiedenis is, het hy die geleentheid gebruik om ‘n oorsig van sy prestasies en van die oorblywende “uitdagings” (‘n gewilde ANC-woord) te gee (US-webwerf, 8 April, en Die Burger, 13 April, p 5). Hy maak gewag van die huidige hersiening van die taalbeleid, wat deur hom pleks van die US-raad (soos dit hoort) geïnisieer is. Hy beweer dat hy “veeltaligheid sonder uitsluiting” beoog. Dit behels dat Engels die oorheersende onderrigtaal word en dat Afrikaans tweede viool moet speel. De Villiers weet dat sy standpunt strydig is met die uitdruklike voorwaarde van Jan Marais se skenking, wat in 1918 die ontstaan van die US moontlik gemaak het. De Villiers as mens van die oomblik verwerdig hom nie eens om sy onetiese en minagtende gedrag jeens Marais se vrygewigheid te probeer regverdig nie.

Toe hy nog vir die rektorskap geaspireer het, het De Villiers die keurkomitee verseker dat die posisie van Afrikaans vir hom ononderhandelaar is. Sedert sy aanstelling doen hy egter alles in sy vermoë om Engels die hoof- en mettertyd heel moontlik die enigste US-onderrigtaal te maak. Afrikaans is die slagoffer van sy transformasiemanie. Transformasie beteken wesenlik die bevoordeling van nie-wittes en die benadeling van blankes. De Villiers verwag van almal op die US-kampus dat hulle oor transformasie net so oorentoesiasties soos hy moet wees. Veertig persent van die grade wat onlangs toegeken is, was aan nie-wit studente. As ANC-gedienstige is dit dié etniese sektor wat De Villiers bowenal ter wille wil wees. Om hierdie nie-akademiese, suiwer rasgebaseerde rede moet Afrikaans afgeskaal word.

De Villiers spog: “Transformasie is eksplisiet na topbestuursvlak verhef en ‘n transformasiekantoor is op die been gebring.” By ‘n vorige geleentheid het hy gespog dat hy van ‘n uitstekend gekwalifiseerde en uitmuntende akademikus ontslae geraak het omdat hy hom glo aan “rassisme” skuldig gemaak het. Dit is eintlik onnodig om te sê dat die betrokke persoon blank is. Dit is ook bekend dat De Villiers ten gunste van die knaende vervolging van Wouter Basson is. Basson is ‘n medikus wat terrorisme bestry het. Nokosazana Dlamini-Zuma is ‘n medikus wat onder die dekmantel van mediese werk terrorisme vanuit Lesotho in Suid-Afrika bevorder het. De Villiers steun optrede teen Basson maar wend geen poging aan om ‘n klag teen Dlamini-Zuma by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika te lê nie.

Dit toon duidelik hoe radikaal links De Villiers se politiek is. Ten spyte van al die onrus wat tydens die kort bestek van sy dienstermyn op die kampus gestook is, het hy nog nooit daarop aanspraak gemaak dat ‘n enkele sodanige student geskors is nie. Miljoene rande se skade is aan universiteitseiendom aangerig, maar De Villiers het nog geen geluid gemaak oor wat gedoen word om die skade van die misdadigers te verhaal nie. Dít terwyl die US veronderstel is om ‘n opvoedkundige inrigting te wees.

Dit is heeltemal onnodig om ‘n transformasiekantoor en sodanige personeel en indoktrinasiekursusse te hê. Dit verg hope geld wat eerder vir akademiese doeleindes aangewend kon word. Die gruwelike werklikheid van die nuwe Suid-Afrika is aan ons opgedring sonder die nodige mandaat van die blanke kiesers. Al transformasie wat aan die US nodig was, was enersyds om nie-rassige studente-toelating toe te laat en andersyds personeellede op ‘n nie-rassige grondslag aan te stel en te bevorder. Al die ander benoude, ANC-gedienstige transformasiespronge was en is onnodig en suiwer akademies onregverdigbaar.

