Dan Roodt: Hokaai, mense! Moenie emigreer nie

Nou die dag gesels ek met ‘n studente van Tukkies. Feitlik al die “kinders” – sy praat nog steeds soos op skool, van “kinders” – in haar klas wil ná hul studies uit Suid-Afrika vort. Hulle sien vir hul geen toekoms hier nie. Die gras is groener aan die ander kant van die draad, ens. Sekerlik word hulle dit ook deur hul ouers wysgemaak, want wat weet ‘n jongmens van 19 of 20 jaar oud ook nou?

Ek het daar en dan verduidelik waarom Suid-Afrika steeds die land van melk en heuning is. In weerwil van ons mensgemaakte (as FW ‘n mens is) probleme, bied ons land steeds die hoogste lewensgehalte ter wêreld.

Kom ons begin by die klimaat en die natuur: ‘n Halfuur se ry uit die stad uit, kan jy iewers in ‘n ongerepte omgewing ontspan, na die voëls luister, gaan stap, fietsry of wat ook al. Heel jaar deur. In ‘n plek soos Kanada is dit 9 maande van die jaar so koud dat jy in jou huis of kantoor vasgekluister is. As jou motor in Kanada op die pad gaan staan, kan dit lewensgevaarlik wees, want jy kan binne enkele ure verkluim. Ons het geen aardbewings, orkane, oorstromings, sneeustortings, vulkane of ander natuurrampe nie. In San Francisco, Kalifornië of Auckland, Nieu-Seeland, loop jy gevaar dat jy in ‘n aardbewing sterf.

‘n Mens moet elke dag eet. In die meeste ander lande is voedsel duur of sleg of albei. Die Franse moet hul vleis met allerlei souse doodgooi, anders kan jy dit nie in jou liggaam kry nie. In Amerika is ‘n hamburger omtrent ‘n gourmet-dis, want die res is oneetbaar. In die meeste supermarkte sien jy geen vars kos nie en as jy dit daar vind, is dit omtrent vyf of tien keer die prys wat jy hier sal betaal.

Jy moet ook aantrek. Een van die voordele van die massas swartes in ons land – miskien die enigste – is dat klere betreklik goedkoop is. As jy oordeelkundig in sekere winkels koop, kan jy eintlik vir ‘n appel en ‘n ei soos ‘n Europese aristokraat aantrek. Vanweë ons klimaat, hoef jy ook nie duur wintersklere en stewels te koop nie. Wat voedsel en kleding betref, leef ons in die paradys.

In die onlangse verlede as ek op die kampus van Tukkies gekom het, het dit my opgeval hoe modieus al die studente aantrek. Laggend en sorgvry sit hulle in die kafees of op die grasperk rond. Wat ‘n idilliese studentelewe. Geen kommer oor verhitting, waar die volgende bord kos vandaan gaan kom of waar hulle uiteindelik werk gaan kry nie. In die meeste Europese lande is die werkloosheidskoers onder jongmense 30% of meer. Vele van hulle studeer jare lank sonder dat hulle ooit kan hoop om ‘n behoorlike werk te kry.

Maar daardie sorgvrye studente wat lyk my almal geld het om mooi aan te trek, in redelik nuwe karretjies rond te rits en R20 of meer vir ‘n capuccino te betaal, is dié wat steen en been oor ons land kla en wil emigreer!

Dit bring my by nog ‘n punt: Hoe goedkoop dit is om in Suid-Afrika te studeer. Goed en wel, in sommmige Europese lande soos Duitsland is universiteitstudie gratis, maar verblyf, kos, vervoer en die res is nie. Vergelyk jy egter ons kampusse met dié in die VSA, is klasgeld in Suid-Afrika gemiddeld tien tot vyftien keer goedkoper by ons. As ek ‘n jong Amerikaner was, het ek in Suid-Afrika kom studeer! Die gemiddelde jong Amerikaner begin sy lewe met studieskuld van honderde duisende dollar, miljoene rande in ons geld. Hy kon ‘n huis daarmee gekoop het of sy eie onderneming begin het, maar nou het hy net ‘n stuk papier en nog geen werk nie. Miljoene der miljoene blanke Amerikaners is ook arm, werkloos of kan net by McDonalds of agter die kasregister by Wal-Mart ‘n laag besoldigde betrekking verkry.

So pas het die ANC R41 miljard gestem om nog beurse en lenings aan studente beskikbaar te stel. Ek sê: terwyl Tukkies, Stellenbosch, die PUK en ander nog redelik goed funksioneer, laat ons jongmense almal gaan studeer en goeie kwalifikasies bekom!

Daar is maatskappye van regoor die wêreld in Suid-Afrika wat geld moet maak. Daarvoor het hulle opgeleide mense nodig. Al stem die ANC nou hoeveel wette om blankes in die werkplek te benadeel, gaan maatskappye iewers die oë toeknyp en mense aanstel wat die werk kan doen. In die Sowjetunie het Stalin mense doodgemaak wat sy vyfjaar- ekonomiese planne oortree het, nogtans het baie hulle nie daaraan gesteur nie. Daar gaan ‘n tyd kom dat regstellende aksie net in die staatsdiens sal geld, want die privaat sektor gaan dit toenemend verwerp.

