Bring Afrikaans by Maties terug, sê PRAAG

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) het Vrydag sy standpunt oor die konseptaalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch aan dié instelling oorgedra. Anders as die meeste Afrikaanse organisasies, asook die Gelyke Kanse-groep wat onlangs gestig is, wil PRAAG sien dat Stellenbosch weer ‘n Afrikaanse kampus word. Hier volg die volledige kommentaar wat aan die universiteit deurgestuur is.

Heil die leser!

Daar is verskeie aspekte van die US se konseptaalbeleid waarteen ons ernstig beswaar het, alternatiewelik meen op vergissings berus.

1. Die begrip “meertaligheid”

Suid-Afrika bevind hom nie in ‘n meertalige omgewing nie. Engels oorheers alle aspekte van die openbare lewe en ‘n Marsman wat die land besoek, sou hoogs verbaas wees om te verneem dat daar enige ander taal in die land gepraat word. Die probleem waarvoor die Universiteit van Stellenbosch te staan kom, is dus hoe om in ‘n abnormale omgewing van taaloorheersing en die kusmatige hegemonie van een taal wat in 1994 geskep is, ‘n mate van “normale” taalgedrag te handhaaf.

Tipies bevind Suid-Afrika hom tans in ‘n tydvak van taaloorheersing, soortgelyk aan dié wat in België voor die tweede wêreldoorlog bestaan het toe Frans geheel en al oorheers het.

Die taak van die universiteit sou dus wees, indien Afrikaans hoegenaamd as akademiese en kultuurtaal gaan oorleef, om die omringende hegemonie van Engels teen te werk.

2. Die ‘drie tale van die Wes-Kaap’

In die konseptaalbeleid word daar na die “drie amptelike tale van die Wes-Kaap” verwys. Hoewel dit tegnies korrek mag wees, aangesien die provinsiale regering daardie drie tale aanvaar het, behoort Afrikaans ‘n voorkeurposisie te geniet omdat dit tegelyk ouer – en dus meer “inheems” – as die ander twee (isiXhosa en Engels) is. Afrikaans is ook die meerderheidstaal in die provinsie, en behoort dus meer as die ander twee gebruik te word. IsiXhosa is bowendien ‘n sg. “migrantetaal”, aangesien sprekers van dié taal van die Oos-Kaap afkomstig is. Soos ons in die Europese Unie kan sien, geniet “migrantetale” nie dieselfde status as inheemse tale nie, daarom behoort isiXhosa geensins aan die Universiteit van Stellenbosch erken te word nie. Universiteite in die Oos-Kaap soos die Walter Sisulu-universiteit, Fort Hare, of die Nelson Mandela-universiteit is veel beter geleë en toegerus om hulle met isiXhosa besig te hou.

Tans is die enigste rede waarom isiXhosa aan die US erkenning geniet, ‘n soort poging om polities korrek aan te doen, wat van meet af aan gedoem is om te misluk. Die vyande van Afrikaans heg geen waarde daaraan nie, en dit doen boonop afbreuk aan die aanspraak dat Afrikaans wel aan die US gehandhaaf en gedoseer behoort te word.

3. ‘Diversiteit’

Die begrip “diversiteit” soos dit in die konseptaalbeleid gebruik word, is Amerikaans van oorsprong en het betrekking op Amerikaanse rasseverhoudinge, met ander woorde getalleverhoudings tussen blankes, swartes, Hispaniërs en Oosterlinge. Met taal- of kulturele diversiteit het dit min te make. Die enigste manier om taaldiversiteit in Suid-Afrika te verseker, is om bepaalde instellings soos in België of Kanada byvoorbeeld, toe te laat om klasse hoofsaaklik in een bepaalde taal aan te bied. In die geval van die US kan daardie taal net Afrikaans wees, want daar bestaan reeds nie minder as twee Engelstalige universiteite in die Wes-Kaap nie, te wete Kaapstad en Wes-Kaap.

Dit spreek vanself dat die universiteit sy Afrikaanse aanbod behoort te verhoog, asook die aanleer van Afrikaans behoort aan te moedig, pleks van ‘n gewaande “meertaligheid” aan te hang wat op die duur nie kan slaag nie, omdat dit bloot ‘n “halfwegstasie” op pad na volslae verengelsing verteenwoordig.

