Kiesers in die Indiese Oseaan Comore-eilandgroep het Sondag gaan stem vir ’n president, met die huidige visepresident en ’n voormalige staatsgreepleier wat die land vir sewe jaar regeer het as die gunstelinge.
Die tweede ronde presidentsverkiesings kom nadat visepresident Mohamed Ali Soilihi, ook bekend as Mamadou, die eerste ronde in Februarie met 17,88 persent van die stemme gewen het, het AFP berig.
Die twee ander kandidate is die goewerneur van Grande Comore-eiland, Mouigni Baraka, wie 15,62 persent in die eerste ronde gekry het en die 1999-staatsgreepleier, kolonel Azali Assoumani, wie 15,10 persent steun gehad het.
Assoumani word as Mamadou se sterkste teenstander beskou en het die steun van die Juwa-opposisieparty, wat nie ’n kandidaat in die tweede ronde gestel het nie.
Die Juwa-party is verdeel oor die besluit en 15 hooggeplaastes in die party het bedank en Mamadou gesteun.
Assoumani het in 1999 aan bewind gekom nadat hy die waarnemende president, Tadjidine Ben Said Massounde, in ’n staatsgreep omver gewerp het.
Drie jaar later het hy die presidentsverkiesing gewen en uitgetree nadat sy termyn in 2006 ten einde geloop het.
Indien die verkiesing vlot verloop, sal die opvolger van pres. Ikililou Dhoinine na verwagting binne drie dae aangewys word.
Die drie eilande, Anjouan, Grand Comore en Moheli, wat die Comore vorm, het ’n bevolking van net minder as 800 000 mense, van wie byna almal Soenni Moslems is.
Die voltooiing van Dhoinine se vyf jaar ampstermyn word allerweë as ’n teken van toenemende stabiliteit in die verarmde eilandgroep gesien.
Al gaan dié eilande, tussen Madagaskar en Mosambiek, gebuk onder armoede voer die land vanilla, naeltjies en ilang-ilang-parfuumessens uit.
Die Comore is die wêreld se top produsent van ilang-ilang, wat van ’n blom afkomstig is. Die olie is ’n sleutelbestandeel van die Chanel No 5-parfuum en word ook in verskeie ander parfuums gebruik.