Dus, my boodskap aan Afrikanerjongmense is: Daar wag ‘n blink toekoms in Suid-Afrika, mits jy hardwerkend of goed gekwalifiseer of albei is.

Maar selfs al kan jy nie sonder meer ‘n werk kry wat jou geval nie: Ons land is een van die maklikstes ter wêreld om ‘n eie onderneming te begin. In Europa is daar veel meer rompslomp en kostes as hier. As jy iemand in diens neem, moet jy benewens sy salaris, nog 60% salarisaftrekkings bytel wat aan verskeie staatsagentskappe verskuldig is. Dis nou nog afgesien van gewone belasting en BTW. Deesdae kan jy in Suid-Afrika binne ‘n maand tot ses weke ‘n maatskappy registreer, ‘n bankrekening open en daar gaan jy! Jy kan uitvoer, invoer, goedere of dienste verkoop, en die ANC beskik nóg oor die mannekrag nóg oor die vermoë om ons werklik almal te kan beheer.

Die meeste entrepreneurs waarvan ek weet, betaal die absolute minimum aan belasting. Hulle het slim rekenmeesters en sorg dat hulle nie groot salarisse uit hul besighede onttrek nie. Met die globale geleenthede wat die internet en aanlynverkope bied, kan enige jongmens binne tien jaar lag-lag ‘n miljoenêr word – in dollar of euro.

Wat die gehalte van ons behuising betref, troon Suid-Afrika kop en skouers bo alle ander lande uit. Jy kan deesdae in ‘n veiligheidsbuurt woon waar jy teen die meeste misdaadgevare beskut word, teen ‘n breukdeel van die prys van ‘n piepklein woonstelletjie in die meeste wêreldstede. In Londen of New York sal jy nie eens ‘n toilet kan koop met die prys van ‘n groot huis in Suid-Afrika nie. Nou onlangs het ‘n vriend sy luukse huis in ‘n Johannesburgse veiligheidsbuurt vir iets meer as R5 miljoen verkoop en Australië toe geëmigreer. In sy eie woorde, het hy nou huisvesting in ‘n “kleinerige, stokou huisie soos in Benoni”. Dis nou in Perth. As jy regtig Benoni toe wil trek, doen dit, maar sonder om jou en jou gesin se werlvaart aan die Australiese droom op te offer.

Afgesien nog van al die materiële voordele wat Suid-Afrika bied: fantastiese voedsel, groente en vrugte, klere, huisvesting, ens., beskik ons Afrikaners oor ‘n kultuur wat met dié van enige Europese staat vergelyk kan word. Ons het ons eie taal, letterkunde, musiek, rolprente, kookkuns, styl, argitektuur, tradisies, geskiedenis, noem maar op. Die meeste “nuwe lande” soos die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland droom daarvan. Hulle voel minderwaardig teenoor Europeërs, veral die Britte en die Franse, en doen hul bes om hulle na te aap. Voel ons minderwaardig teenoor Britte? Miskien bestaan daar ‘n paar gedekultureerde Naspersjoernaliste wat so voel, maar die deursnee-Afrikaner is trots op wie en wat hy is. In weerwil van ‘n stortvloed propaganda, asook die ANC se meedoënlose verengelsingsbeleid, eet ons nog steeds boerewors en melktert, praat, skryf en sing Afrikaans, en onderhou die vernaamste aspekte van ons tradisie. Hoe kan ‘n mens so iets kosbaars wat oor eeue tot stand gekom het, verruil vir ‘n ersatz, nagebootste lewe in ‘n ander land? Ek sou kon verstaan indien mense sou wou emigreer na Frankryk, Italië of Oostenryk, selfs Nederland, waar jy elke week opera toe kan gaan of museums kan besoek en sodoende ‘n eeue oue, ryk kultuur kan inadem, maar baie min Afrikaners emigreer soontoe. Die meeste vertrek juis na daardie kultuurarm, oppervlakkige, Engelssprekende lande waar jy maar net nog ‘n stuk papier is wat deur die wind aangewaai kom. Jy is niks beter as ‘n Chinees, ‘n Indiër, ‘n Somaliër, ‘n Nigeriër of armoedige Oos-Europeër wat op soek na ‘n beter lewensgehalte na die VSA, Kanada of Australië emigreer nie.

Die enigste verskil vir die Afrikaner-emigrant is egter: Hy aanvaar ‘n verlaging in lewenstandaard en -gehalte! Hy gee iets kosbaars prys vir die illusie van “veiligheid en welvaart”.