Aan die De Villiers-US is die grondliggend strewe gedwonge rasse-integrasie, wat egter deur die aanwesigheid van twee onderrigtale in die wiele gery word, soos Russel Botman erken het (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 205). Lis Lange, ‘n viserektor aan die Universiteit Vrystaat (UV), het pas ook erken dat Afrikaans die slagoffer van integrasiedwang is (“Dis g’n politieke besluit”, Netwerk24, 6 Mei; tipies Naspers beweer die opskrif die teenoorgestelde).

Die veramerikaanste De Villiers het in sy intreerede as rektor ‘n swart vrouestudent as navolgenswaardige voorbeeld voorgehou, hoewel daar akademies min uitsonderlike verdienstelikheid in daardie geval was. Daarna het hy dieselfde met ‘n bruin vrouestudent gedoen, al was die akademiese substansie weereens karig. Gestel daar is aan die US ‘n blanke student, Jan van der Merwe, wie se pa op sy plaas met ‘n pik doodgekap en wie se ma met ‘n byl vermoor is. Klein Jannie is toe deur sy oupa en ouma in armoedige omstandighede grootgemaak. Toe hy skaars groot genoeg was, moes Jannie koerante verkoop* om voortgesette skoolbywoning moontlik te maak. As student moet Jan vakansies as kelner op die treine werk omdat die US baie studiebeurse uitsluitlik vir toekenning aan nie-wittes het, maar dit is die uitgesproke beleid dat geen studiebeurs spesifiek vir blankes gereserveer mag word nie. Dink enige leser dat iemand met die ideologiese ingesteldheid van De Villiers die geval Jan van der Merwe as voorbeeld aan US-studente sal voorhou? Ek dink nie daar is ‘n kat se kans nie. De Villiers sal net doen wat die lakmoestoets van politieke korrektheid slaag. Diegene wat ANC-meelopers is en politieke korrektheid aanhang, weet in baie gevalle nie eens dat die frase “politieke korrektheid” in 1922 deur Lenin geskep is nie. Slaafse navolging van die kommunisme was vir Lenin sinoniem met politieke korrektheid. As ‘n mens dogmaties ANC-gesind is, moet jy heelwat kommunisme kan verduur.

[* Wyle Wynand Mouton was die beste rektor vir wie ek gewerk het. Hy het die hoogste akademiese sport bereik omdat rektore toe, sekerlik in groter mate as tans, om akademiese redes (en nie om politieke redes nie) aangestel is. Mouton het op ‘n vroeë ouderdom sy pa aan die dood afgestaan. Hy moes in Bloemfontein se strate koerante verkoop om sy studie aan die Universiteit (Oranje-) Vrystaat moontlik te maak. Hy was die toonbeeld van onbesproke akademiese kwaliteit. Oor so ‘n man sal ek roem. Maar prestasie soos dié van Mouton word deesdae as blanke bevoorregting afgemaak.]

Hermann Giliomee skryf oor die oud-Matie Hendrik Verwoerd: “Hy was die eerste student in Suid-Afrika wat sy studies, van sy voorgraadse eksamens tot sy doktorale proefskrif, in Afrikaans geskryf het” (Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 27-28). Sal De Villiers om suiwer akademiese redes Verwoerd as navolgenswaardige voorbeeld aan US-studente voorhou? Volstrek nie, want aan die De Villiers-US geniet politiek voorkeur bo akademiese oorwegings. Daarom is daar nie meer ‘n Verwoerd-gebou nie en De Villiers het selfs van die verwydering van die oorblywende Verwoerd-gedenkplaat ‘n openbare skouspel ten koste van blankes en die US van weleer gemaak. De Villiers word deurlopend deur sy politieke preokkupasies gekortwiek sodat hy akademies nie die regte ding doen nie.

