Leon Lemmer: Enoch Powell se bloedrivier

John Enoch Powell (1912-1998), ‘n Brit, het in 1937 op die ouderdom van 25 jaar ‘n professor in antieke Grieks aan die Universiteit Sydney in Australië geword. In sy jeug het hy vier digbundels gepubliseer en later boeke oor die klassieke en politiek. Hy het in die Tweede Wêreldoorlog militêre diens vir Brittanje gedoen. Hy het toe tot die gevolgtrekking gekom dat Amerika die Britse Ryk wou vernietig en veral Indië polities onafhanklik wou hê. Reeds vroeg in sy lewe was dit Powell se ideaal om die Britse onderkoning (“viceroy”) van Indië te word. Die onafhanklikheidswording van Indië het sy planne verydel en hom lewenslank skepties oor Amerikaanse buitelandse beleid gemaak. Die Britse verlies van Indië as kolonie in 1947 en die Suez-krisis in 1956 het van Powell ‘n anti-imperialis maar nasionalistiese Brit gemaak. Volgens hom moet aanvaar word dat Brittanje nie meer ‘n wêreldmoondheid is nie. In hierdie rubriek maak ek by uitstek gebruik van John Gregory se boek, Enoch Powell, the patriotic prophet: The speeches of Enoch Powell (Patropress, 2013, 208p; Amazon Kindle $11,39). Gregory noem Powell “without a doubt the greatest Prime minister we never had” (Kindle 20). Sy naaste Afrikaner-ekwivalent is seker die beginselvaste Jaap Marais (1922-2000) of dalk die kompromislose Hans Strijdom (1893-1958).

Powell was gegrief oor die aanvanklike paaibeleid van die Konserwatiewe Party teenoor Adolf Hitler en het dus in die 1945-verkiesing vir die Arbeiderdsparty gestem. Die verlies van Indië onder ‘n Arbeidersregering het Powell genoop om sy gewig by die Konserwatiewe Party in te gooi. Hy het ‘n parlementslid vir die Konserwatiewe Party (1950-1974) en die Ulster Unioniste (1974-1987) geword. (Hy het die aanbod om ‘n kandidaat vir die regse en uitsluitlik blanke Nasionale Front (NF), gestig in 1967, te word, geweier. Die NF se beleid is dat alle nie-blanke immigrante gerepatrieer moet word.) As Noord-Ierse parlementslid het Powell gepoog om daardie gebied ‘n integrerende deel van Brittanje te maak, want die aparte, selfregerende parlement en eie eerste minister in Belfast sou noodwendig meebring dat Noord-Ierland mettertyd deel van die Ierse Republiek word. Hy was gegrief oor die Amerikaanse standpunt dat die Ierse Republiek en Noord-Ierland moet verenig voordat Ierland lidmaatskap van NAVO kon kry.

Powell was die minister van gesondheid in Harold MacMillan se kabinet (1960-1963) en die skaduminister van verdediging in die opposisieparty van Edward Heath (1965-1968). As politikus het Powell hom van vroeg af vir die opruiming van krotbuurte en beheer oor immigrasie beywer. In die 1964-verkiesing het hy gesê: “It was essential, for the sake not only of our own people but of the immigrants themselves, to introduce control over the numbers allowed in. I am convinced that the strict control must continue if we are to avoid the evils of a ‘colour question’ in this country, for ourselves and for our children” (Wikipedia).

Op ekonomiese gebied was Powell ‘n voorstander van disinflasie, eerbied vir markkragte, die bevordering van vrye handel, die privatisering van sommige staatsbates en die monetarisme wat Margaret Thatcher (1925-2013, Britse eerste minister 1979-1990) mettertyd sou aanhang. Voor die onafhanklikwording van Kenia in 1963 het Powell gesê dat Brittanje nie ander standaarde in bv Afrika as tuis kan hê nie. Uit Kenia was daar ‘n groot toestroming van Asiate na Brittanje toe swartes na ‘n jare lange skandalige veldtog van terrorisme die politieke beheer oorgeneem het.* Powell “said terrorism was a form of warfare which could not be prevented by laws and punishments but by the aggressor’s certainty that the war was impossible to win” (166). (In Suid-Afrika het die ANC en ander immorele terroristebewegings besef dat hulle nie die militêre stryd kon wen nie. Desnieteenstaande het FW de Klerk en sy patetiese onderhandelaars roemloos boedel oorgegee. Dit is tragies dat hulle nie van Powell se mening kennis geneem en die terroriste met mag en mening beveg het nie.) [* “The Kenia Independence Act … has the unexpected effect that some 200 000 Indians in Kenya alone have become literally indistinguishable from the people of the United Kingdom, so that they have an absolute right of entry to this country and thus enjoy priviliges which no Commonwealth citizen … possesses” (1239).]

