Bogaardse: Waar is mev. Suzman nou?

Deel op

Die nuus dat ‘n boere-egpaar van Nylstroom, Jaco en Bess Bogaards, tans sonder verhoor op Warmbad aangehou word, is op sy minste kommerwekkend. Die Bogaardse word beskuldig van “hoogverraad, terrorisme en dat hulle glo hulp verleen het aan voortvlugtige verdagtes.”

Deel op

Klink dit dalk bekend? Hulle mag ook nie besoek by hul selle ontvang nie. Dit gaan hier nie om hulp aan gemeenregtelike verdagtes soos Tony Yengeni of Robert McBride wat as’t ware amptelik verleen word nie, maar om bystand aan politieke beskuldigdes wat tydens die sogenaamde Boeremagverhoor vanuit die Paleis van Justisie ontsnap het.

Toe die NP finaal in 1994 oorgegee het en die nuwe “demokratiese” grondwet aanvaar is, is ons belowe dat niemand ooit weer sonder verhoor aangehou sal word op vae klagtes van sedisie nie of bloot om ideologiese redes nie.

Trouens, in die tydvak vóór 1994 was daar ‘n hele bedryf van menseregte-aktivisme wat met oorsese geld aan die gang gehou is sodat enigiemand wat met ‘n kattebak vol AK-47’s gevang is die beste en duurste advokate in Johannesburg kon bekostig. Vanuit die parlement het mev. Helen Suzman en ander liberale luidkeels beswaar gemaak en dit gereeld bekla dat die regstaat en menseregte in die naam van staatsveiligheid vertrap word. Linkse akademici het Suid-Afrika gereeld as ‘n “polisiestaat” uitgekryt.

In die Bogaards-geval is presies dieselfde nou besig om te gebeur. Behalwe dat die Bogaardse nie met enige plofstof of onwettige wapens in hul besit betrap is nie, maar met – luidens berigte – ‘n motorfiets en ‘n tent. Indien die besit van ‘n motorfiets en ‘n tent genoeg is om van hoogverraad en terrorisme aangekla te word, dan is u en ek en ons almal potensieel skuldig.

Die Zimbabwifisering van Suid-Afrika is moontlik al heelwat verder gevorder as wat ons dink. Dat die ANC-staat vinnig besig is om by die glybaan van totalitarisme af te daal, soortgelyk aan soveel ander state benede die Sahara, is gewis. Nie net verskaf geweldsmisdaad ‘n dekmantel vir staatsterreur teen politieke dissidente nie (moord is so alledaags, wie sal nou agterkom as ‘n paar mense om politieke redes omgebring word?), maar enige lid van die opposisie kan van hoogverraad en terreur beskuldig word.

Die dawerende stilte wat rondom die Bogaards-geval in linkse en liberale geledere heers, toon net weer aan ons hoe skynheilig die menseregtekritiek op die vorige bewind was. Soos die politieke ontleder Raymond Aron reeds in die vyftigerjare aangetoon het: solank menseregtevergrype deur Links gepleeg word, is hulle aanvaarbaar.

online casino games to play for freeпрокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.