Die mate waarin die US hom deesdae van Afrikaans distansieer kan waargeneem word deur die aankondigings van professorale intreeredes op die US-webwerf dop te hou. Feitlik geen intreerede word meer in Afrikaans aangebied nie, terwyl daar baie professore met Afrikaanse vanne (bv Van der Merwe) betrokke is. Myns insiens sal De Villiers nie aanbeveel dat professore dit moet oorweeg om hulle intreeredes in Afrikaans of tweetalig te lewer nie. Hy sal ook nie ‘n versoek rig dat magisterverhandelinge en doktorale proefskrifte in groter mate in Afrikaans geskryf moet word nie. Sy argument as wêreldburger* is waarskynlik dat Engels ‘n (self dié) internasionale akademiese taal is. Verhandelings en proefskrifte word egter nie by uitstek deur bv vakgenote gelees nie, maar eerder artikels voortvloeiend uit daardie tesisse. Die tesisse kan dus in Afrikaans geskryf word, terwyl (sommige van) die artikels in Engels gepubliseer kan word. Maar die Afrikaanse vaktaal behoort uitgebou te word, in voorlesings, klasaantekeninge, artikels in plaaslike vaktydskrifte, ens. Maar dit is te betwyfel of De Villiers ooit so ‘n akademies sinvolle lansie vir Afrikaans sal breek. [* “Cosmopolitanism is the shedding of all that makes one most human, most oneself” (Isaiah Berlin, Against the current, Oxford University Press, 1981, p 12).]

Dit is bekend dat daar die ongesonde neiging is om laer akademiese standaarde aan nie-wit studente, veral swartes, te stel; by toelating en ook tydens die studietermyn. ‘n Rektor is veronderstel om in die eerste plek eerder akademiese as administratiewe leiding te gee. Dit is dus eintlik De Villiers se dure plig om dosente periodiek te versoek om akademiese standaarde te handhaaf, des te meer omdat skoolonderrig in die nuwe Suid-Afrika dramaties versleg het en die standaarde vir studentetoelating by universiteite weens politieke druk op ‘n uiters dwase manier insgelyks drasties verlaag is. Maar dit is ook ‘n tragiese feit dat weens omgekeerde rassediskriminasie voorkeur aan gegradueerde swartes bo wittes by aanstellings en bevorderings gegee word. As werkgewer stel die US in hierdie opsig self ‘n uiters bedenklike voorbeeld.

Wat ‘n rektor dus behoort te doen, is om nie net klem op die handhawing van akademiese standaarde te lê nie, maar om ook te vereis dat dieselfde standaarde vir alle etnisiteite moet geld. Selfs dat as hiervan afgewyk word dit moet wees om eerder hoër pleks van laer standaarde aan swartes te stel omdat swartes voorkeur by aanstellings en bevorderings kry en hulle funksionering in die werkplek dus in groter mate die akademiese aansien van die universiteit bevoordeel of benadeel. Maar ek dink nie daar is ‘n kat se kans dat De Villiers in hierdie opsig die akademies regte ding sal doen nie. My voorstel is na sy smaak seker te polities inkorrek en te sterk pro-akademie.

Tydens Russel Botman se rektorskap het die US volstrek geweier om enigiets met ‘n studiebeurs uitsluitlik vir toekenning aan blankes te make te hê. Dus, behoeftige blanke studente moet eerder die geleentheid vir universitêre studie en die potensieel lewenslange voordele daarvan ontsê word as om ‘n verderflike beginsel prys te gee. Kader Asmal het as onderwysminister dieselfde gedoen. Hy het staatsgeld misbruik om ‘n hofuitspraak te verkry sodat die bepaling dat ‘n studiebeurs vir blankes gereserveer word, opgehef kon word. Daardie beurs word nou aan enigeen toegeken in weerwil van die uitdruklike wense van die donateur. Waarom kan De Villiers dan nie maar ook Jan Marais se wense ignoreer nie? Die norm is blykbaar dat die wense van blankes goedsmoeds geïgnoreer mag word, asook enige maatreël (bv Afrikaans as onderrigtaal) wat tot die voordeel van wittes kan wees.