Daarmee wil ek nie sê dat Suid-Afrika nie groot probleme het nie. Maar dis probleme wat ons goed verstaan en wat sekere “leiers” doelbewus geskep het. Die oomblik wat ons begin om hulle regtig aan te pak, sal hulle soos mis voor die son verdwyn. Ons word egter verlam deur die Naspersmedia, die ANC se propaganda, die soeke na kitsoplossings (soos emigrasie), sonder dat ons doelgerig en planmatig optree. Aan ‘n groep mense, en veral ‘n volk, wat optree, is daar geen keer nie. Toe Afrikaners dit in die dertiger- veertigerjare van die vorige eeu begin doen het, het ons die land verower. In die vroeë sewentigerjare het Ken Owen van die Sunday Times gevrees dat Engels in Suid-Afrika sou uitsterf want dit word nêrens in die staatsdiens of die parlement gebruik nie. Van daar af het ons tot hier geval waar ons tans so dikwels aan onsself en aan hierdie mooi land wat ons voorouers opgebou het, begin twyfel.

Europa sit met ‘n Moslemprobleem, en gepaardgaande bomme in hul stede. Amerika en Kanada se blanke getalle neem skerp af en binnekort gaan hulle dieselfde soort regering hê as ons in Suid-Afrika, met dié verskil dat hulle doeltreffend verdruk gaan word. Die ANC is te hopeloos om ons doeltreffend te verdruk. Daarom word daar bloot misdadigers of “vryheidsvegters” ingestuur om ons lukraak te vermoor, te verkrag of te beroof. Dis egter ‘n baie primitiewe vorm van verdrukking wat gou-gou opgelos kan word deur tegnologie en beter veiligheidstelsels. Byvoorbeeld bestaan daar reeds stelsels waarmee jy vir ‘n paar rand enigiemand se misdaadrekord aanlyn met behulp van sy ID-nommer kan opkyk. As niemand meer misdadigers in diens neem of naby ons toelaat nie, sal hulle naderhand moet terugkeer na die tuislande toe. Of Zimbabwe toe emigreer.

Swart demografie in ons land het ook myns insiens gestabiliseer, veral weens die Vigsprobleem. Voorheen het die swart bevolking in ons land elke twintig jaar verdubbel, maar tans sukkel dit om verby veertig mijoen te kom. Weliswaar stroom daar steeds onwettige immigrante oor ons grense, maar die plaaslike swartes maak hulle dood en diskrimineer teen hulle. As ek ‘n Nigeriër was, het ek eerder Kanada toe as Suid-Afrika toe gegaan.

As ons genoeg werk vir ons eie mense kan skep, kan ons selfs weer Europese immigrante – daardie werklose jongmense – hierheen lok en sodoende ‘n beter demografiese balans in die land tussen blank en nie-blank skep, soos dit in die sestigerjare was.

Ons moenie dié land prysgee nie. Hy is geologies stabiel, strategies uitstekend geleë, met hope sonskyn, natuurskoon, goeie infrastruktuur en steeds met ‘n skatkis van minerale onder die grond.

Zuma en ‘n paar Zoeloes, of Malema en enkele Pedi’s, kan ons mos nie so bang maak dat ons stert-tussen-die-bene elders heen wil vlug nie? As ons voorouers by Vegkop en Bloedrivier ewe skrikkerig was, was ons mos nie vandag hier nie? En die ou liberale Engelse in Johannesburg en Kaapstad wat aanmekaar “rassisme” skree… is hulle nie eintlik skadeloos nie? Hul polities korrekte gesanik neem vir my so ‘n histeriese huiltoon aan, soos hulpkrete. As enigiemand deur swart geweld verdryf gaan word, gaan dit juis die liberale element wees wat gedink het “demokrasie” gaan vrede en voorspoed bring, maar nou uitvind dat dinge in Afrika glad nie so eenvoudig is nie. Weet dat die wanorde, stakings en betogings wat plek-plek losbars, ons hinder, maar ons vyande nog meer. Mens kan amper praat van: hulle kry hul verdiende loon.

Selfs Telkom begin plek-plek optiese vesel beskikbaar stel. (Ongelukkig het die swernote ons voorstad oorgeslaan, maar nogtans kan ek 40 Megagrepe per sekonde kry, as ek sou wou.) Een van die dae het ons dieselfde internetspoed as enigiemand in Stockholm of München, om en by 100 Megagrepe per sekonde. ‘n Meenthuis in ‘n Suid-Afrikaanse veiligheidsbuurt, met ‘n hoëspoedverbinding.  Wat meer het jy nodig? Kom ons bóú daardie meenthuise, met Afrikaanse name, veiligheid, optiese vesel en al! Dalk iewers in die Suid-Kaap. Dis baie mooi en Afrikaans daar, en ‘n bietjie weg van die Afrosentriese gedrang in die groot stede.

Dus, kom ons klou vas aan wat ons het. Die gras aan die oorkant is nie groener nie, inteendeel.

Naskrif: Gee hierdie aan ‘n jongmens om te lees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.