In Oktober 1968 het Powell voorgestel dat behuisingsubsidies en die finansiële ondersteuning van ander lande (“foreign aid”) geskrap moet word. Powell was nie net teen Amerikaanse invloed op Britse regeringsbeleid gekant nie, maar ook skepties oor groter aansluiting by Europa. Hy het kapsie gemaak teen Britse lidmaatskap van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), wat later die Europese Unie (EU) geword het. Hy wou hê dat die Britse parlement outonoom bly en nie onderhewig moet wees aan bv EU-voorskrifte oor ekonomiese beleid, menseregte en immigrasie nie. Volgens Powell moet kernwapens nooit werklik gebruik word nie. Lande wat oor hulle beskik behoort sulke wapens bloot as afskrikmiddels te behou.

In Powell se politieke loopbaan was daar twee breuke. In 1968 is hy as skaduminister ontslaan en in 1974 het hy die Konserwatiewe Party verlaat. In 1968 het die breuk gekom vanweë sy sogenaamde “rivers of blood”-toespraak. Daardie beroemde, profetiese toespraak is die hoofonderwerp van hierdie rubriek. Dit handel oor immigrasie uit Statebondslande en anti-rassediskriminasie-maatreëls. Powell het dié sprekende voorbeeld gestel van hoe ‘n enkele toespraak ‘n politikus kan maak of breek. Die 1974-breuk is veroorsaak toe Brittanje onder die leiding van ‘n Konserwatiewe regering op lidmaatskap van die EEG besluit het. Powell se standpunt was dat Brittanje nie ‘n provinsie van ‘n Europese superstaat moet word nie. Van die begin af was die EEG sowel ‘n ekonomiese as ‘n politieke alliansie.

Powell was hoogs intelligent en boonop ‘n uitstekende orator. Hy het al sedert die vroeë jare sestig die aandag gevestig op die gevare wat grootskaalse immigrasie uit Statebondslande vir Brittanje inhou. Hy het beswaar gehad teen die vreemde kultuur van hierdie immigrante omdat dit nie met die tradisionele Britse lewenswyse versoenbaar was nie. Sy standpunt was dat immigrante nie die monokultuur van die Britte met multikulturaliteit moet versteur nie. Klein getalle vreemdelinge kon moontlik sonder (groot) kulturele skade in die Britse gemeenskapslewe geabsorbeer word (dus geïntegreer en mettertyd geassimileer word) maar nie ‘n onophoudelike en progressief groter wordende stortvloed nie.

Die gewraakte “rivers of blood”-toespraak is op 20 April 1968 in Birmingham gelewer. Sedertdien is Enoch Powell wêreldbekend. Die direkte aanleiding vir die toespraak was die Arbeidersregering se Race Relations Act (1968), wat rassediskriminasie verbied het. (In die nuwe Suid-Afrika is daar steeds geen sodanige verbod nie. Daar mag nie teen swartes gediskrimineer word nie, maar wel teen wittes. Rassediskriminasie teen blankes word egter verdoesel deur dit regstelling, transformasie, positiewe diskriminasie, ens, te noem.) In sy toespraak het Powell glad nie van “rivers of blood” gepraat nie. Dit is ‘n frase wat joernaliste aan die toespraak gekoppel het. Vandaar die groot bohaai wat gevolg het, hoewel Powell wesenlik niks anders gesê het as wat hy reeds voorheen verskeie kere kwyt geraak het nie (kyk die 1964-aanhaling uit die Wikipedia hier bo en verdere voor-1968-verwysings hier onder).

Powell het sy beroemde toespraak soos volg begin: “The supreme function of statemanship is to provide against preventable evils … the besetting temptation of all politics [is] to concern itself with the immediate present at the expense of the future … the discussion of future grave but … avoidable evils is the most unpopular and at the same time the most necessary occupation for the politician” (322). Reeds in 1968 het Powell waargeneem Brittanje is “undergoing the total transformation to which there is no parallel in a thousand years of English history” (342). Hy het tereg genoem dat die immigrante nie egalig verspreid dwarsoor die land aangetref word nie maar in bepaalde gebiede (“foreign areas” – 1158) gekonsentreer is.

