Afrika-paspoort vir vasteland teen 2018?

Deel op

Die Windhoek-verdrag oor lugvaartveiligheid en fasilitering in Afrika is onlangs in die hoofstad deur belanghebbendes in lugvervoer in Afrika ná die ministeriële konferensie onderteken wat aan die begin van die maand afgeskop het.

Een van die besluite is die moontlikheid van ’n algemene Afrika-paspoort vir die vasteland teen 2018.

Die ministeriële konferensie is deur meer as 20 ministers van sowat 33 lidlande van die Afrika-unie (AU) bygewoon en is deur die Afrika Burgerlugvaartkommissie (AFCAC) en die Internasionale Handelslugvaart-organisasie (ICAO) onder die vaandel van die AU gereël.

Volgens die permanente sekretaris van werke en vervoer, mnr. Willem Goeieman, is die doel van die ­algemene Afrika-paspoort deel van Agenda 2063 wat verlede jaar reeds deur die AU aanvaar is. Dit behels dat algemene paspoorte aan inwoners van Afrika teen 2018 uitgereik word, asook dat visums verwyder word.

“Die finale stappe vir alle dokumen­tasie oor die aksieplan sal aan die kabinet voorgelê word,” het Goeieman tydens ’n hoëvlak vergadering met lugvaartkundiges en die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-­Amadhila, gesê.

“Die lugvaartkundiges kyk ook na drie dokumente en een van die ­dokumente verwag van lidlande om hulself aan lugvaartveiligheid te verbind, veral met die terroriste-dreigemente en ander uitdagings wat lugrederyveiligheid en reis beïnvloed,” het Goeieman gesê.

Hy het gesê pres. Hage Geingob sal die Windhoek-verdrag na ’n spitsberaad in Julie neem waartydens Afrika-staatshoofde dit sal bekragtig sodat die implementering daarvan kan begin.

Die eerste minister het gesê die besluite wat tydens die konferensie geneem is, is baie belangrik, veral vir klein ekonomieë soos Namibië wat van internasionale handel en ekonomiese aktiwiteite afhanklik is.

“Ons hoop is dat die verdrag wat in ons hoofstad aanvaar is, suksesvol geïmplementeer sal word vir groter voorspoed vir die vasteland. Afrika moet in pas bly met ontwikkelinge in die wêreld, nie net in terme van ­ontluikende vorme van sekuriteit en risiko’s vir lugvaart nie, maar ook in terme van innoverende maniere om hierdie veiligheidsbedreigings te voorkom en dit te hanteer,” het Kuugongelwa-Amadhila gesê.

Die konferensie se tema was “Ononderbroke toewyding en samewerking in Afrika vir ’n wêreldwye, volhou­bare lugvaartveiligheidstelsel, passasiers- en handelsfasilitering”.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.