Guptas glo ‘landuit’ vanaf Lanseria-lughawe

Deel op

Volgens ‘n berig in Rapport, wat op sy beurt uit City Press vertaal is, het die Gupta-familie Suid-Afrika “vir goed verlaat” ná  ‘n week waarin die vier groot banke geweier het om langer die skatryk Indiërs se transaksies te hanteer. Selfs die Gupta-kinders is by hul privaat Engelse skole bespot weens hul ouers se betrokkenheid by Jacob Zuma en die ANC se korrupte transaksies. Die Guptas gaan hulle nou in ‘n rykmansbuurt in Doebaai in die Verenigde Arabiese Emirate vestig.

Rapport, die Afrikaanse weergawe van City Press onder redaksie van die antiblanke redaktrise Ferial Haffajee, gebruik ‘n anglisisme om die Guptas as ‘n “toksiese familie” te tipeer:

Die toksiese Gupta-familie, wat hulle geposisioneer het as pres. Jacob Zuma se boesemvriende, maar hom eendag nog sy pos kan kos, het die land Donderdagnag aan boord van hul private straler verlaat, want hulle kon die hoon van korrupsiesat Suid-Afrikaners en die openlike vyandigheid van sakelui hier net nie meer verdra nie.

Selfs hul kinders is op skool gespot.

Ajay Gupta en sy broer Atul sluit hulle daarom nou in Dubai aan by die derde boet, Tony (Rajesh), wat maande gelede al nes geskop het in Emirates Hills, waar die goedkoopste huis R82 miljoen kos en die duurste villa meer as R700 miljoen.

Na verwagting sal die Guptas egter steeds hul plaaslike sakebelange behou en groot geld uit hul spesiale verhouding met Zuma en sy seun Duduzane maak. Dit is daarom nog lank nie die einde van die Guptas se greep op Suid-Afrika nie. Hul plaaslik genoteerde maatskappy, Oakbay Investments, beskik oor 4000 werknemers. Dié getal sal verdubbel sodra die huidige oorname van Tetega, waarin Duduzane Zuma ‘n aansienlike aandeel hou, voltooi word. Tetega beheer die reuse- Optimum-steenkoolmyn wat hoogs waarskynlik steenkool aan Eskom sal verkoop.

Optimum het voorheen aan die Suid-Afrikaans-gebore Joodse miljardêr, Ivan Glasenberg van Glencore behoort. Hy het egter intussen die myn onder administrasie laat plaas omdat die tariewe wat Eskom hom aanbied, geen ruimte vir wins laat nie. Vermoedelik sal die myn onder bestuur van die Guptas en Zuma jr wel goeie pryse van Eskom ontvang.

Die Guptas se vertrek vanaf Lanseria in die noorde van Johannesburg het laat Donderdagaand onder groot geheimhouding geskied. Die vliegtuig se transpondeerders was glo so gestel dat sy registrasienommer nie op radar sigbaar sou wees nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.