Valke maak nie hond haaraf teen stropers nie

Deel op

Die Valke in die Noord-Kaap se ondersoek na twee afsonderlike voorvalle waarin twee renosters onlangs op ‘n plaas naby Kimberley doodgeskiet is, het nog niks opgelewer nie.

‘n Witrenosterkoei se ontbinde karkas is gekry. Die koeikarkas wat op 7 April op ‘n wildsplaas gevind is, het nog albei horings gehad.

Die Valke se provinsiale woordvoerder, Philani Nkwalase, sê nóg ‘n karkas is op 9 April op dieselfde plaas gevind.

Dié van die witrenosterkoei is vermoedelik geskiet ‘n paar dae voordat haar karkas gevind is en die gewonde dier het glo weggehardloop daar waar sy gevind is, gevrek.

Die ligging van waar die karkasse gevind is, gaan nie bekendgemaak word nie om verdere voorvalle te voorkom. Dié dier se horings is ook nie verwyder nie.

Nog niemand is in hegtenis geneem nie. Die polisieondersoek duur voort. Nkwalase kon nie bevestig of ‘n renosterkoei of –bul in die tweede voorval doodgeskiet is nie.

Dié dier se karkas het ook al begin ontbind, sê hy. Dit is ook steeds onduidelik of dieselfde booswigte betrokke is by albei voorvalle.

Intussen sê ‘n polisiewoordvoerder in Bloemfontein, Wendy Nkabi, die polisie soek steeds na stropers ná ‘n voorval waarin ‘n witrenosterkoei en haar kalf vermoedelik in Maart doodgeskiet en van hul horings op die Bloemfonteinse dieretuinplaas buite die stad gestroop is.

Die koei en haar kalf se karkasse is op 31 Maart deur ‘n veldwagter in ‘n kamp op dié plaas gevind.

Die polisie se forensiese eenheid en ander betrokkenes werk nou saam met streng veiligheidsmaatreëls wat in plek is op die plaas, wat goed omhein is.

Dit gaan nog verder opgeskerp word.

Nkwalase doen opnuut ‘n beroep op plaaseienaars en werknemers in die Noord-Kaap om meer paraat te wees teen renosterstropers.

Volgens hom moet gemeenskappe enige verdagte mense of voertuie wat by plase in die provinsie opgemerk word, by die polisie aanmeld.

Intussen word ‘n stryd ook om van die Valke se hoof, Berning Ntlemeza ontslae te raak.

Die voorsitter van die drukgroep Freedom Under Law, oudregter Johann Kriegler sê die hoofaansoek om te bepaal of Ntlemeza se aanstelling as hoof van die Valke wettig was, gaan voort.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.