SA se ‘eenburgerskap’ met sy swart buurstate voorspel bloed in 2009

ImageSuid-Afrika kan in die nuwe jaar buitensporige vreemdelingehaatveldtogte ervaar met die drukkende ekonomiese toestand en gevolglike werkloosheid as die baie kort lont na die kruitvat.

Dít blyk uit die vrylike toestroming – sonder enige paspoortbeheer, om nie eens van nodige verblyf- en werkpermitte te praat nie – van derduisende mense uit al die buurstate na Suid-Afrika om die land se skaars werksgeleenthede te kom opraap.

Die swart vakverbond Cosatu het pas, ná 'n arbeidsindaba met die nywerheid en die owerheid, gesê dat 30 000 mense se werksgeleenthede weens die wêreld-ekonomiese krisis op die spel verkeer. Maar Cosatu het nie geopenbaar wíé se werksgeleenthede in die slag gaan bly nie, of dit byvoorbeeld 30 000 werkers uit Mosambiek (waar baie van die mynwerkers in ons land vandaan kom) sal wees nie, en of dié arbeidsinkorting Afrikaners en Suid-Afrikaanse swartes gaan raak nie.

Uiteraard dus: As die Mosambiekers voorkeur kry, geskied dit ten koste van swartes, maar ook ten koste van Afrikaners en Suid-Afrikaanse blankes. En juis hierdie saak, dat vreemdes werksgeleenthede uit swartes se hande neem, was een van die kwessies wat gelei het tot die etniese verdrywing wat lokasies en plakkerskampe vroeër vanjaar in ligte laaie gelaat het.

Die feit dat tot 100 000 Mosambiekers die grens na Mosambiek vir die groot vakansiedae in Desember – sonder die nodige grensbeheer – oorgesteek het, blyk uit 'n berig van SAUKTV-nuus. Daarin is reguit gesê dat dié Mosambiekse vreemdelinge geensins oor die nodige dokumentasie beskik nie – en dat die oortreders nie weens hul versuim vervolg word nie.

Daar kan met groot stelligheid aanvaar word dat die strengste grensbeheer tussen Suid-Afrika en Mosambiek by die Krugerwildtuin geskied waar inkomende Mosambiekers van tyd tot tyd 'n leeu ten prooi val. Die Krugerwildtuin se veldwagterspatrollies moet ook in 'n sekere mate as afskrikmiddel dien.

Die feit dat Mosambiekers onwettig Suid-Afrika instroom, strook ook met wat in ander buurstate gebeur. Landbou-verteenwoordigers in Noord-Transvaal het die beweging van swart vreemdelinge oor die grens na Zimbabwe tydens 'n Paasnaweek  gemonitor. Die reusagtige omvang van dié mensebeweging – dit wil voorkom asof soveel soos 250 000 Zimbabwiërs tydens die Paasnaweek oor die grens kan beweeg en dan weer na Suid-Afrika terugkeer – laat 'n mens met net een gevolgtrekking: Wat Suid-Afrika en Zimbabwe betref, het daar vir alle praktiese doeleindes net een burgerskap ontstaan.

Ook wat Swaziland aangaan, bestaan 'n soortgelyke situasie. Net Rooikappie glo dat daar grensbeheer tussen Suid-Afrika en Swaziland is. Daar heers klaarblyklik 'n vrye beweging van mense – en diere – oor die grens tussen Pongola en Piet Retief.

Wat Lesotho betref, 'n staat wat deur Suid-Afrika omring word, geld dieselfde situasie. Die Oos-Vrystaat word behoorlik deur veediefstal uit Lesotho geteister. Die Vrystaatse dorpe na aan die grens loop konstant onder misdaad, ook plaasterreur, deur. Van die bloedigste plaasterreur en mense-uitwissing aan die hand van swartes kom in hierdie gebied voor.

Dat daar nie eintlik sprake van grensbeheer tussen Botswana en Zimbabwe is nie, blyk uit die feit dat derduisende swartes uit Zimbabwe hulle in die laaste sewe jaar in Botswana tuisgemaak het.

Die feit dat besmette vee die grense tussen die buurstate oorsteek, kan insgelyks nie weggeredeneer word nie. Ook wat hierdie saak betref, leef ons land met 'n tydbom aan die tik.

Die vraag kan met reg gestel word: Is die gebrek aan mense- en dierebeheer maar net die gevolg van die verafrikanisering wat by die verantwoordelike owerheidsinstellings ingetree het, of moet die wortel van die kwaad elders gesoek word?

