Walus-saak: Netwerk24 beskou Chris Hani as ‘held’

Deel op

In sy berig van 15 April 2016, beskryf Netwerk24, die aanlynpublikasie van Media24 wat Die Burger, Beeld en Volksblad se nuusberigte insluit, die kommunistiese terroris Chris Hani met ‘n Engfrikaanse term, “struggle-held”. Hani was in die tagtiger- en vroeë negentigerjare betrokke by terreuraanvalle op onskuldige burgerlikes in Suid-Afrika. Indien hy dieselfde dade in die VSA of Europa gepleeg het, sou iemand soos Barack Obama of mev. Hillary Clinton die spesmagte afgevaardig het om hom te gaan “elimineer” soos wat die VSA met Osama bin Laden gedoen het. Beide Obama en Clinton het die teregstelling van Bin Laden intyds meegemaak, waarna die liberale mev. Clinton met ‘n kekkellaggie gesê het: “Ons het gekom, ons het gesien, ons het doodgemaak.”

Chris Hani is volgens ‘n oud-Weermaggeneraal byna deur die Suid-Afrikaanse spesmagte in Lesotho geneutraliseer, maar ná die sameswering tussen mnr. De Klerk, die Britse ambassade en die SAKP, is Hani toegelaat om as ‘n vry man Suid-Afrika te betree en steeds agter die skerms geweld en terreur te organiseer. In reaksie hierop het die Poolse Suid-Afrikaner, mnr. Janusz Walus, die reg in eie hande geneem en hom blykbaar sonder die medewete van sy vriend, Clive Derby-Lewis, met dié se pistool gaan doodskiet. Beide Walus en Derby-Lewis het aanvanklik die doodstraf ontvang, maar dit is later in lewenslange gevangenisstraf omgeskakel. Mnr. Derby-Lewis is verlede jaar in Junie op parool vrygelaat, ná ‘n jare lange hofstryd omdat die ANC-bewind onder invloed van die Kommunistiese Party hom strydig met toepaslike wetgewing en gevangenisreëls nie op gewone parool wou uitlaat nie.

Daar word ook gepoog om Walus tot sy dood in die tronk aan te hou. Die staat se advokaat, Marumo Moerane, het aangevoer dat daar “geen gronde vir regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen se bevinding was” dat Walus soos enige ander gevangene op parool geregtig is nie. Hy het ook verwys na die moordenaar van Robert Kennedy wat reeds 48 jaar in ‘n Amerikaanse gevangenis verkeer, met die implikasie dat Walus ook tot sy dood in die gevangenis behoort te sit.

In haar reaksie het Hani se weduwee, Limpho Hani, die regter aangeval en gesê dat sy “nie God is nie” en nie oor die mag beskik om “haar lewe” te besluit nie, nadat die regter gister verlof geweier het dat die staat teen haar bevinding appelleer.

Mev. Hani se reaksies, wat ook op minagting van die hof neerkom omdat sy openlik die bekwaamheid en integriteit van die regter bevraagteken, is op eensydige wyse deur Beeld en Netwerk 24 gepubliseer, sonder enige konteks. Mev. Hani het destyds reeds by ‘n ander man geslaap terwyl Chris Hani self ook reeds ‘n ander houvrou geneem het. Nietemin dring sy aan op ‘n soort “huweliksreg” om haar man se moordenaar in die tronk te hou. Daarbenewens is Suid-Afrika destyds in konflik en wanorde gedompel deur die NP se holderstebolder-oorgawe wat groot verwarring en vrees by die publiek geskep het.

Walus en sy familie het in Pole aan eie bas die verskrikking van kommunisme ervaar, ‘n totalitêre ideologie wat die dood van 100 miljoen mense in die twintigste eeu veroorsaak het.

Gevra om kommentaar oor Beeld se gebruik van die Engfrikaanse term, “struggle-held”, het dr. Dan Roodt van PRAAG gesê:

“Myns insiens het ons hier met twee elemente te make: die Engfrikaans en die bewondering vir Chris Hani. Beeld, asook Netwerk24, staan vyandig teenoor Standaardafrikaans, hoewel dié twee organe natuurlik self voorlopig nog in Afrikaans publiseer. Vele van hul rubriekskrywers verwerp ook Afrikaanse skole en universiteite en wil dat Engels nog meer as tans in die land oorheers. Dus verklaar dit die Engfrikaans. Wat die tweede element betref, bespeur ‘n mens gereeld simpatie vir ekstreme gelykheid of kommunisme by sommige Beeld-redaksielede en rubriekskrywers. Beeld het reeds voorheen simpatie vir Heleen Pastoors, die Belgiese vrou wat die Kerkstraatbom vervoer het, uitgespreek. Dus verbaas dit nie dat Beeld nou so ‘n bietjie mosterd-na-die-maal sy bewondering vir Chris Hani en SAKP-terreur betuig nie.”

Die staat en die minister van korrektiewe dienste, gaan nou ‘n petisie na die Appèlhof in Bloemfontein rig in ‘n verdere poging om teen Janse van Nieuwenhuizen se uitspraak te appelleer. Aanstaande week bring Walus egter nog ‘n hooggeregshofaansoek waarin hy vra dat hy ten minste tydelik vrygelaat moet word terwyl die staat die appèlproses uitput.

Stem hiernaas op die regterkant van die blad in ons meningsopname: “Beskou u, soos Netwerk24, Chris Hani as ‘n ‘struggle’-held?”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.