4. Sosiolinguïstiese wette

By die opstel van die huidige konseptaalbeleid, lyk dit nie asof daar enige insette van taalkundiges was nie. Prof. Jaap Steyn, voorheen van die Vrystaatse Universiteit, wat tegelyk ‘n sosiolinguïs van formaat en ‘n kenner van die Afrikaanse taalgeskiedenis is, sou ‘n waardevolle rol kon speel om ‘n meer realistiese taalbeleid te formuleer.

Dis eenvoudig ‘n sosiolinguïstiese wet dat waar ‘n oorheersende taal wat tegelyk die enigste de facto-voertaal van die staat is en die taal waarin die meeste internasionale kommunikasie plaasvind, te wete Engels, met ‘n kleiner taal soos Afrikaans in mededinging gestel word, Afrikaans telkens gaan verloor. Daarom behoort die Universiteit van Stellenbosch eerder ‘n “veilige ruimte” vir Afrikaans te skep, pleks van te poog om tegelyk Afrikaans én Engels te akkommodeer, wat op die duur nie volhoubaar gaan wees nie. Daar is reeds verskeie voorbeelde soos die voormalige Universiteit van Port Elizabeth of die Randse Afrikaanse Universiteit wat ná ‘n tydperk van “tweetaligheid” gewoon honderd persent Engels geword het.

5. Taalregte

Hoewel taalregte tans in Suid-Afrika nie erken word nie, is daar tog internasionaal ‘n toenemende sensitiwiteit rondom taalregte, asook kulturele diversiteit. Die reg van gemeenskappe op opvoedkundige instellings in hul eie tale, asook die ontwikkeiing van hul kulture, word byna universeel erken en is ook in verskeie internasionale verdrae vervat.

Die grondwetlike liggaam in Suid-Afrika wat die universiteit sou moes te hulp gesnel het, sou PANSAT wees. Weens korrupsie en wanbestuur, is daardie liggaam egter deur die minister van kultuur ontbind. Daarom bevind Suid-Afrika hom in ‘n soort niemandsland wat taalregte betref aangesien geen van die erkende internasionale beginsels rondom taalregte hier skyn te geld nie, tesame met PANSAT wat ‘n wesentlike ondergang beleef het.

As ‘n instelling wat ook internasionale norme in ag behoort te neem, behoort die US nie slaafs die gebrek aan taalregte in die land na te volg nie en meer bedag te wees op sy verpligting om juis die beleërde minderheidstaal, Afrikaans, ter wille te wees.

Die Universiteit van Stellenbosch is die enigste suidelike universiteit waar daar steeds klasse in Afrikaans aangebied word. Boonop is dit deel van sy stigtingsvoorwaarde uit 1915 toe hy die skenking van wyle mnr. Jannie Marais ontvang het.

Deur sy Afrikaanse aanbod te verhoog en Engels geleidelik uit te faseer, sal die US daarom ‘n bydrae tot taalregte en -diversiteit lewer, terwyl hy sy oorspronklike mandaat as Afrikaanstalige instelling voortsit.

6. Die US as ‘kennis’-gerigte instelling

In die konseptaalbeleid word daar gewag gemaak van die begrip “kennis”. Dis sekerlik ‘n gemeenplaas om te sê dat kennis nooit neutraal is nie, maar altyd deur een of ander ideologiese horison begrens word. “Engelse kennis” is in ons tydvak met die VSA wat poog om ‘n globale hegemonie deur middel van oorloë en ekonomiese afpersing te verkry, allermins neutraal. Dit is uiters kommerwekkend dat die US byvoorbeeld so ‘n groot afhanklikheid van voorgeskrewe werke in Engels toon, terwyl tekste uit ‘n groot verskeidenheid tale na Afrikaans vertaal sou kon word. Terwyl die koste van publikasie op papier in die verlede grootskeepse vertaling duur gemaak het, gee elektroniese publikasie tans aan Afrikaans die geleentheid om tot sy reg te kom as ‘n voertuig vir diverse kennis uit internasionale bronne.

