Duitse verskoning vir Namibiese volksmoord vorder

Deel op

Die Namibiese en Duitse regerings het Woensdag by ’n mediavergadering in Berlyn saamgestem dat geskiedkundige onregte soos die volksmoord wat Duitsland gepleeg het, “reggestel” moet word.

Die lande het ook ooreengekom op ’n onderhandelingsproses wat “voor­delig vir albei lande en mense” is.

Dr. Zed Ngavirue, Namibië se spesiale gesant vir die Duits-Namibiese dialoog oor die volksmoord tussen 1904 en 1908, was verlede week saam met ’n regeringsafvaardiging in Berlyn vir samesprekings met die Duitse spesiale gesant, mnr. ­Ruprecht Polenz.

Die afvaardiging het ook met die president van die Duitse parlement, dr. Norbert Lammert, en die minister van buitelandse sake, dr. Frank-Walter Steinmeier, vergader.

Die Duitse ambassadeur in Namibië, mnr. Christian Schlaga, het Donderdag in Windhoek aan joernalsite gesê die hoëvlak-vergaderings is ’n aanduiding dat Duitsland die algehele konteks van die besprekings “baie ernstig” opneem.

“Dit was ’n doelbewuste sein oor hoe belangrik die onderhandelinge is en dat dit volle steun op die hoogste politieke vlakke geniet,” het Schlaga gesê.

Schlaga het gesê die kwessies van ’n formele verskoning vir die volksmoorde en vergoeding sal binne die raamwerk van onderhandelinge hanteer word.

“In die regte konteks sal Duitsland bereid wees om verskoning te vra,” het hy gesê.

Die huidige Duitse regering is van plan om dit af te handel voor sy algemene verkiesings aan die einde van aanstaande jaar.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.