Valke soek stropers wat witrenoster skiet

Deel op

Die Valke in die Noord-Kaap ondersoek ‘n voorval waarin ‘n witrenoster by Kimberley doodgeskiet is.

Woordvoerder, Philani Nkwalase, sê die witrenosterkoei is in die regterskouer geskiet. Volgens hom is haar ontbinde karkas verlede Vrydagoggend op ‘n plaas buite die stad gevind. Sy het nog albei haar horings gehad.

Nkwalase sê dit wil voorkom of die renoster ‘n week gelede geskiet is. Die gewonde dier het toe weggehardloop en op die plek op die plaas waar sy verlede Vrydag gevind is, gevrek.

Die ligging van waar haar karkas gevind is, gaan nie bekendgemaak word nie om verdere voorvalle te voorkom, sê Nkwalase.

Die Valke in die Noord-Kaap doen als in hul vermoë om voorvalle waarin renosters doodgeskiet word, te ondersoek.

Nkwalase sê plaaseienaars en werknemers moet meer paraat wees om veral renosters te beskerm teen uitwissing.

Hy doen ‘n beroep op gemeenskappe om enige verdagte mense of voertuie wat by plase in die provinsie opgemerk word, by die polisie aan te meld.

Dit kan ‘n groot bydrae lewer in die stryd teen renosterstropery, sê hy.

Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.