Karel Combrinck: Beeld voer ‘debat’

Deel op

«Beeld begin vandag met ‘n reeks gesprekke oor die toekoms van die Afrikaanse gemeenskap.»

Die Beeldkoerant beoog skynbaar ‘n langtermyndebat rondom die toekoms van «die Afrikanergemeenskap». ‘n Poging om dalende sirkulasiesyfers ‘n bietjie op te stoot ? In gister (3 Mei 2016) se Beeld skop twee van die hoëpriesters van die linkse pers, die Ajatolla Tim Du Plessis en (Kajafas) Leopold Scholtz sommer uit die staanspoor af met geluide van die aard wat ‘n mens van hulle verwag. Wat ‘n mens te wagte kan wees in die reeks wat gaan volg, is minstens 50% borsslanery van die een of ander aard oor «ongeregtighede van die verlede», aangebied deur wat Du Plessis self beskryf as sy «spannetjie» en wat seker sal voortborduur op die patroon van Adriaan (voetewas) Vlok. Interessant is dat Beeld se «debat» presies saamval met Adriaan Vlok se veldtog oor versoening en vergiffenis wat pas aangekondig is – great leftists think alike.

Wat opval van die inleidende menings van Du Plessis en Scholtz is dat die woord «volk», nie een maal gebruik word nie. Inderdaad word die begrip sorgvuldig vermy. In stede daarvan het ons «Afrikanergemeenskap», Afrikaner-«groep», of soos Du Plessis dit stel, «entiteit wat insluit almal wat hulleself beskou as Afrikaans, Afrikaner, Afrikaanssprekend of wat ook al». Let veral op die «wat ook al». Wat kan «wat ook al» tog alles insluit? ‘n Mens wil liefs nie eers begin dink wat nie.

Nadat Beeld ter inleiding eers beklemtoon het dat hulle ‘n «toonaangewende koerant» is en nadat die Ajatollas mekaar se rûe oor en weer gekrap het en sommer in die verbygaan sommer ook so’n lekkie uitgedeel het onder die alie van die ontslape linkse Afrikanerverraaier, Ajatolla Frederik Van Zyl Slabbert, kan die «gesprek» begin.

Tim Du Plessis lig ons eerstens in oor die betekenis van die woord «debat»: «Die doel van debat is om mekaar se standpunt oor en weer te hoor» en, «ons deelnemers is ‘n wyd uiteenlopende spannetjie». Nou toe nou. Hoe uiteenlopend nogal ? Hoeveel debat met wyd uiteenlopende sienswyses laat Beeld in die gewone loop van sake toe? Waarom wil hulle dit dan nou skielik doen? Sal Beeld byvoorbeeld bereid wees om ‘n bydrae van dr Roodt ook te plaas en is hulle bereid om dr Roodt ook by hulle «spannetjie» in te sluit ? Of is hulle spannetjie, soos altyd, ‘n uitverkore kliek, net uiteenlopend genoeg om skakerings van links toe te laat en «regses» of »verregses » by voorbaat uit te sluit?

Scholtz haal aan uit Die Burger van 31 Mei 1948 d.w.s. pas na die Nasionale Party se oorwinning in die algemene verkiesing van daardie jaar : «Hoe tuis voel ’n mens hom nie weer in sy eie vaderland nie! So was dit nie in die afgelope jare nie. Die nasionaal gesinde Afrikaner . . . het hom onwelkom, selfs onveilig in die land van sy vadere gevoel . . . Hy het hom dikwels ’n onterfde gevoel, ’n vreemdeling wie se erfenis in ander hande oorgegaan het.»

Ek weet nie van Kajafas en die Ajatollas nie, maar ek voel my in die sg. «nuwe Suid-Afrika» so onwelkom en onveilig en onterf en vreemdeling as wat Afrikaners in enige stadium van hulle geskiedenis gevoel het, miskien nog meer so. Die vraag is egter hoe het ons daar gekom? Het die Beeldkoerant nie ‘n reuse-aandeel in ons magsoorgawe en gepaardgaande ontvoogding gespeel nie? Is die besinning oor die «toekoms van die Afrikanergemeenskap» nou straks ‘n poging van Beeld om enigsins te probeer regmaak wat hulle versoorsaak het?

En Scholtz gaan voort: «Die groot vraag is uiteindelik: Het die Afrikaners dieselfde kollektiewe wil om te oorleef as ’n eeu gelede? Die vraag sal in die komende dekades beantwoord word.»

Die antwoord op die eerste vraag is waarskynlik nee, hulle het nie. Maar dit is nie die werklike vraag nie. Die werklike vraag is waarom is dit so? Is dit nie weens die linkse ideologiese breinspoeling en propaganda van veral Beeld en ander publikasies van die Nasionale Pers nie wat die Afrikaner se wil om te oorleef oor ‘n lang tydperk stelselmatig ondermyn en afgetakel het? En dan sal die vraag volgens Scholtz in «die komende dekades» beantwoord word. Maar is Beeld en Scholtz en hulle «spannetjie» dan in ‘n totale beswyming? Watter dekades het ons nog oor om enigiets uit te pluis? Ons is lank reeds rug teen die muur, langer as die «anderhalf dekade sedert die nuwe Suid-Afrika se wiele begin afval het», soos Du Plessis dit stel. Inteendeel dit gaan terug tot voor die oorgawe van 1994 wat Beeld met koorsagtige ywer voorberei het. Ons is minder as niks in ons eie land nie en ons word stelselmatig beroof en uitgemoor. En hulle het nog dekades om te «debatteer»?

En uiteindelik: «Het moderne Afrikaners dit in hulle om hulle by die nuwe werklikheid van die verlore heerskappy neer te lê en dit binne die praktiese beperkings in ’n herwonne toekoms te omskep?» Wil Beeld nou voorgee dat hulle hierdie vraag in die loop van die «debat» binne hulle «spannetjie» gaan uitrafel? En dan het hulle nie die vraag reeds by voorbaat beslis nie met hulle verwysing na «moderne Afrikaner»? Ons weet tog wat «modern» beteken. Dit beteken fatsoenlik, inskiklik, konformerend, klakkeloos in die mode wees, alles houdings wat Beeld se goedkeuring wegdra. Dit beteken dus dat Afrikaners wat al hierdie mooi dinge wil wees hom noodwendig moet berus by die «nuwe werklikheid van die verlore heerskappy». Om te glo dat die Afrikaner ‘n «verlore heerskappy binne praktiese beperkings in ‘n herwonne toekoms kan herskep», is gewoon wensdenkery, want dit gaan nie om blote «praktiese beperkings» nie, dit gaan om ideologiese en politieke en ekonomiese onderdrukking.

Met u reeks gesprekke, menere van Beeld, wil u nou iets probeer beredder uit wat u self veroorsaak het? Of wil u dalk u reputasie probeer red? Vir beide is dit te laat, want toe daar nog tyd was om ons volk te red, die een wat u nie by die naam wil noem nie, het u die mense wat daadwerklik probeer het om dit te doen, beswadder en bespot. Ons het u nie nodig nie. U is nie by magte om iets aan te bied wat vir ons van waarde kan wees nie. Bestee liewer u tyd aan skadelose brokkies oor die Engelse prinse en prinsesse en hulle tog so oulike babas.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.