Vonnisoplegging teen die voormalige Noord-Kaapse ANC-grootkop, John Block begin na verwagting vandag in die Noord-Kaapse Hooggeregshof.
Regter Violet Phatsoane het tydens ‘n vroeëre verskyning beslis dat ‘n aansoek deur die batebeslagleggingseenheid eers afgehandel moet word voordat vonnisoplegging kan begin.
Block en Trifecta Holdings se direkteur Christo Scholtz, is onder meer aan korrupsie skuldig bevind.
Woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Mashudu Malabi, sê dié eenheid het vroeër aansoek gedoen om die bates van Block en Scholtz verbeurd te verklaar. Volgens die staat kan die bates waarop beslag gelê kan word tussen R600-miljoen en R700-miljoen beloop.
Block is die gewese Noord-Kaapse LUR vir finansies, die provinsiale ANC voorsitter en ‘n ANC-LPW in die Noord-Kaapse wetgewer.
Hy het uit al sy posisies bedank nadat hy skuldig bevind is.