‘Die oorlog teen Afrikaans’: nuwe Dan Roodt-artikel op Amerikaanse webblad

Deel op

Dr. Dan Roodt van PRAAG het einde verlede week ‘n artikel, The War on Afrikaans, op die invloedryke Amerikaanse webblad American Renaissance gepubliseer oor die aanvalle op Afrikaans wat tans by verskeie kampusse in die land plaasvind. Die redakteur van die webblad is mnr. Jared Taylor, ‘n Amerikaanse intellektueel wat in Japan grootgeword en aan die Yale-universiteit gestudeer het. Hy was redelik onlangs in die nuus as een van die ondersteuners van Donald Trump se veldtog om president te word.

American Renaissance beywer hom vir blanke of Westerse belange wêreldwyd en daar is gereelde wisselwerking tussen dié organisasie en Europese politieke partye wat teen immigrasie gekant is, soos die Vlaams Belang, Nederlandse PVV en ander. Senator Anke Vandermeersch van België is genooi om by die eersdaagse American Renaissance-konferensie naby Nashville, Tennessee, te praat. Die konferensie word van 20 tot 22 Mei gehou. Dr. Dan Roodt is ook een van die genooide sprekers, maar omdat die Obama-administrasie nie van pro-blanke groepe soos American Renaissance hou nie, word visumaansoeke vir sprekers nie maklik toegestaan nie. Dr. Roodt se visumaansoek is aanvanklik deur ‘n swart Amerikaanse amptenaar by die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg afgekeur en is vir “verdere administratiewe verwerking” na Washington verwys.

“Dis vir my ongelooflik dat voormalige terroriste soos Tokyo Sexwale of Albie Sachs geredelik visums vir die VSA bekom, terwyl ek wat nog nooit by enige politieke geweld betrokke was nie, blykbaar nou persona non grata in Amerika geword het,” sê Roodt. “My vorige Amerikaanse toeristevisum was vir tien jaar geldig en ek het alle voorwaardes stiptelik nagekom.  ‘n Mens hoop dat mnr. Donald Trump president sal word, waarna dié openlike diskriminasie teen ons Afrikaners beëindig behoort te word.”

Dr. Dan Roodt het ook in ‘n epos aan die Amerikaanse konsulaat geskryf dat hy “geen voorneme het om ooit na die VSA te emigreer nie en dat hy oor familie-, taal- en kulturele bande met Suid-Afrika beskik wat na die vroeë agtiende eeu teruggevoer kan word”. Boonop beskik hy oor geen misdaadrekord nie. Hy vind dit dus uiters vreemd dat die Amerikaanse konsulaat tot dusver weier om sy toeristevisum te hernieu.

Indien hy nie toegelaat word om die VSA te besoek nie, sal dr. Dan Roodt die organiseerders van die American Renaissance-konferensie vra om ‘n video-opname van sy voorgenome referaat voor die gehoor te speel.

“Selfs nie eens die magtige Amerika moet toegelaat word om ons stil te maak nie,” sê hy. “Ons saak is reg en ons kan dit teenoor enigiemand stel, selfs teenoor president Obama en die Demokratiese aanspraakmaker, senator Hillary Clinton. Ons is ‘n inheemse volk wat deur vreemdelinge oorheers word wat ons skole, universiteite, museums en biblioteke strydig met internasionale reëls verwoes en ons boonop seggenskap in die besteding van ons belastings weier, hetsy op munisipale, provinsiale of nasionale vlak.”

Dr. Dan Roodt is gewoond daaraan om teen ‘n establishment te baklei. “Kyk, in die ou dae het die NP-Broederbond-establishment in Suid-Afrika ook die lewe vir ons moeilik gemaak,” sê hy. “Jy kon nêrens in Afrikaans werk kry nie en is oral uitgesluit of verguis, of jy nou regs of links was. Die arme HNP-mense is oral soos muishonde behandel en Jaap Marais is vir ‘n malmens uitgekryt toe hy gewaarsku het oor die gevaar van ‘n NP-oorgawe aan die ANC en SA Kommunisteparty. En tog is al sy voorspellings bewaarheid! Hoewel ek nie veel met Breyten Breytenbach se idees saamstem nie, dink ek nie hulle moes hom agt jaar in die tronk laat sit het nie. Waarvoor? Tans poog Piet Croucamp, wat deel is van die huidige ANC-Afrikaner-establishment om alle Afrikaners sáám te vervolg, of dit nou ek, Breyten Breytenbach, Louise Mabille of wie ook al is. Kallie Kriel en Flip Buys van Soliforum werk saam met die FW de Klerk-stigting om ons stemme dood te maak, maar ons trotseer dit alles. Ons sal die huidige polities korrekte owerheid in die VSA ook trotseer, want uiteindelik móét trotse Europeërs en Afrikaners wêreldwyd seëvier. Ons het ons nog nooit permanent deur Arabiere, Turke, Meksikane of Zoeloes laat oorheers nie. Ons werk saam met Amerikaners, Franse, Nederlanders, Duitsers, Swede, Italianers, Pole, Hongare, Engelse en wie ook al om die dwingelandy van politieke korrektheid en oorgawe aan die derde wêreld teen te staan. Die stryd in Suid-Afrika is deel van die groter stryd om Westerse en Europese oorlewing.”

‘n Paar Amerikaners het voorgestel dat Roodt na Meksiko vlieg en dan ongesiens die Rio Grande oorsteek, soos wat onwettige immigrante uit dié land na die VSA maak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.