Amerikaanse motors en die Amerikaanse eeu

ImageAmerika se eens dominante motornywerheid verkeer op die randjie van bankrotskap. Ford, Chrysler en General Motors se uitvoerende beamptes is hoed in die hand in Washington, eers soontoe gevlieg, en toe daarheen gery, om te pleit vir fondse om kop bo water te hou.

Gerugte dat General Motors (GM) (die vervaardiger van Chevrolet, Buick, Cadillac, Oldsmobile, Pontiac, Saturn, asook die Humvee- en Hummer- militêre voertuie, en deesdae ook SAAB) se rug teen die muur is, doen reeds maande lank die rondte en negatiewe kontantvloei is vinnig besig om die maatskappy se bankrekening leeg te suig.

GM was eens een van die grootste en mees winsgewende maatskappye op aarde en het 'n sentrale rol gespeel in Amerikaners se liefde vir hulle motors. Die idee dat die maatskappy, wat steeds ten minste 56 verskillende modelle bemark, binne die volgende jaar nie hulle salarisstaat sal kan laat klop nie, is skrikwekkend vir Amerikaners en veral vir die tienduisende werknemers wat regstreeks of onregstreeks salarisse ontvang uit GM se nywerheids- en handelsaktiwiteite. Bankrotskap by GM sal nie net werkers en beleggers regstreeks skade doen nie, maar sal maatskappye wat onderdele verskaf en wat op hulle beurt weer ander dienste koop, ondermyn. Uiteindelik sal die totale uitwerking baie groter as net GM wees, soos die gevolge van bankrotskap oor die ekonomie uitkring en verwoesting saai.

Image

Die beroemde Chryslergebou in New York

Chrysler, wat bekend is vir die blitsvinnige motors en kragtige enjins wat hulle vervaardig, is nie so groot soos GM nie, maar is nie minder belangrik in die Amerikaanse motormark nie. Die maatskappy, wat hoofsaaklik Chrysler-, Dodge- en Jeep-modelle vervaardig en bemark, is ook in die knyp. Dit word nou algemeen aanvaar dat beide GM en Chrysler as maatskappye gaan verdwyn, maar dat van die handelsname mag oorleef as hulle deur ander (oorsese) maatskappye soos Nissan, Toyota of Hyundai gekoop word. 'n Alternatiewe scenario stel nasionalisering van GM en Chrysler voor, met die Amerikaanse regering wat die maatskappye oorneem omdat hulle so belangrik in die Amerikaanse ekonomie geag word.

Die laaste van die "Groot Drie" ("Big Three", soos dikwels na die maatskappye verwys word) is Ford, vervaardiger en bemarker van Ford-, Mercury- en Lincoln-modelle. Die maatskappy is miskien die gesondste van die drietal, en mag dalk die huidige krisis (min of meer) oorleef.

Die Groot Drie se finansiële probleme is nie 'n groot verassing nie. Die markaandeel van Amerikaanse motormaatskappye neem reeds dekades lank in sowel plaaslike as oorsese markte af, terwyl Asiese motormaatskappye merendeels met beter reklame en soms met beter produkte die motormark oorheers. Honda, Nissan, en selfs Hyundai, is besig om stof in die Amerikaanse motorvervaardigers se oë te skop, en mag selfs die Groot Drie oorneem in 'n ekonomiese magsvertoon vanaf Asië. In sekere opsigte is daar 'n historiese parallel hier met Britse motormaatskappye.

Daar was eens 'n gevestigde motorkultuur in Imperiale Brittanje. Maatskappye soos Rolls-Royce en Bentley het uitstekende luuksevoertuie vervaardig en doen dit nog steeds (Volkswagen het Bentley oorgeneem, en Rolls-Royce vervaardig 'n reeks produkte wat onder andere stralerenjins insluit). Jaguar se blitsvinnige sportmodelle van die 1950s en 1960s het nou in besadigde en meer luukse grasie ontvou (Jaguar is nou deel van Tata Motors in Moembaai). Dan is daar ook nog Lotus (oorgeneem deur Proton van Maleisië), Aston Martin (nou deel van Ford), McLaren (Ford), Landrover (nou onder beheer van Tata Motors), en BMC (vervaardiger van die Morris Minor en Mini) – die samesmelting van Aston Martin met Morris, MG en Riley het bekend gestaan as BMC (die British Motor Company).

