Brexit wink na Cameron moet bieg oor Panama-dossier

Deel op

Die Britse premier, David Cameron, moes sy inkomstebelastingopgawes van die afgelope sewe jaar bekend maak in die hoop om sy kritici se monde te snoer oor sy buitelandsde beleggings.

Cameron het die eerste Britse leier geword om sy finansiële sake bloot te lê, maar sy mededingers in sy eie party asook die Arbeiders, het bloed geruik.

Die premier se eie party steun nie Brittanje se deelname aan die EU nie en Boris Johnson, Londen se burgemeester se planne vir Brexit is besonder gewild onder die Tories, terwyl Cameron homself verbind het aan die EU.

Die blootlegging kom slegs ure nadat hy ’n byeenkoms van Konserwatiewe Party aktiviste meegedeel het dat hy verkeerd was deur te huiwer met die erkentenis van sy belegging in Blairmore Holdings.

Sy pa, Ian, ’n miljoenêr aandelemakelaar, het die belegging deur die Panamese regsmaatskappy Mossack Fonseca gereël.

Uit die drie bladsye opsomming van die eerste minister se verdienstes en belasting, wat hy sedert 2009 daarop betaal het, blyk dit dat hy 9 501 Britse pond wins gemaak het toe hy die aandele in 2010 verkoop het, kort voordat hy eerste minister geword het.

Sy vrou het dieselfde bedrag verdien, wat meegebring het dat hulle net-net die betaling van kapitale belasting vrygespring het.

Volgens die dokumente het Cameron die afgelope jaar 75 898 pond belasting betaal.

Cameron het planne aangekondig om ’n sogenaamde taakmag in die lewe te roep om Britse konsortiums en individue se betrokkenheid te ondersoek in fondse en maatskappye wat deur Mossack Fonseca geregistreer is.

In ’n verklaring sê hy ondersoekbeamptes onder leiding van belastingowerhede en die nasionale agentskap vir misdaadondersoeke sou optree teen enige verkeerde optrede wat verband hou met die Panama-dossier.

Vroeër het Cameron ’n openbare “mea culpa” uitgereik vir sy aanvanklike mislukking om sy belegging in Blairmore te erken. Hy het vir vier dae vrae oor die kwessie gesystap voordat hy Donderdag in ’n televisie-onderhoud met die sak patats vorendag gekom het.

“Ek kon dit beter hanteer het. Ek weet daar is lesse hieruit te leer, en ek sal dit leer. Moenie No. 10 Downing Street of naamlose raadgewers die skuld gee nie. Gee my die skuld,” het hy Saterdag gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.