Mossack Fonseca: ‘Enigste misdaad is kuberinbraak’

Deel op

Die enigste misdaad wat gepleeg is, is van ‘n kuberaard, volgens Ramon Fonseca, een van die stigters van Mossack Fonseca, die regsfirma wat die middelpunt van die Panama Papers is.

Fonseca het gesê die firma het ‘n klag by die Panamese owerheid ingedien omdat al die beriggewing tot dusver oor die bates van rykes handel maar “niemand praat oor die kubermisdaad nie en dit is die enigste misdaad wat gepleeg is”.

“Ons het ‘n tegniese verslag dat daar by ons oorsese bedieners ingebreek is,” het hy gesê.

Volgens hom is dit ‘n jammerte dat die beriggewing oor die 11,5 miljoen dokumente op die bekende kliënte fokus.

“Ons verstaan dit nie. Die wêreld aanvaar reeds dat privaatheid nie ‘n mensereg is nie,” het hy gesê.

Intussen het Sigmundur David Gunnslaugsson, premier van Ysland, na aanleiding van die Panama Papers bedank omdat sy vrou in die onthullings genoem word.

“Die premier het aan sy party se parlementêre groep gesê hy sal afstand doen van sy amp en dat ek sal oorneem,” het Sigurdur Ingi Johannsson, adjunkleier van die Progressiewe Party en minister van landbou, gesê.

Die uitgelekte dokumente het aan die lig gebring dat Gunnslaugsson (41) en sy vrou, Anna Sigurlaug Palsdottir, ‘n rekening in die Britse Maagde-eilande bedryf.

Betogers het Maandag buite die Yslandse parlement betoog.

Van die bekendes wie se name in Ramon Fonseca se dokumente opduik vir die skep van aflandige maatskappye om geld te hou, is die Spaanse Oscar-bekroonde regisseur Pedro Almo- dóvar, die akteur Jackie Chan en die sokkerspeler Lionel Messi.

Gianni Infantino, nuwe president van die sokkerbeheerliggaam Fifa, is onder skoot nadat dit aan die lig gekom het dat hy ‘n kontrak goedgekeur het met twee sakemanne wat sedertdien van omkopery beskuldig is.

Hy het die TV-uitsaairegte vir Europa se premierklubkompetisie aan die pa en seun Hugo en Mariano Jinkis in 2006 gegee.

Die VSA wil dié twee Argentyne laat uitlewer as deel van ‘n FBI-ondersoek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.