Hy het ook ‘n vinnige toename in getalle voorsien. “It is this fact above all which creates the extreme urgency of action now, of just that kind of action which is hardest for politicians to take, action where the difficulties lie in the present but the evils to be prevented or minimized lie several parliaments ahead” (348). “Numbers are of the essence,” daarom is die volgende aksie nodig: “by stopping or virtually stopping, further inflow, and by promoting the maximum outflow” (356). “We must be mad, literally mad, as a nation to be permitting the annual inflow of some 50 000 dependents, who are for the most part the material of the future growth of the immigrant-descended population. It is like watching a nation busily engaged in heaping up its own funeral pyre” (362). Daar mag glo geen rassediskriminasie wees nie, maar “at work … employers hesitated to apply to the immigrant worker the standards of discipline and competence required of the native-born worker” (409).

Powell vertel: “Eight years ago in a respectable street in Wolverhampton [Powell se kiesafdeling] a house was sold to a Negro. Now only one white (a woman old-age pensioner) lives there” (422). Powell is daarvan beskuldig dat hy ‘n fiktiewe voorbeeld gebruik het, maar na die tyd is die persoon as Druscilla Cotterill geïdentifiseer en is sy weergawe korrek bewys.* Hierdie vrou was ‘n weduwee. Albei haar seuns het in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel. Sy het haar huis as ‘n losieshuis bedryf, maar die loseerders het weggetrek weens die verswarting van die buurt. Sy was nie bereid om swart loseerders te aanvaar nie. Die prys wat vir haar huis aangebied is, was ook te min. Sy wou nie toelaat dat swartes haar telefoon gebruik nie. Sy is van rassisme beskuldig en aan die uiterste intimidasie blootgestel. “Windows are broken. She finds excreta pushed through her letterbox” (435). (Die misdadigers wat hulle op ‘n soortgelyke manier op die kampus van die Universiteit Kaapstad en elders gedra, is dus nie uniek nie. Die strooiing van ontlasting is ‘n beproefde handeling van sommige in ‘n politieke magstryd.) [* In Februarie 1968 (dus voor sy beroemde toespraak) het Powell verwys na ‘n enkele wit kind wat in ‘n skoolklas oorgebly het (1217). Weereens is hy van leuens beskuldig en weer is hy reg bewys.]

Om sulke mense in ‘n blanke gemeenskap te integreer is problematies, want “to be integrated into a population means to become for all practical purposes indistinguisable from its other members” (435). Maar daar is immigrante wat glad nie wil integreer nie en spesiale regte eis sodat hulle hulle gewoontes/gebruike in Brittanje kan voortsit. Powell se standpunt was “the same rights and the same treatment as anyone else” (970); dus geen rasgebaseerde diskriminasie, regstelling, bemagtiging, bevoordeling of wat ook al nie. Dan kom Powell by sy stelling wat deur joernaliste tot die meer opspraakwekkende/sensasionele “rivers of blood” herformuleer is: “Like the Roman, I seem to see ‘the River Tiber foaming with much blood’.* That tragic and intractable phenomenon which we watch with horror on the other side of the Atlantic but which there is interwoven with the history and existence of the [United] States itself, is coming upon us here by our own volition and our own neglect. Indeed, it has all but come. In numerical terms, it will be of American proportions long before the end of the century. Only resolute and urgent action will avert it even now” (455). [* Aangehaal uit die Romeinse digter Vergilius (70-19 vC) se Die Aeneïs, 6, 1.86.]

Die waarheid van Powell se profetiese toespraak word soos volg deur John Gregory toegelig: “If we take a look at today’s so called multi-cultural Britain, with off duty soldiers being beheaded on the streets of London by Islamists, Muslim grooming gangs raping our children, and ethnic gangs plaguing all our major cities and towns, be it Asian and Turkish herion gangs, Romanian pick pocket gangs or other Eastern European mafias, slave trading girls for prostitution, Somalian and African post code gangs – the list is endless. Put this together with a Nation of indigenous people who are at breaking point with being ignored by public schoolboy pleb politicians, who only serve themselves” (279). ‘n Versugting wat dwarsoor Europa en in Amerika opklink, is dat die sogenaamde demokraties verkose regerings se beleid oor immigrasie glad nie versoenbaar met die mening van die oorgrote meerderheid kiesers is nie.

Die dag na sy toespraak is Powell as skaduminister ontslaan. Hy het nooit weer ‘n senior politieke pos beklee nie. Hy is daarvan beskuldig dat hy die raskaart gebruik het, ‘n rassis is, ens. Maar ‘n meningsopname het getoon dat 74% van die Britse kiesers Powell se mening onderskryf. Die frase “Enoch was right” word sedertdien dikwels gebruik wanneer die kwessie van immigrasie in Brittanje ter sprake kom. Powell het self 120 000 briewe ontvang, waarvan die oorgrote meerderheid sy standpunt ondersteun het. Dit word algemeen aanvaar dat die opskudding wat Powell veroorsaak het die Konserwatiewe Party in staat gestel het om die 1970-verkiesing te wen. Die plaaslike politieke kommentator RW Johnson, destyds verbonde aan die Universiteit Oxford, is een van diegene wat hierdie pluimpie aan Powell gegee het. In 1972 het ‘n meningspeiling getoon dat Powell steeds die gewildste politikus in Brittanje was.

