Mantashe sê aanvalle is teen ANC, nie net Zuma nie

Deel op

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, sê die onlangse aanvalle teen president Jacob Zuma is geloods as ‘n aanval op die party, eerder as teen net die president alleen.

Hy het by die opening van ‘n beraad in die Noord-Kaap in Kimberley, gesê diegene wat Zuma se kop eis, soek ‘n sondebok ten einde die ANC te verswak.

Hy sê die ANC sal steeds met alle belanghebbendes in die komende dae ontmoet, insluitend met die Ahmed Kathrada-stigting, om die onlangse uitspraak van die Grondwethof teen Zuma te verduidelik.

Mantashe sê die groep burgerlike organisasies wat Woensdag hul teenkanting teen Zuma geopper het, is meestal ontevrede voormalige lede van die party wat uit desperaatheid handel.

‘n Groep van sowat 240 burgerlike organisasies – genaamd Verenig teen Korrupsie – sal aanstaande Saterdag sy veldtog teen Zuma amptelik loods.

Die groep bestaan uit kerke, burgerlike groepe, vakbonde, en akademici.

Hulle het Woensdag op die trappe van die Grondwethof in Johannesburg ‘n veldtog van stapel gestuur wat daarop gemik is om Zuma se bedanking af te dwing deur politieke druk.

Die veldtog se eerste optrede is aanstaande Saterdag. Suid-Afrikaners is gevra om in dorpe, kerke, moskees, townships, woongebiede, sportklubs en kultuurorganisies saam te trek en toekomstige optrede te bespreek.

Die hoofgeleentheid sal by die Regina Mundi-kerk in Soweto plaasvind.

Die PAC het intussen ‘n oproep om eenheid gedoen en swartes vermaan om hulle nie te verheug oor kritiek teen die ANC nie.

Die leier van ‘n faksie van die PAC, Letlapa Mphahlele sê die oproepe om die president af te dank kom neer op ‘n bewindsverandering.

Mantashe het ontken dat sy bywoning en dié van die party se nasionale voorsitter, Baleka Mbete in die Noord-Kaap magsvertoon is.

Hy het aan OFM-nuus gesê dat lede van die party se nasionale uitvoerende komitte (NUK) provinsiale berade in vyf provinsies bygewoon het.

Mantashe sê alhoewel hy baie klem gelê het op die uitwissing van faksies binne die ANC, is dit nie ‘n probleem in die Noord-Kaap nie.

Die ANC in die provinsie het egter maande ná die bedanking van sy provinsiale leier, John Block, nog nie ‘n aankondiging oor wie die top posisie in die provinsie sal beklee nie.

Mantashe sê daar is egter geen probleme nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.