Daar kan geen twyfel wees nie dat De Villiers hom nie net aan anti-Afrikaansmaatreëls skuldig maak nie, maar ook die toekenning van studiebeurse eksklusief aan nie-wittes (soos Die Vlakte-beurse) ondersteun. Ek is bewus van ‘n oud-Matie wat al jare lank met die US onderhandel oor ‘n studiebeurs wat hy aan blanke studente wil toeken, maar die US is nie vir sodanige etniese voorwaarde te vinde nie. Dus weereens, die mentaliteit van die De Villiers-US is geen studiebeurs eerder as ‘n beurs waaruit net blanke studente voordeel kan trek.

Daar is instansies wat hou van wat De Villiers doen. Die Harry Crossley-stigting het R500 000 aan De Villiers geskenk vir sy “leierskap” in 2015. Hier bo het ek ‘n aanduiding gegee van wat De Villiers-leierskap onder meer behels. In sy intreerede het De Villiers aangekondig dat hy studiebeurse gaan instel vir die oud-inwoners van Die Vlakte en hulle nageslag. Bruin mense is destyds ingevolge die Wet op Groepsgebiede uit Stellenbosch se middedorp verskuif. Wat De Villiers met hierdie Die Vlakte-studiebeurse regkry, is om hom enersyds te distansieer van die destydse blanke regering (terwyl hy in die openbaar geen woord teen die ANC-regering spreek nie) en andersyds om nog studiebeurse uitsluitlik vir nie-wittes in te stel. Hierdie eksklusiewe studiebeurse lê volgens eie erkenning vir De Villiers so na aan die hart dat hy daardie halfmiljoen rand afkomstig van die Crossley-stigting in hierdie Die Vlakte-studiebeursfonds gestort het (US-webwerf, 18 April, en Die Burger, 19 April, p 4). Hierdie gebaar kom van De Villiers wat graag verkondig dat hy die US meer inklusief wil maak, maar blankes mag maar van voordele uitgesluit word.

Op 29 April is De Villiers se intreerede op die US-webwerf in herinnering geroep. Hy was toe, asof hy ‘n ANC-minister is, weer oorsee. Die vraag is of hy ook teen die duurste tariewe reis en luukse verblyf aanvaar. My voorstel is dat hy in die ekonomiese klas vlieg en in drie- pleks van vyfsterhotelle tuisgaan. Die verskil in koste kan en behoort in ‘n studiebeursfonds uitsluitlik vir blanke Afrikaanssprekende studente gestort te word; daardie studente wat Jan Marais in gedagte gehad het toe hy die stigting van die US moontlik gemaak het. De Villiers kan so iets met min moeite en bitter min opoffering doen. As hy net absoluut noodsaaklike amptelike reise wat beduidende voordele vir die US inhou, onderneem, kan die volle bedrae wat andersins in reis- en verblyfkoste gesink sou word in my voorgestelde Afrikaner-beursfonds gestort word. Die US se belange behoort immers voorop gestel te word en by ‘n universiteit behoort dit in die eerste plek eerder om akademies verdienstelike studente as eiebelang en -gerief te gaan. (Ek onthou dat daar ‘n tyd was toe die direkteur van die Staatsbiblioteek in Pretoria op amptelike buitelandse reise gegaan het terwyl daar gekerm is dat daar geen geld vir die aankoop van nuwe boeke beskikbaar was nie. Ek vra toe waarom sodanige reis- en verblyfgeld nie liewer aan boeke bestee word nie. Die antwoord was: “Jy praat nou van twee heeltemal verskillende rekeninge.”)

Daar is myns insiens ongelukkig nie ‘n kat se kans dat De Villiers ‘n halfmiljoen rand of enige bedrag uitsluitlik tot voordeel van blanke en veral Afrikaanssprekende studente, sy etniese genote, sou bewillig nie. Hoe het hierdie radikale ontaarding plaasgevind by iemand wat in ‘n Afrikanerhuis grootgeword het? Kan meer as twee dekades in die buiteland iemand dermate kultureel ontspoor? Die ANC was ‘n ondergrondse terreurgroep voordat FW de Klerk hulle bogronds losgelaat het. Maar wat De Villiers nog sal agterkom, is dat ongeag of sy ANC-kamerade onder- of bogronds funksioneer, hulle nie die Afrikaner se wortels kan saboteer of die Afrikaner en Afrikaans sal uitroei nie. “To be rooted is perhaps the most important and least recognised need of the human soul” (Simone Weil, The need for roots, London: Routledge, 1978, p 41).