Britse motormodelle soos die Morris Minor was eens die Britse middelklas se wiele en is steeds 'n gesogde versamelstuk. Ander modelle, soos die Aston Martin, Anglia, Rover, Triumph, en die Mini was volop in Suid-Afrika in die 1960s, terwyl ouer mans vandag nog drome droom oor die Jaguar E-tipe. As Britse vervaardigers eens gesogte motors bemark het, is hulle ondergang as dominante maatskappye simptomaties van die ondergang van die Britse ekonomie (wat met Noordsee-olie 'n oplewing onder Thatcher getoon het, maar wat nou weer kwyn na gelang van die afname in Noordsee-olieproduksie).

Soortgelyk aan die ondergang van Britse motorvervaardigingsmaatskappye, is die ondergang van die Groot Drie simptomaties van strukturele krake in die Amerikaanse ekonomie.

Probleme in die Amerikaanse ekonomie kan teruggevoer word tot die oliekrisis in 1974 en die piek in Amerikaanse olieproduksie in 1971. Stagflasie het die Amerikaanse ekonomie in die 1970s gekortwiek, maar ekonomiese herstel in 1982 was die begin van ten minste twee dekades se feitlik ononderbroke ekonomiese groei. Kort resessies in ongeveer 1990 en weer in 2001 het korreksies in die ekonomie meegebring, maar die dekade 1991-2001 was 'n optimistiese periode – die historikus Fukuyama het selfs die einde van geskiedenis (oorloë, siektes en dies meer) aangekondig. Sedert 2005 was daar meer dikwels tekens dat alles nie pluis is nie – Amerikaanse verbruikers het ophou spaar, begin leen, en was besig om geld soos konfettie rond te strooi. Die gepaardgaande kredietlas het uiteindelik in 'n finansiële krisis ontaard, wat nou manifesteer as 'n gepaardgaande resessie.

Die uitstekende ekonomie onder Reagan en Clinton het gevolg op die olieprys wat ná 1980 tot historiese laagtes gedaal het (die einde van die OPUL-oliekrisis). Onder die jonger Bush was die olieprys ook laag en ekonomiese groei is verder kunsmatig aangehelp deur histories lae rentekoerse in Amerika. Handelsoorkeenkomste en -beleid het sedert 1980 versoorsaak dat Amerika haar nywerhede na Asië uitgevoer het. Olie is van die Midde-Ooste aangekoop, motors van Japan en Korea, elektroniese produkte vanaf Sjina, selfs inbelsentra is Indië toe uitgevoer. Fantastiese hoeveelhede Amerikaanse geld is saam uitgevoer om produkte en dienste in Asië aan te koop. Terselfdertyd het Amerikaners opgehou spaar, en die tekort aan krediet is verlig deur geld oorsee te leen. Uiteindelik het Amerika geld van Sjina en ander lande geleen om motors en ander produkte vanaf plekke soos Korea en Japan aan te koop.

Ekonome waarsku reeds dekades lank dat die uitvoer van Amerikaanse rykdom (as werksgeleenthede en dollars) onvolhoubaar is. Sedert 2005 het rentekoerse en die olieprys gestyg; dit het verbandhouers in laerinkomstegroepe onder druk geplaas, en uiteindelik is soveel bankrot verklaar dat hul banke saam met hulle na benede getrek is. Die gevolglike finansiële krisis het die ekonomie vinnig ondermyn. Motorverkope van sommige modelle is ten minste 30% laer en die vallende domino's loop nou die Groot Drie te pletter.

