Mantashe maan ANC om saam te staan na Gupta-skandaal

Deel op

Die Sekretaris-Generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het ‘n beroep op die drieparty-alliansie gedoen om saam te staan om die Gupta-skandaal die hoof te bied.

Mantashe het Woensdag op ‘n provinsiale beraad van die alliansie in Kimberley gepraat. Hy het gesê dit is die plig van die drieparty-alliansie om hul kragte saam te snoer om die ANC te red.

Mantashe het met verwysing na verlede week se Grondwethof-uitspraak oor Nkandla gesê die hof kan nie die president in ‘n staat van beskuldiging plaas nie.

Hy sê die hof se beslissing is nie die ANC se grootste bedreiging nie, maar wel pogings om die staat te kaap.

Mantashe sê onlangse kritiek teen Zuma is ‘n aanval op die party en nie die president nie.

Die tesourie sê intussen die aansoek van die staatsbeheerde wapenvervaardiger, Denel, om sake te doen met ‘n Gupta-maatskappy word ondersoek.

Die Guptas is in die spervuur oor die nou bande wat hulle met president Jacob Zuma het.

Denel het vroeër gesê hy het ‘n gesamentlike onderneming met die Guptabeheerde VR Laser Services aangegaan en dat al die regsprosesse gevolg is.

Die gesamentlike onderneming met die naam Denel Asia, wat in Hongkong gevestig sal wees, sal ‘n verskeidenheid staalprodukte vervaardig vir verdediging, mynwese en die spoor-en vervoernywerhede.

Die tesourie sê hy het bykomende inligting van Denel versoek.

Die Gupta het na Doebaai uitgewyk nadat hulle Suid-Afrika verlede week verlaat het.

Die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane en die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Des van Rooyen, het Doebaai ook onlangs besoek.

Die premier van Noordwes, Supra Mahumapelo, het ook na Doebaai gereis. Opposisiepartye sê hy het van sy aanvanklike ampsbesoek aan China in Doebaai aangedoen.

Die maatskappy van die Gupta-familie, Oakbay Resources, het Suid-Afrika se vier grootste banke vroeër genader om die besluit te hersien om die maatskappy se bankrekeninge te sluit.

Drie van die banke, FNB, Standard en Nedbank het die maatskappy tot die einde van Mei kennis gegee om hulle rekeninge te sluit. ABSA het reeds die rekeninge gesluit.

Die bestuurshoof van Oakbay, Nazeem Howa sê geen rede is vir die besluit gegee nie, buiten dat die termes en voorwaardes sal geld.

Hy sê hy hoop die banke sal hulle kans gee om die besluit te hersien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.