Pendelaars in Kaapstad kan vanoggend lang vertragings verwag nadat treinwaens die naweek by die Kaapstad-stasie aan die brand gesteek is.
Die skade beloop miljoene rand.
Volgens Metrorail se woordvoerder in die Wes-Kaap, Riana Scott, word vyf peronne geraak.
Metrorail in die Wes-Kaap het vroeër ‘n beloning van R100 000 aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die vandale.
Die streekbestuurder van Metrorail, Richard Walker sê die doelbewuste vernietiging van treine veroorsaak dat Metrorail nie voldoende dienste aan passasiers kan lewer nie.
Hy waarsku dat pendelaars Maandag gaan sukkel om betyds by hul bestemmings uit te kom.
Vyf stasieperonne is gesluit terwyl herstelwerk gedoen word nadat die waens aan die brand gesteek is.
Vertragings van tot 60 minute kan verwag word, sê Walker.
Walker sê die doelbewuste vernietiging van 37 treine het vervoervermoë in die streek baie nadelig geraak en duisende verontrief.
“Tegniese spanne werk dag en nag om soveel beskadigde infrastruktuur as moontlik ter voorbereiding vir Maandagoggend se piekdiens te herstel,” het hy gesê.
Die Wes-Kaapse streek bedryf 89 trein-stelle van 696 treine elke weeksdag, 360 treine op Saterdae en 225 treine op Sondae.
Gedurende spitstye word alle treine reeds ingespan, wat beteken dat daar nie ekstra weans beskikbaar is in ‘n noodgeval nie.