Die idee dat die VSA se ekonomie reeds sedert die 1980s in die moeilikheid is, begin nou deurdring – die welvaart vanaf 1985 tot 2005 verteenwoordig 'n sandkasteel gebou op lenings van Asië en die goedkoop krediet wat die Amerikaanse verbruiker gebruik het om ekonomiese ontwikkeling in ander lande (Sjina, Japan, Korea) te bevorder. Dié tydvak loop nou ten einde met die ontrafeling van die ekonomie en die relatiewe ondergang van die Amerikaanse verbruiker as die dryfveer vir ekonomiese groei in Asië.

Die val van die Amerikaanse finansiële markte sedert Augustus 2008 is asembenewend, om die minste te sê. Die New Yorkse aandelebeurs het reeds ongeveer 30% van sy waarde verloor en ander beurse se verliese is min of meer soortgelyk. Die verliese veroorsaak baie angs by aftredende "babyboomers" in die VSA – 'n bedorwe geslag wat nooit materiële tekorte ervaar het nie, maar wat waarskynlik minder ryk en dalk in depressiewe toestande hulle laaste dekades gaan beleef.

Amerikaanse motorverkope het met 37% in November afgeneem en olieverbruik het ten minste 10% gedaal teenoor die vorige jaar se syfers. Amerikaners koop nie net minder motors nie, maar ry ook minder en die afname van 10% in olieverbruik is gelykstaande aan 2 miljoen vate ru-olie per dag, oftewel 3% van die wêreldolieproduksie.  Wêreldproduksie van om en by 86 miljoen vate per dag veroorsaak 'n ooraanbod en die gevolg is dat die olieprys met 'n asemrowende 70% afgeneem het vanaf histories hoë pryse net 'n jaar terug (en wat in die konteks van 'n geologiese perk op produksie veroorsaak is). Verdere verswakking in die ekonomie sal nog meer afwaartse druk op die prys van olie uitoefen en pryse so laag soos $35 per vat, of selfs minder, is nie buite die kwessie nie. Die prys sal klaarblyklik eers styg as die vraag toeneem en dit sal waarskynlik nie gebeur voor daar tekens van algemene ekonomiese herstel is nie.

Tans is die grootste gevaar dié van deflasie in die Amerikaase ekonomie: Dit gebeur as 'n tekort in krediet en geld (wat op die oomblik ervaar word) die geldeenheid se waarde verhoog. Minder geld koop dus meer produkte en nywerhede en handelaars se winste neem proporsioneel af en betaal hulle werkers minder. Die werkers se dalende inkomste veroorsaak dat hulle koopkrag afneem, wat pryse dan verder afstoot, en wat dan verdere deflasie in die geldeenheid aanhelp. Die deflasie-spiraal is selfversterkend en kan 'n ekonomie baie vinnig heeltemal verlam. Daar is egter tekens dat die sentrale banke stappe begin neem om deflasie te verhoed. Tot welke mate dit moontlik is, sal ons nog oor die volgende paar maande uitvind.

Dit is heeltemal naïef om te dink dat die res van die wëreld die Amerikaanse ekonomiese probleme sal ontduik. Asiese ekonomieë het nie verbruikers wat die wêreldekonomie soos Amerikaanse verbruikers sal kan laat groei nie en daar is reeds tekens dat Asië die Amerikaanse krisis begin voel. Die volle impak van die krisis gaan ons oor die volgende jaar voel, en almal sal die gordel moet styf trek en aanpas in 'n nuwe paradigma. Bekende handelsmerke gaan verdwyn. Die Westerse pers word baie hard getref, nie net deur die afname in ekonomiese aktiwiteite nie (dus afname in inkomste vanaf advertensies en reklame), maar ook deur lesers wat meer dikwels hulle nuus op alternatiewe maniere op die internet kry. Daar is selfs gerugte dat die New York Times in die moeilikheid is (hieroor sal ek nie 'n traan stort nie) en die Afrikaanse pers (Rapport/Beeld/Burger en Volksblad) sal die ekonomiese tsoenami nie ongedeerd vermy nie.

