4 Mei, Cassingadag: ‘n Ope brief aan genl. Constand Viljoen

Deel op

Geagte generaal, u is bekend daarvoor dat u nie ‘n deurslaggewende staatsveiligheidsoperasie sou uitvoer, indien die vrou en kinders van ‘n invloedryke vyand soos Chris Hani moontlik daarin kon omkom nie. (Vandag hou Hani se vrou vir Janusz Waluś in die tronk, en is sy magtiger as die hof, danksy u destydse besluit.)

Uit daardie oogpunt is die groot Cassinga-sukses vandag ‘n verlore slag, want sy dit SWAPO, FAPLA of u eie 32 Bataljon, feit is gister, vandag en môre: meeste manssoldate wat lank in die bosoorlog bly sonder gereelde rotasie terug na hulle gesinne en metgeselle, slaap snags tydens militêre diens saam met vrouens in hulle basis. U het dit self by u eie 32 Bataljon gesien.

Dog by Namibië se Cassingadagherdenking, bly in ‘n mate vir sommige ou Suid-Afrikaanse soldate behoue die herinnering aan een van die mees moderne en vermoënde militere afstandoperasies ooit in Afrika.

Sou Suid-Afrika vandag nog sulke broodnodige militêre vermoëns gehad het soos onder u, sou die land se weermag vrede en vooruitgang vir die DRK, Angola, Mosambiek en Zimbabwe verseker het, en sou die hele SAOG, oftewel Suider-Afrikaanse streek, se ekonomie nou ten minste twee keer groter gewees het.

‘n Vooruitstrewende ekonomies geïntegreerde Suider-Afrika wat internasionaal na potensiaal presteer, is prakties onmoontlik sonder u SAW en ‘n hoof van die SAW soos u.

U weet vir seker dat bogenoemde waar is, en daarom het u na u aftrede die skyn van moderne militëre vermoë en mag gebruik om van die nuwe Suid-Afrika ‘n sukses te probeer maak, maar u missie het misluk, omdat u teen daardie tyd net ‘n beroemde generaal in naam was, en nie meer regtig die hoof van die SAW nie.

As hoof van die magtige SAW tot in 1985, was u die magtigste man in Afrika, en dus die mees invloedryke, belangrikste mens, met verre die meeste verantwoordelikheid in Afrika, vir destyds, en vir vandag.

U het op bloedjong ouderdom ten minste tien jaar voortydig en vrywillig as die magtigste en belangrikste man in Afrika sonder enige weerstand of rasionele rede afgetree, en sedert daardie dag van u polities ondeurdagte aftrede, vaar die hele Suider-Afrikaanse subkontinent al hoe verder weg van sy ekonomiese en politieke potensiaal, met verskriklike gevolge vir honderde miljoene mense.

Ek is persoonlik baie lief vir u, en is baie bly dat u my nie geneutraliseer het, toe ek u beskermde basis in ‘n geheime oorgrens-operasie bekruip en binnegedring het, na deeglike verkenning van die strategiese terrein uit die lug met behulp van satelliete nie.

Bogenoemde missie was om u aan te spoor om die groot gevolge van u voortydige aftrede 30 jaar gelede te oordink, te erken, en met Suid-Afrika te deel, met die doel om Afrika weer te help.

Suider-Afrika sonder u SAW, en sonder ‘n hoof van die SAW soos u wat soms u eie politici kon weerstaan wanneer nodig, kan nie ekonomies genoeg integreer en industrieel ontwikkel, om met die wêreldmoondhede mee te ding nie.

Koning Goodwill Zwelithini en president Jacob Zuma sou u SAW en ‘n hoof van die SAW soos u, geweldig waardeer, en aanwend tot die broodnodige ontwikkelling van die SAOG, oftewel die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Nou egter is hulle magteloos, en word die ekonomiese streekschaos stadig maar seker groter, en die plaaslike streek ver agter ten opsigte van mededingende buitelandse moondhede.

Baie mag bring baie verantwoordelikheid. Met die meeste mag in Afrika, nie net polities nie, maar ook moreel, het u die meeste verantwoordelikheid gehad.

U was een mens, wat werklik mees bepalend vir die geskiedenis van Afrika was, al is u nederig en wil die werklike waarheid daarom ontken. Politiek gaan nie net oor persone nie, maar u persoon was werklik bepalend vir Suider-Afrika se politiek. Vandaar vandag nog Casingadag in Namibië.

Hierdie is nie ‘n persoonlike aanval nie, net ‘n bewese historiese feit.

Sou u aangebly het as hoof van die SAW, sou UNITA wel in 1987 FAPLA se brigades by Cuito met ‘n twee-frontaanval almal laat inplof het, en sou u daarna vir generaal-president Fidel Castro in 1988 in Angola gewen het. Dan sou UNITA as paaslike meerderheidsgroep uiteindelik Angola demokraties regeer het, en sou UNITA-Angola en demokratiese IVP-Suid-Afrika saam as vriendskaplike superlande die hele Suider-Afrika ekonomies geïntegreer het.

In 1976 het u teen Fidel Castro se wilskrag, intelligensie en gesonde politieke instink te staan gekom. In 1987 en 1988 was u anders as hy, nie op u pos nie. Daarom is UNITA uitgewis, Angola vandag ‘n menseregtehel, Suid-Afrika besig om te verbrokkel, en die hele streek in ekonomiese chaos.

Dít glad nie weens een-mens een-stem nie. Maar weens een mens, voortydige aftrede – na ‘n Savannah-bosbasis wat nes Cassinga lyk.

U is welkom om te antwoord.

Saluut!

Luitenant Madelein Louw

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.