Die Nigeriese weermag het die leier van die Islamitiese militante groep, Ansaru, ’n splinterfaksie van Boko Haram, in hegtenis geneem en hom daarvan beskuldig dat hy Westerlinge ontvoer en vermoor, het Reuters berig.
In 2012 het die Amerikaanse departement van verdediging Ansaru se leier, Khalid al-Barnawi, geïdentifiseer as een van drie Nigeriese militante wat op die swartlys geplaas is vanweë hul verbintenis met Boko Haram en al-Kaïda se Noord-Afrika vleuel.
’n Verdedigingswoordvoerder, brig.genl. Rabe Abubakar, sê al-Barnawi is Saterdag in Lokoja, die hoofstad van die sentrale deelstaat, Kogi, in hegtenis geneem. “Ons het reusevordering gemaak,” het Abubakar gesê.
Hy het voorts gesê sommige Boko Haram-vegters het hulle aan Nigeriese troepe oorgegee.
Die Nigeriese president, Muhammadu Buhari, het dit ’n prioriteit van sy presidensie gemaak om Islamitiese militante in Afrika se digsbevolkte land en die vasteland se grootste ekonomie uit te dryf.