‘n Verdere aspek van die oorheersing van Anglo-Amerikaanse “kennis” wat deur medium van Engels aan Suid-Afrikaanse universiteite in die hand gewerk word, hang saam met ‘n denkrigting wat sedert die sestigerjare as “kultuurmarxisme” bekendstaan en die meeste universiteite in die Angel-Saksiese wêreld stormenderhand verower het, ten minste sover dit die geesteswetenskappe betref. Hierdie stel dogmas en vooroordele beroof die Afrikaanse student van die geleentheid om meer krities met kennis om te gaan en sy horisonne te verbreed. Hoe meer Engels, hoe minder meningsdiversiteit en werklike kennis wat oorgedra word.

Die universiteit is daarom geen neutrale instelling waar kennis in afgemete dosisse aan studente “toegedien” word nie, maar is self onderwerpe aan die tydsgees en aan magsverhoudings wat in die breër samelewing geld. Nietemin, net soos wat die Engelse universiteite in Suid-Afrika dit tydens veertig jaar van Afrikanerbewind moontlik gevind het om getrou aan hul aard “Engels” en “liberaal” (in die Amerikaanse sin van die woord) te bly, is dit vir die US onder ‘n Engelstalige ANC-regering moontlik om wesentlik Afrikaans te bly en ‘n tradisionele openheid teenoor die Europese Vasteland en tale soos Nederlands, Duits, Frans, Russies, Italiaans en hul kennis- en denktradisies te behou.

7. Skaal en studentegetalle

In die meer onlangse verlede, en waarskynlik weens die subsidieformules wat geld, het die meeste universiteite groter studentegetalle en sogenaamde “groei” nagejaag. Dit staan in skrille kontras met die beste universiteite ter wêreld waar getalle dikwels konstant bly omdat die toelatingsvereistes onder andere so streng is. Daarom behoort die US liewer “gehalte in Afrikaans” na te streef, as “getalle in Engels”. Immers bestaan daar reeds twee Engelstalige kampusse in die Wes-Kaap, asook bykans twintig universiteite elders in die land waar Engels as onderrigmedium gebruik word.

In die belang van sy langtermyntoekoms behoort die US inderdaad af te skaal en sy taalbeleid dienooreenkomstig meer na die Afrikaanse kant te verstel. Daardie dosente en studente wat hulle meer tuis in ‘n Engelse omgewing voel, beskik reeds oor ‘n wye keuse van instellings, sowel plaaslik as internasionaal, waarheen hulle hul kan wend sonder dat daar hoegenaamd op hul regte of brandende behoefte aan Engels inbreuk gemaak word.

8. Oriëntering van studente

Die taalkonflikte aan die US het grotendeels ontstaan weens ‘n verwarring wat by sommige posgevat het dat die universiteit sonder meer soos die voormalige RAU, UPE, ens., na ‘n eentalig Engelse kampus sou oorskakel. Die universiteit behoort studente daarop attent te maak dat Stellenbosch juis van oorsprong en hopelik toenemend in die toekoms ‘n Afrikaanstalige instelling sal wees.

Afrikaansvyandige dosente aan die universiteit wat tans agiteer dat die US Engels behoort te word, behoort pakkette aangebied te word of andersins aangemoedig te word om ander weivelde te soek, aangesien hulle die belangrikste aangstigters van onmin op die kampus is.

Daarmee saam behoort alle Afrikaanse studente met die intrapslag tydens eerstejaarsoriëntering oor hul taalregte ingelig te word, asook al die voordele wat aan studie in Afrikaans verbonde is. In dié opsig kan buite-instansies en Afrikaanse taalorganisasies (soos PRAAG byvoorbeeld) betrek word, waar nodig. Te veel dosente is besig om deur middel van subtiele druk op studente, of selfs viktimisering van studente wat op Afrikaans aandring, die verengelsingsproses in die hand te werk.

9. Taalombudsman

Die US behoort ‘n taalombudsman aan te stel wat klagtes van studente oor taal kan ondersoek en hulle teen anglofiele of anglomaanse dosente – waarvan baie oor Afrikaanse vanne beskik – kan beskerm.

10. Gevolgtrekking

Pleks van ‘n gewaande “meertaligheid” – die halfwegstasie na Engels – na te streef, behoort die US Afrikaans as hoofvoertaal en -doseertaal op die kampus te herbevestig. Die taalregte van die Afrikaanse student behoort in beskerming geneem te word, net soos die regte van die Engelse student reeds op soveel ander kampusse in die land gehandhaaf word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.