Die ANC het ‘n klag van hoogverraad teen die EFF-leier, Julius Malema, ingedien nadat hy aan Al Jazeera gesê het dat sy party “hierdie regering deur die loop van ‘n geweer sal verwyder”.
Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, het Maandagaand gesê Julius se dreigemente om ‘n wettige, demokraties verkose leier op ‘n onwettige manier te verwyder, kom neer op hoogverraad.
Die polisie is versoek om ‘n klag van hoogverraad teen Malema persoonlik te ondersoek.
Malema het aan Jonah Hull gesê die EFF se geduld gaan binnekort opraak “en ons sal hierdie regering deur die loop van ‘n geweer verwyder”.
Hull het hom gevra of hy dit letterlik bedoel waarop Malema sy plan om die regering met geweld omver te werp, herhaal het.
“Ja, ek bedoel dit letterlik. Ons is nie bang nie. Ons gaan nie ‘n regering duld wat ons nie respekteer nie,” het Malema gesê.
Die EFF se sekretaris-generaal, Godrich Gardee, het Maandagaand gesê die ANC het self wapens opgeneem teen die apartheidsregering toe sy mense vermoor is.
Die EFF se stryd om geweld te gebruik is nie anders nie, het Gardee gesê.
“Toe die Apartheidsregering besig was om ons mense voor 1994 dood te maak, hoe het die ANC gereageer? Hulle het wapens opgeneem. So hoekom moet ons nie wapens teen die ANC opneem as die party besig is om ons mense te vermoor soos wat hulle ons mense by Marikana vermoor het nie. Dit kan nie wees nie,” het Gardee verklaar.