Die Britse regering het Maandag aangekondig dat finansiële hulp aan Mosambiek opgeskort sal word in die nasleep van die skandaal oor lenings.
Brittanje is een van Mosambiek se grootste skenkers en byna ‘n kwart van die land se begroting kom van buitelandse hulp.
Vroeër hierdie maand, het dit duidelik geword dat byna 1,4 miljard dollar se lenings, gewaarborg deur die Mosambiekse regering, nie rugbaar gemaak is nie.
Nie die Mosambiekse publiek of die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) was bewus van die lenings nie.
Die lenings dateer uit 2013-2014 en is deur die vorige regering, onder leiding van President Armando Guebuza aangegaan.
Die Mosambiekers het glo onder meer ‘n stel duur militêre veiligheidsbote van die Franse regering aangekoop met die geld wat bestem was vir vissersbote. Die bote staan tans op land.
Amptenare het vermoedelik groot omkoopbedrae in hul sakke kon steek danksy die transaksie.
Te oordeel aan die verklaring deur die Eerste Minister Carlos Agostinho do Rosario op ‘n Maputo-perskonferensie Donderdag, het die Guebuza-regering ook nie sy opvolger ingelig oor hierdie lenings nie.
‘n Woordvoerder van die Britse Departement vir Internasionale Ontwikkeling (DFID), aangehaal in die Britse regering se verklaring, het gesê “die bestaan van die lenings, en die gebrek aan deursigtigheid rondom hulle, is diep teleurstellend”.
Brittanje het gewaarsku teen “ernstige implikasies vir Mosambiek se ekonomie vir die medium termyn”.
Die skandaal sal die VK se referendum vir Brexit ‘n hupstoot gee.