Die simptome van Amerika se ekonomiese agteruitgang kan ons in die lot van GM, Ford en Chrysler sien, maar dit is net die toppunt van 'n ekonomiese ysberg wat die Westerse wêreld se ekonomie gekelder het. Die Titanic het 'n reusegat in sy sykant en daar is min reddingbootjies beskikbaar. Die gevolge is besig om uit te kring. Ysland is een van die eerste slagoffers – 'n hele land het bankrot gespeel toe hulle banke gevou het as gevolg van hulle beleggings in 'n reeks banke wat soos domino's getuimel het.

Ander lande wat in die see van oorvloed gedurende die 1990s nie die mas kon opkom nie, gaan nou uitvind wat toestande behels gedurende 'n diep resessie of depressie. As Zimbabwe (of Suid-Afrika) dink dat Westerse lande soos prinse op perde aangery gaan kom om Zimbabwe van haarself te red, dan wag daar 'n wrede ontnugtering op hulle. Westerse moondhede is natuurlik verantwoordelik vir die vernietiging van Zimbabwe deur Robert Mugabe as regeringshoof op Rhodesië af te dwing, dít terwyl Ian Smith en ander se protes en waarskuwings op dowe ore geval het.  

Sedertdien het baie water in die see gevloei en soos die diere in "Animal Farm" kan ons nie meer mooi onthou wie wat gesê het nie en wie wat gedoen het nie – maar uiteindelik is Brittanje en Jimmy Carter se regering hoofsaaklik verantwoordelik vir wat ons vandag in Zimbabwe sien gebeur. Die les is dat almal uiteindelik op hulle eie is: Nie net Zimbabwiërs en die oorblywende Rhodesiërs in Zimbabwe nie, maar ook Afrikaners in Suid Afrika.

Anders as wat mense in 1975 gedag en gesê het, sal Westerse moonthede nie skroom om 'n staat (selfs Suid-Afrika) te laat faal nie. Die Weste het ander probleme en verkeer in elk geval in relatiewe verval. Die huidige ekonomiese krisis en komende demografiese uitdagings in Europa se belangrikste lande gaan baie aandag van Europa se regerings verg. Waarskynlik meer as wat hulle kan behartig.

Uiteindelik bring dit ons weereens terug by die Groot Drie en die Amerikaanse ekonomie.

'n Mens tref by baie Amerikaners 'n groot nostalgie oor motors aan. Elke Amerikaner – en in baie gevalle – elkeen wat in 'n motorkultuur groot geword het, onthou die eerste kar. In die VSA was dit altyd 'n Ford, of 'n Dodge of Chev, of as jy ryk is, 'n kragtige Corvette of selfs 'n Firebird, en as jy baie ryk is, 'n Cadillac. Die selfbeeld van Amerikaners was altyd nou verbonde aan Amerikaanse motors en die sielkunde van die Groot Drie se ondergang as simptomaties van Amerika se kulturele en ekonomiese agteruitgang moet nie onderskat word nie.

Uiteindelik is die ondergang van GM, Chrysler en Ford tekens dat die Amerikaanse oomblik ook verbygaan. Die twintigste eeu was die Amerikaanse eeu, en Amerika in die een-en-twintigste eeu sal 'n minder dominante rol internasionaal speel. In sekere opsigte heers daar 'n nuwe internasionale paradigma wat reeds nassent gevorm is: Die demografiese ondergrawing van Europa en Amerika se ekonomiese probleme gaan 'n internasionale toneel sonder 'n Eurosentriese supermoondheid skep – vir die eerste keer in ongeveer 500 jaar. Die gepaardgaande vakuum kan dalk deur Sjina gevul word of miskien is hedendaagse bespiegelinge van 'n komende (internasionale) anargie eerder korrek.

In ieder geval sal ons 'n wêreld met nuwe uitdagings betree.

воронеж стойки

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.