Na sy breuk met die Konserwatiewe Party in 1974 het hy kiesers aangemoedig om in die 1974-verkiesing vir die Arbeidersparty te stem, ‘n verkiesing wat die Arbeiders gewen het. Edward Heath het hierdie nederlaag aan Powell se invloed toegeskryf. Dit is ook die rede waarom Margaret Thatcher later geweier het om Powell as ‘n skaduminister of minister aan te stel. In 1982 het Powell as nasionalis en lojalis Thatcher tydens die oorlog met Argentinië oor die Falkland-eilande gesteun. Na sy uittrede uit die politiek het Powell in die 1990-verkiesing die Konserwatiewe Party aangeraai om die “British Card” te gebruik. Thatcher was toe vol lof vir Powell: “I have always read Enoch Powell’s speeches and articles very carefully … I always think it was a tragedy that he left. He is a very, very able politician. I say that even though he has sometimes said vitriolic things against me” (212). Maar Powell het nooit weer lid van die Konserwatiewe Party geword nie. In sy latere jare het hy die regse United Kingdom Independence Party (UKIP), gestig in 1993, ondersteun, maar hy het homself as te oud gediskwalifiseer om ‘n UKIP-kandidaat in ‘n verkiesing te wees.

In Powell se ander toesprake is daar ook baie pêrels, waarvan ek enkeles uitlig. In 1966 het hy die aandag op ‘n anomalie in die Britse immigrasiebeleid gevestig: “Our nearest European neighbours were aliens, to be strictly excluded from Britain, but that the myriad inhabitants of independent countries in Asia, Africa and the New World were British, indistinguishable from native-born inhabitants of these islands [ie Britain], and that no limitation could be placed on their inherent right to enter and leave this realm at will. For fear, so it was said, of ‘offending the Commonwealth’, we persisted in this course until we had entailed upon ourselves a fearful and wholly unnecessary problem, one which has brought no compensating benefit to any other country, and one with consequences of which our children and their children will still be coping” (940). (Insgelyks kan ‘n mens sê dat die ongelooflike plaaslike onnoselheid van 1990/1994 voorkombaar en dus onnodig was en ons nageslag selfs in groter mate as ons huidige geslag die dure prys daarvoor gaan betaal.) Pleks van hande te vat sê Powell: “There comes always a time ‘when the kissing has to stop'” (961); ontleen aan die Engelse digter Robert Browning (1812-1889) se “A toccata of Galuppi’s” (1855).

‘n Bekende strategie is dat ‘n man hom as immigrant in ‘n ander land vestig en dan spoedig sy (uitgebreide) familie ook daar wil hervestig. Powell praat van “actual or alleged dependents” (1224). As dit geweier word, word die owerheid van harteloosheid en erger beskuldig. Powell stel sy standpunt, ‘n elementêre waarheid, baie duidelik: “There are two directions in which families can be reunited” (1224). Dit is moeilik om van onwettige inkommers ontslae te raak; tans onder meer vanweë ‘n EU-menseregtebepaling dat gesinslewe nie ontwrig mag word nie.”We are ‘stark, staring bonkers’ to offer all illegal entrants a prize for breaking the law” (1246).

Wanneer geweld uitbreek, is die neiging (ook in Suid-Afrika) om sonder meer te aanvaar dat daardie misdadigers (regverdigbare) griewe het. Powell het ‘n ander mening: “Today violence and mob law are organised and speading for their own sake” (1819). Daar is mense “who by reason of some kind of fecklessness or incompetence are chronically unable to feed, clothe and house themselves and their families” (1826). Pleks van op eie inspanning staat te maak, beweer armlastiges dat hulle ‘n heilige reg op baie dinge het. In Suid-Afrika verneem ons telkens van gevalle waar skole afgebrand word omdat daar glo te min klaskamers is. Die misdadigers kan nie die berekening doen dat daar dan nog minder klaskamers oorbly nie. Mense wat nie vir munisipale dienste betaal nie, betoog oor swak dienslewering terwyl hulle in werklikheid suiwer ekonomies/finansieel op niks aanspraak kan maak nie. Een van die baie euwels van demokrasie is dat oproermakers onwegneembare stemreg het. Die politieke partye wil nie sulke elemente in die bek wil ruk deur bv klipgooi, die oprigting van padversperrings en die brand van buitebande absoluut te verbied en swaar strawwe aan oortreders op te lê nie. In Suid-Afrika het terroriste bewys dat misdaad hoogs lonend kan wees. Geweld is steeds die bewese manier om die owerheid tot die verlangde optrede te verplig. Dit sal dus onbepaald en seker in al hoe groter mate voortgesit word.

