Studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat vandeesweek kennisgewings ontvang het om voor ‘n dissiplinêre komitee te verskyn oor rassekonflik, sal nie geskors word hangende die verhore nie.
Die universiteit wil egter nie die name bekend maak van diegene wat kennisgewings ontvang het om te verskyn nie.
Hulle is aangekla weens hul beweerde betrokkenheid by die Shimlapark-bakleiery vroeër vanjaar, maar sal nie geskors word nie.
In ‘n verklaring het die UV se woordvoerder, Lacea Loader, erken dat dissiplinêre stappe teen ‘n aantal studente geneem word wat betrokke was by die voorval waarin ‘n Varsitybekerwedstryd tussen die Shimlas en Madibaz onderbreek is.
‘n Groep betogers het op die rugbyveld gestorm waarna wit toeskouers op die veld gehardloop het en die betogers van die veld verjaag het.
Loader sê studente wat onder die toeskouers was wat betogers op die veld aangerand het asook die betogers wat betrokke was by dade van vandalisme en ander wangedrag tydens die onrus van 22 Februarie tot 26 Februarie op die Bloemfontein-kampus het kennisgewings ontvang.
Sy sê die UV het ‘n verantwoordelikheid om dissiplinêr op te tree.
Diegene wat aangekla word is versoek om môre ‘n vergadering by te woon om reëlings te tref met betrekking tot die verhore.