Wilgehof-onnie deur EFF gejag

Deel op

Die Trompsburg Primêre skool se beheerliggaam en ouers volstaan daarby dat ‘n onderwyser wat by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein afgedank is nadat hy ‘n ou Suid-Afrikaanse landsvlag en foto’s van die EFF-leier, Julius Malema, langs bobbejane in sy klaskamer vertoon het, as leerkrag op Trompsburg aanbly.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se Jaco Deacon sê die besluit is Maandag op ‘n vergadering met ouers en lede van die skool se beheerliggaam geneem.

Dit kom nadat die EFF Vrydag buite dié skool met plakkate betoog het om hul ontevredenheid te wys rakende Lenard Mac Kay, wat verlede week in ‘n beheerliggaampos by dié skool aangestel is.

‘n Griefskrif is aan dié skool se beheerliggaam-voorsitter, Willem Grobbelaar, oorhandig. Daarin eis die EFF dat Mac Kay in die pad gesteek word omdat hy onbevoeg is om met leerders te werk. Deacon sê Mac Kay het ook Maandagaand ‘n geleentheid gekry om op die vergadering te praat.

Die skool se beheerliggaam het besluit om Mac Kay in hul diens te hou en dat hy in die skool se “waarderaamwerk as opvoeder” inpas. Daar is dus nie aan die EFF se versoek voldoen dat Mac Kay onmiddellik uit sy pos ontslaan moet word nie, sê Deacon. Mac Kay gaan skoolhou soos wat ouers op die vergadering, asook die beheerliggaam besluit het.

Die EFF se Kgotso Morapela het Vrydag aan OFM-nuus gesê as die skool se beheerliggaam nie van Mac Kay ontslae raak nie, gaan die EFF dit nie daar laat nie en lede sal oorgaan tot ernstige aksie en Mac Kay self uit sy klaskamer verwyder.

Mac Kay is in 2014 deur die provinsiale onderwysdepartement as leerkrag by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein afgedank. Daar is bevind dat sy optrede onbehoorlik, skadelik en/of onaanvaarbaar was.

Die Suid-Afrikaanse Onderwyserunie (SAOU) het destyds ‘n skikking met die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace) bereik, wat hom ook skuldig bevind het. SAOU tree namens Mac Kay op.

Die skikking met Sace het behels dat die skrapping van Mac Kay se naam van die onderwysersrol opgeskort gaan word vir ‘n tydperk van tien jaar.

Dít op voorwaarde dat hy hom nie weer skuldig maak aan dieselfde tipe wangedrag nie. SAOU het verlede jaar ‘n klag van onbillike ontslag by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) ingedien. Dié arbitrasieproses is steeds aan die gang.

Mac Kay is onlangs in ‘n beheerliggaampos by die Trompsburg Primêre skool aangestel. Deacon sê die Skolewet bepaal dat beheerliggame bykomende onderwysers by skole kan aanstel as die leerkrag oor die nodige kwalifikasies beskik en aan ‘n betrokke skool se behoeftes voldoen. Hy mag dus ‘n beheerliggaampos beklee.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.