Hoe stalinisties is Poetin werklik?

Die eindelose propaganda wat ons van netwerk24 moet verkrop ken blykbaar geen perke nie.

Ek verwys nou na die artikel “‘Demokrasie’ by Russe net Poetin se idees” van Leopold Scholtz.

In hierdie artikel word weer benadruk dat Poetin besig is om ‘n stalinistiese diktatuur van Rusland te maak, verwysend na ‘n behoefte aan internetsensuur en dat Poetin geen geleentheid verby laat gaan om mag in sy hande te konsentreer nie.

Dit klink baie soos die kinderagtige Nederlandse beriggewings wat ek dikwels hier in die nuus gewaar: Poetin is outisties; Poetin vertoon afwykende loopgedrag; Poetin is die rykste man op aarde, ad nauseum.

Die media probeer ook wanhopig om die dood van die dissidente spioen Aleksander Litvinjenko en die afskiet van vlug MH-17 op Poetin se brood te smeer, maar skiet telkens tekort om daardie kloutjie by die oortjie te kry.

Die Britse Ken Owen het uit “sensitiwiteitsoorwegings” geweier op die verslag oor Litvinjenko openbaar te maak en die Nederlandse eerste minister Marc Rutte het ook geweier om die voorlopige verslag oor MH-17 aan die publiek bekend te stel.

Na alle waarskynlikheid is Litvinjenko dood as gevolg van sy eie nalatigheid nadat hy met giftige kernmateriaal gesmokkel het, en die Buk-missiel wat MH-17 uit die lug geskiet het, kan slegs met ‘n radar bedien word wat in die Oekraiense hoofstad Kiëf gevestig is.

Op daardie stadium was Arsenji Jatsjenjoek aan die mag gewees in Kiëf, danksy ‘n Amerikaans georkestreerde staatsgreep.

‘n Ander gerug is dat die plofkop in die missiel in ‘n fabriek in Amsterdam vervaardig was. Die latere aanwysings dat MH-17 deur ‘n gevegsvliegtuig uit die lug geskiet is bo Oekraiense grondgebied vertroebel die Russiese invloed nog verder.

Poetin is inderdaad besig om sy mag te versterk, maar nie omdat hy ‘n tweede Stalin wil wees nie, maar omdat hy geen keuse het nie.

As gevolg van die oorskot olie wat Amerika en Saoedi-Arabië op die wêreld gestort het, het die olieprys gekelder en het dit die Russiese ekonomie hard getref. Poetin het as gevolg daarvan te kampe met ‘n ernstige begrotingstekort, en om daardie tekort in te perk sal hy gedwing word om staatsbedrywe te oorhandig aan privaatkontrakteurs (lees: Washington).

Poetin vrees met ander woorde ‘n herhaling van wat ons in die negentiger jare in Rusland gesien het toe die Mafia daardie land leeggeroof en tot die randjie van anargie gedryf het. Dit verklaar Poetin se ongekende gewildheid by sy mense, enersyds omdat hulle weet waarmee hy te make het en andersyds omdat die Russe weet watter ongefundeerde bog die Westerse perse oor hom rondbasuin.

Daardie storie dat Poetin ‘n inval teen die Krim gereël het, is van dieselfe verslete stoffasie. Oekraïene en Rusland het al sedert jare ooreengekom dat Rusland tot 25 000 soldate op die Krim mag stasioneer. Ten tye van hierdie “inval” was daar slegs 9 000 Russiese stewels op die Krim gewees, 16 000 te min vir ‘n inval.

Dit belemmer Washington egter nie. Vir Amerika se skaduregering heilig die doel die middele. Só het hulle ‘n wettig en demokraties verkose president ontsetel en vir Jatsjenjoek – ‘n Amerikaanse marionet – aan bewind gehelp.

Victoria Nuland se berugte “Fok die EU” telefoongesprek is ‘n bewys dat Amerika vir Jats as buikspreker as opvolger van die demokraties-verkose Viktor Janoekowitsj aangehou het. Tegelykertyd het die Jesuïete in Brussel die blou tapyt uitgerol na Oekraïene in ‘n poging om Oekraïene los te breek van Rusland.

Die vraag is egter hoekom? Wat besiel die Weste die laaste paar jaar om so teen Rusland te agiteer?

Die voor-die-hand-liggende antwoord is omdat Rusland die gasland van die BRICS lande wil word. Rusland wil die sentrale bank wees vir hierdie lande, so asof Washington dit gaan toelaat.

Amerika is stilletjies besig om die BRICS lande te verswak met allerlei vuil kunsies en toertjies. ‘n Ander voorbeeld is die Brasiliaanse president Dilma Rousseff wat weens “korrupsie” ontsetel moet word. Daar is geen daadwerklike bewys van korrupsie nie, altans nie naastenby so erg as die res van haar kabinet nie, en net soos die Argentynse Christina de Kirchner die trekpas moes vat omdat sy nie na Washington se pype wou dans nie, gaan Rousseff nou dieselfde kant op.

In Suid-Afrika sien ons hoe die korrupsie van die ANC nou uiteindelik, na jare se gewag, ‘n bietjie rugbaarheid in die internasionale media begin verkry, weereens om BRICS se geloofwaardigheid skade te berokken. Die destydse wapenskandaal was nog veel swaarder op die belastingbetaler se beurs as Nkandla gewees, maar die internasionale perse het daardie verhaal geensins ernstig opgeneem nie.

Met ‘n hanswors soos Malema gaan Suid-Afrika net verder sy internasionale geloofwaardigheid verloor en dit gaan die komende tyd skaamteloos uitgebuit word.

In China en Indië se geval moet ons eers wag en sien wat met Rusland, Brasilië en Suid-Afrika gaan gebeur. Daardie twee lande het al ‘n geskiedenis van gespanne verhoudings gehad en Washington sal moontlik hierdie ou koeie uit die sloot opgrawe. Andersyds is Amerika besig om Indië se aartsvyand Pakistan te bewapen, en erken Washington die Taliban nie as ‘n terroriste-organisasie nie.

Ek sou sê voordat netwerk24 met sy omgekoopte kommentators Rusland wil beswadder, kan hulle liewer kyk na wie hulle salarisse betaal.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.