Karel Combrinck: Bush en Obama in die bed oor 9/11

Deel op

Sedert die 11 September 2001-aanslae teen die tweelingtorings van die World Trade Center in New York en die Pentagon in Washington, het ‘n legio teorieë ontstaan wat probeer verklaar wie eintlik vir die aanslae verantwoordelik was. Sommige van hierdie teorieë lyk na onsin, ander weer kom besonder geloofwaardig voor en mag inderdaad selfs die waarheid wees. Maar dit is ook so dat daar soveel stories is dat ‘n gewone mens moeite het om die kaf van die koring te skei. Dit is nie die bedoeling om al die ontledings en teorieë wat in omloop is, hier te probeer herhaal nie , maar bloot om enkele gevalle uit te lig wat moontlik interessant mag wees.

Na die 9/11-aanslae was daar uit die staanspoor waarnemers wat gemotiveerde beskuldigings gemaak het dat daar ‘n sterk verband bestaan tussen die aanvalle in New York en Washington, en Saoedi-Arabië was. En meer nog is daar selfs agterdog dat die Amerikaanse regering bewus was van Saoedi-betrokkenheid en dat hulle dit oogluikend toegelaat het, of nog erger, bevorder het en in elk geval nog steeds verdoesel.

Van die feite wat bekend is, is onder meer dat van die 19 terroriste wat by die aanval betrokke was, 15 burgers van Saoedi-Arabië was. Osama Bin Laden was natuurlik self ook ‘n Saoedi, hoewel daar twyfel is of Bin Laden hoegenaamd by die aanvalle betrokke was. Verder is dit ook so dat al 19 van die aanvallers visums gekry het om Amerika te besoek, ten spyte van die normale drakoniese Amerikaanse visumvereistes, veral ten opsigte van besoekers uit die Midde-Ooste. (Vergelyk daarmee dr Roodt se visumaansoek wat geweier word.)

Daar is ook eerstehandse getuienis van Amerikaanse konsulêre beamptes wat ten tye van die aanslag in Saoedi-Arabië diens gedoen het, dat druk « van bo » op hulle uitgeoefen is om visums aan lede van die terroristekommando toe te staan en in minstens een geval bloot opdrag ontvang het dat hy ‘n visum moet toestaan. In ander gevalle is konsulêre beamtes gedreig dat hulle hul betrekkings sou verloor indien hulle sou weier om visums aan bepaalde persone toe te staan.

Dit is ook bekend dat verskeie van die terroriste vliegopleiding aan Amerikaanse vliegskole ontvang het. Die opleiding was natuurlik met die oog op die aanvalle in New York en Washington. Die Amerikaanse polisie en intelligensiedienste was bewus daarvan dat Arabiere vlugopleiding in Amerika kry, maar het niks daaromtrent gedoen nie. Nog ‘n raaisel in hierdie verband is hoedat die Arabiere (daar was vier) wat skynbaar geen vorige vliegondervinding of kennis gehad het nie, binne enkele maande kon vorder na ‘n punt waar hulle reusepasssierstralers kon vlieg op ‘n uiters komplekse sending. Om ‘n groot Boeing of Airbus te kan vlieg, neem vanaf die stadium van ondervinding op ‘n ligte eenmotorige skroefvliegtuig normaalweg tot 20 jaar met duisende ure vliegondervinding.

En dan is daar nog die die verslag van die gesamentlike komitee van ondersoek van die Amerikaanse Kongres (President, Senaat, Huis van Verteenwoordigers) na die 11 September-aanslae waarvan die eerste 28 blasdsye deur Pres George Bush tot geheime dokument geklassifiseer is en wat, volgens talle kommentators aanduidings bevat van Saoedi-betrokkenheid by die aanvalle. Inderdaad eienaardig dat in die wêreld se grootste demokrasie, die bevolking nie mag weet wat die bevindings is van hulle verkose verteenwoordigers oor so ‘n belangrike aangeleentheid nie.

Op 17 April vanjaar het daar ‘n artikel in die New York Post verskyn wat onder meer soos volg lui :

« The Saudi Kingdom’s involvement was deliberately covered up at the highest levels of our government. And the coverup goes beyond locking up the 28 pages of the Saudi report in a vault of the US Capitol basement. Investigations were throttled , co-conspirators were let off the hook. Time and time again. »

Nou was daar die afgelope dae weer ‘n interessante nuwe verwikkeling wat lig op die aangeleentheid mag werp. ‘n Moslemfundamentalis wat sedert 2009 vir terroristebedrywighede in ‘n Amerikaanse tronk aangehou word, Zacharias Moussoui, het naamlik so pas in ‘n beëdigde verklaring bekendgemaak dat die 11 September 2001-aanslag deur Saoedi-Arabië beplan en gefinansier is. Hierdie verklaring is uiteraard ‘n reuseknuppel in die bos en verwek groot opspraak in Amerika.

Die posisie is nou dat die Amerikaanse regsowerhede ‘n ondersoek na die aantygings wil begin, maar dat ten einde dit moontlik te maak, wetgewing skynbaar eers nodig is, aangesien ‘n vreemde moondheid betrokke is. Volgens berigte staan Barack Obama wetgewing van hierdie aard ten sterkste teen. Weereens vreemd. Daarenteen dring die naasbestaandes van die 3000 Amerikaners wat in die aanvalle omgekom het, weer sterk aan op ‘n regsondersoek, soos verstaanbaar is.

Die interessantste en ook die moeilikste vraag bly egter dat indien die Saoedi’s wel agter die 11 September-aanvalle gesit het en die Amerikaanse regering dit oogluikend toegelaat het, dan waarom? Ek wens ek kon die vraag beantwoord. Dit kan wees dat die aanvalle georganiseer is ten einde die Amerikaners van ‘n voorwendsel te voorsien om die kaarte in die olieryke Midde-Ooste deurmekaar te krap. Duidelik het die Amerikaners die aanslag van 11 September gebruik om openbare gevoelens teen Saddam Hoesein op te sweep en militêre optrede teen hom, Ghaddafi van Libië en Bachir Al Assad van Sirië te regverdig. Ironies is dat al drie hierdie leiers geswore vyande van Moslemfundamentalisme, insluitend Al-Kaida was en is.

Vir die rekord kan daarop gewys word dat dit natuurlik nie die eerste keer in die geskiedenis sal wees dat ‘n groot moondheid ‘n foefie gebruik om ‘n oorlog te begin nie. So is daar baie gesaghebbendes wat glo dat die Amerikaners die passasierskip, die Lusitania gekelder het ten einde Amerika se betrokkenheid in die Eerste WO te bespoedig. Soortgelyk is die menings dat Amerika ook die aanval op Pearl Harbour georkestreer het om Amerika by die Tweede WO te betrek. Dink ook maar aan ons eie geval hoe die Engelse die uitlanderkwessie gebruik het as voorwendsel om die Boererepublieke te vernietig.

In ‘n werk, Visas for Al-Qaida, wat in 2015 verskyn het, skryf ‘n voormalige Amerikaanse konsulêre beampte in Saoedi-Arabië, Michael Springmann : « This tale is a sordid sketch of backstabbing, disloyalty, double crossing, faithlessness, falsity, perfidy, sellouts, treachery and betrayal. All of this is in addition to the stupidity and incompetence normally manifested by the State Department and the intelligence services ». Dit sê omtrent alles. Terselderyd is dit ook die beste beskrywing van die laaste dae van die Nasionale Party-regering wat ek nog onder oë gehad het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.