Reeds in 1970 het Powell gesê: “University disorder [is] … connected with that more general civil disorder or anarchy which I believe is also on the ascendant” (1928). “The essential ingredient of the success of anarchy in its new form is the enslavement of the majority by a tiny minority [dink bv aan Open Stellenbosch] In the political sphere the technique is comparable in importance and in novelty to the development of the nuclear weapon in the military sphere; for a method has been discovered of achieving immense results with negligible initial effort, thanks to a sort of gearing or leverage which brings the majority into play under the direction and control of the minority” (1936). “The secret weapon is the assumption that violence and disorder imply grievance. From this it follows that the grievance must be removed in order to stop the violence and disorder. It follows that the real blame lies not with the violent and disorderly but with those responsible for the assumed grievance … The burden of accusation and condemnation is thus automatically diverted from the guilty on to the innocent … the general public itself are so mesmerised by this technique that they become the instruments of its success” (1943).

Wat doen iemand soos Wim de Villiers in so ‘n geval? “Buy off the aggressors” (1950). “Violence is automatically in the right and authority necessarily in the wrong” (1987). “It is an old delusion to suppose that those bent on violence and anarchy can be satisfied with instalments of what is miscalled reform [transformation!]. If reform were the object, they could be: but the object is not reform, the object is destruction. When a concession has been extorted here, it will be followed by another demand there; when one humiliation has been inflicted on the authorities, the means will instantly be sought of inflicting another. There is no quantity of danegeld* which buys off anarchy; there is no end to the instalments which will be swallowed and leave the aggressor unsatisfied … We have been content to stand on the touchline and watch the university authorities, in their pitiful inexperience and gaucherie, go down to one defeat after another” (2021). [* Danegeld: “In English history, a tax imposed from 991 onwards by Anglo-Saxon kings to pay tribute to the Vikings. After the Norman Conquest (1066), the tax was revived and was levied until 1162; the Normans used it to finance military operations” (Collins World Encyclopedia, 2003, p 256).]

Ek het die volgende juweel oorgehou vir laaste. Dit gaan oor menseregte, spesifiek die reg op behuising, waarvoor Suid-Afrikaanse belastingbetalers jaarliks baie moet opdok. Wanneer iemand beweer hy het die reg op iets, verwys hy na iets wat hy nie het nie: “‘I have a right to that’, the statement clearly means that somebody else … ought to furnish me with it, and that if he does not do so voluntarily, he can and should be forced to do so” (1464). Teen wil en dank moet bv die blankes in Suid-Afrika hulle eie huisvesting voorsien en ook huise vir die miljoene armlastige huisloses. As die owerheid die bedrag beperk waarteen huise verhuur kan word, lei dit tot krotbuurte. As die regering gesubsidieerde huise bou, “because the price is artificially reduced, the demand must by definition always exceed the supply … Thus, where everyone has a right to a house, shortage of housing is guaranteed in perpetuity” (1487). Sodanige opset saboteer persoonlike vryheid: “There is no man so independent as he who pays the market price for what he gets” (1495). In Suid-Afrika is die probleem dat baie mense politieke vryheid wil hê (die reg om te stem vir wie hulle wil) maar geen morele beswaar het teen ekonomiese afhanklikheid van die staat vir bv toelaes wat sonder enige teenprestasie ontvang word nie.

In Suid-Afrika word ongebreidelde immigrasie (wettig en onwettig) sienderoë toegelaat. Om te voorkom dat hulle (potensiële) kiesers vervreem en van xenofobie/vreemdelingehaat beskuldig word, verkies politici om oor hierdie aktuele probleem te swyg. Daar is in Afrika Unie-geledere selfs planne om die vrye vloei van immigrante dwarsoor die hele Afrika-kontinent te wettig. Dit is dalk ‘n onfeilbare resep om (feitlik) alles te vernietig wat sedert 1652 plaaslik tot stand gebring is. Het dit nie tyd geword dat ons Enoch Powell se nagedagtenis huldig deur bv strate na hom te vernoem pleks van om bv immorele terroriste op allerhande maniere te vereer nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.