Die direkte aanleiding vir my skrywe was eintlik die berig dat die Universiteit Witwatersrand (Wits) R45 miljoen gaan bestee om swart dosente aan te stel (Praag 29 April). Die motivering is klaarblyklik polities, want daar bestaan geen wetenskaplike bewys dat swartes beter akademici as wittes is nie; eerder die teenoorgestelde. Aan die De Villiers-US is R70 miljoen vir hierdie doel bewillig en daarby veral vir die aanstelling van senior akademici, dus nie-wittes wat feitlik noodwendig geen ondervinding van die akademiese lewe het nie. Soos Jonathan Jansen aan die Universiteit Vrystaat sou De Villiers sekerlik graag akademici uit die res van Afrika wou trek (hoe swarter, hoe beter), maar dit is in werklikheid hoogs immoreel om Afrika van sy glad te min gekwalifiseerde akademici te beroof; om van akademies bekwame dosente in Afrika nie te praat nie. Wie sou voor die verraad van 1990/1994 in sy wildste drome kon dink dat hierdie land dermate ideologies omgedop sou word dat die US sterker anti-akademies en meer pro-swart as Wits sou word? Maar De Villiers het dit reggekry.

Die ANC-gedienstige transformasiepad wat die De Villiers-US loop, is wesenlik dieselfde as die van die Universiteit KwaZulu-Natal (UKZN) en die Universiteit Kaapstad (UK), waaroor RW Johnson so indringend geskryf het (“Can UCT be allowed to die?”, Politicsweb, 29 April; Russell Ally het op 5 Mei hierop gereageer). By hierdie drie universiteite is daar geen aardverskil wat transformasie betref nie; hoogstens ‘n graadverskil. Byvoorbeeld, in die plek van UKZN se Zoeloe-manie, het die UK en US ‘n akademies onregverdigbare Xhosa-manie. By geen universiteit bestaan daar egter ‘n ononderhandelbare Afrikaans-manie nie.

Deesdae word daar dikwels oor die verkragtingskultuur op die US-kampus geskryf. Dit is ‘n verskynsel wat aan die US van weleer onbekend was. Hierdie nuwe kultuur kan as een van die vrugte van transformasie beskou word. Maar daar is ‘n ander nuwe kultuur wat veel meer fundamenteel is en baie groter sorg behoort te baar, naamlik die verkragting van gesonde akademiese lewe op Stellenbosch. Geen universiteit kan op akademiese eerbaarheid aanspraak maak as studentetoelating, studiebeurstoekenning en die aanstelling en bevordering van dosente op rasse- en geslagsgronde pleks van suiwer akademies geskied nie. As regverdiging vir hierdie dwaasheid word geskuil agter heeltemal onnodige ras- en geslagsteikens of -kwotas wat blankes en mans en by implikasie die US doelbewus akademies benadeel. Vir hierdie soort leierskap het De Villiers R500 000 ekstra ontvang.

Wat De Villiers bedryf, is wat Julie Burchill “paint-box politics” noem: “Issues were judged by colour: white was bad, brown or black were good – an inverted racism was operating” (The Independent, 3.03.2011). Waar daar ‘n skewe wil is, is daar deesdae ‘n weg. As die vergoeding buitensporig genoeg is, raak die gewete stil. Eers as De Villiers as bejaarde inwoner op ‘n weelderige ouetehuis se stoep in die sonnetjie sit, sal hy hopelik probeer om eerlike antwoorde op hierdie vier vrae te vind: Wat het ek ter bevordering van gesonde akademie gedoen? Wat het ek vir my eie mense gedoen? Wat het ek ter behoud van die Afrikaner en sy kultuur gedoen? Wat het Afrikaans my aangedoen dat ek hom so graag wou vernietig?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.