Die Afrika-Unie se spesiale gesant vir die betwiste Wes-Sahara het gewaarsku dat dit ‘n “uiters gevaarlik presedent” vir alle VN-sendings skep as Marokko burgerlike personeel van die VN-vredesending uit Wes-Sahara skop.
Dit skep ook gevare vir Noord-Afrika en die Sahel, waar ekstremistiese groepe bedrywig is.
Die voormalige president van Mosambiek, Joaquim Chissano, wie in 2014 aangestel is, maar deur Marokko verwerp is, het ’n inligtingsvergadering van die VN se veiligheidsraad meegedeel dat die VN-sending herstel moet word en die mense van Wes-Sahara “die geleentheid moes kry om vrylik oor hul eie lot te beskik,” aangesien dit die enigste werkbare oplossing is.
“Die Wes-Sahara-probleem mag as ’n klein probleem beskou word,” het Chissano gesê, “maar ons moenie vergeet dat ’n vonk ’n woud aan die brand kan steek nie en ons moet verhoed dat dit gebeur.”
Morokko het Wes-Sahara, ’n voormalige Spaanse kolonie, in 1975 geannekseer en veg teen die plaaslike bevrydingsbewing, die Polisario Front.
Die VN het in 1991 ’n skietstilstandooreenkoms onderhandel en ’n sending vredebewaarders, Minurso, ontplooi om die omstandighede te monitor en te help om ’n referendum te organiseer oor die gebied se toekoms, maar dit het nog steeds nie plaasgevind nie.
Morokko beskou die mineraal-ryke gebied as die land se “suidelike provinsies” en het verreikende outonomie voorgestel, wat deur die Polisario Front verwerp is.
Dié Front dring op selfbeskikking deur ’n referendum aan.
Verlede maand het Morokko die meeste VN-burgerlikes uit die land gegooi nadat die sekretaris-generaal van die wêreldliggaam, Ban Ki-moon, die woord “besetting” in gesprekke oor Wes-Sahara gebruik het nadat hy ’n kamp vir vlugtelinge van die streek in Algerië besoek het.
Die VN sê die waarnemers se vertrek maak dit onmoontlik vir Minurso om sy mandaat uit te voer. Ban, Chissano en ander het gewaarsku dat die uitsetting omgekeer moet word omdat dit ’n internasionale presedent kan skep.
Die vrees bestaan dat ander lande, waar vredesbewaarders en ander VN-personeel ontplooi is, hulle ook nou kan uitskop.
Die Polisario Front se sekretaris-generaal, Mohammad Abdulaziz, het gewaarsku dat tensy druk op Marokko geplaas word om die VN-sending te herstel, dit as ’n groen lig vir militêre aggressie beskou sal word.