Daar is meer as een owerheidsinstansie by grensbeheer betrokke. Dit sluit binnelandse sake (besoekerspermitte en reisdokumente), doeane, die departement van arbeid (werkspermitte), gesondheid (mensesiektes), landbou (dieresiektes), en die polisie (die bekamping van smokkelary in dwelms, vee en gesteelde voertuie – wat in hul duisende die grens oorgebring word) in.

Die eise wat so 'n omvangryke en gekoördineerde optrede betref, blyk net te groot wees vir 'n derdewêreldland soos Suid-Afrika.

Maar net so belangrik in die oorweging van die saak is die feit van die bestaan van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die doelbewuste uitwissing van landsgrense wat deel van die mensdom se lot geword het met die aanbreek van die Anglo-Amerikaanse magsentrum se sogenaamde Nuwe Wêreldorde.

Voormalige amptenare wat met grensbeheer tydens die bewind van PW Botha te make gehad het, verklaar hulle het opdrag gekry om die grense tussen Suid-Afrika en sy buurstate as "sag" te beskou.

Wat ons vandag ervaar, is dus maar net dat die onkruidsaad wat al 19 jaar gelede gesaai is nou in sy volle aaklige blom staan.

Aaklig – want landsgrense, arbeidsgrense en volksgrense is daar om die burgers van die land te vrywaar van die mededinging van vreemdes se goedkoop arbeid, die siektes wat hulle dra, asook die siektes wat hul vee dra. Veral in 'n tyd soos hierdie waar die internasionale ekonomiese en arbeidsorde uitmekaar val en waar, anders as wat Darwin leer, nie die geskikste nie, maar die wreedste en magtigste en slegste en onderduimste kan oorleef.

'n Mens huiwer om te vra hoe 'n owerheid nog aan die wéttige burgers van die staat kan sê hy begroot en beheer en administreer die land vir 'n getal van soveel burgers as hy nie eens weet hoeveel vreemde mense hulle in daardie land bevind nie?

Want reeds rondom hierdie wéttige inwoners bestaan daar 'n kwessie. Hoeveel mense, miljoene, beskik oor 'n wéttige status bekom wat van hierdie baie eienaardige owerheid bekom is? Hoeveel paspoorte, ID-dokumente, reis-, verblyf- en werksdokumente is nie vals nie?

Watter proses word gebruik om die derduisende mynwerkers uit die buurstate in die land toe te laat? Is dit 'n deursigtige proses? Sal onafhanklike instansies, byvoorbeeld een of ander swart binnelandse waaksaamheidsgroep, toegelaat word om die proses te verifieer om te verseker dat plaaslike swart arbeid nie in die proses te na gekom word nie? Hoeveel van hulle is draers van die MIV/vigs-virus, 'n hoogs aansteeklike Afrika-siekte wat jy liefs buite jou land se grense wil hou? Hoeveel van hulle is veroordeelde misdadigers,  wat in die ou dae grond vir die weiering van ongewenstes binne die land se grense was?

Hoeveel van hulle mag stem in verkiesings soos dié van aanstaande jaar?

In Oos-Transvaal woon honderdduisende Swazi's. Oos-Transvaal is seker een van die veiligste ANC-provinsies – meer as 80 persent van die uitgebragte stem gaan gewoonlik aan die ANC.

Oos-Transvaal is ook die woonplek van baie Zoeloes, dus potensiële IVP-ondersteuners. Maar die IVP maak nie hond haar-af daar nie want die Swazi's stem eenvoudig net vir die party (die ANC) wat hul teenstanders (die Zoeloes) op hul neuse laat kyk.

Daar is nie betroubare syfers beskikbaar nie. Maar 'n mens kan met vrymoedigheid aanvaar dat miljoene van hierdie gedomilisieerde vreemdelinge uit Suid-Afrika se buurstate aan aanstaande jaar se verkiesing sal deelneem. En dan karring onnadenkendes nog dat Afrikaners hul kruisies tydens hierdie klug moet gaan trek!

Die blankes in hierdie land moet eerder hulle belaglike stemkoors oorkom en hulle energie kanaliseer na die wesenlike krisisse in Suid-Afrika wat vroeg in 2009 nog duideliker gaan blyk as gevolg van die "eenburgerskap" van die land met sy swart buurstate.

игрушка интернет магазин

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.