Die EFF-parlementslid, Mbuyiseni Ndlozi sê die party is gereed om metrogebiede soos Tshwane, Nelson Mandela-baai en Ethekwini oor te neem.
Ndlozi het Sondag Sunnyside in Pretoria besoek en inwoners aangemoedig om te registreer om te stem, het RSG berig.
Hy sê Suid-Afrikaners moet hulleself gereed maak vir verrassings in die plaaslike regeringsverkiesing op 3 Augustus.
Ndlozi het verwys na die 23ste herdenking van Chris Hani se dood en gesê die reg om te stem is ‘n belangrike nalatenskap wat nie vergeet mag word nie.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê daar is ‘n toename in die aantal jongmense wat geregistreer het om te stem in die plaaslike regeringsverkiesing op 3 Augustus.
Die OVK beraam dat meer as driemiljoen kiesers die naweek registrasiepunte landwyd besoek het.
Dit was die laaste naweek van kieserregistrasie. Die OVK sê egter 16 miljoen fisiese adresse is nog nie geverifieer nie.
Die OVK se adjunk-voorsitter, Terry Tselane het hul tevredenheid uitgespreek met die toename in die registrasie van kiesers.