Die museum van vernietiging

Ek lees nou die dag 'n brief op die web van ene Pierre Coetzer waarin hy praat van die wonderwerk wat in Ierland gebeur het, 'n "wonderwerk net so groot en onverwags as wat in ons eie land gebeur het".

Is die man sarkasties? Bedoel hy dit ironies? Woon hy in 'n land ver van hier in sy hallusinasies?

Hy sê ons fokus te maklik op die probleme wat ons ondervind "eerder as die positiewe wat gebeur het".
 
Die positiewe? Ek wens versoeningsgesinde, agteroorbuigende, ontbreinde, beleeslose nuttige idiote soos Coetzer & Kie wil al hierdie positiewe ontwikkelinge sedert 1994 vir ons uitspel sodat ons kan jubel en huppel in die strate.
 
Hy sê "die onderdrukking van die werklikhede van die verlede kan net daartoe lei dat die land 'n kompleks ontwikkel".
 
'n Kompleks? In watter tale praat die man nou? Betrek hy nou die vakgebied van die sielkunde? Hoe kan 'n land, waar die woord "homogeen" net 'n woordeboekbegrip is, gesamentlik een kompleks ontwikkel?

Die man is so versoeningsgesind dat hy nie kan sê wat hy wil sê nie: hy durf nie die woord "blank" of "swart" gebruik nie, want dan is hy seker 'n rassis, na watter kant toe ook al. Ek skat wat hy eintlik met bogenoemde sin wil sê, is iets soos: "Kyk, as die blankes nie wil erken dat hulle aandadig is aan allerhande misdrywe tydens apartheid nie, gaan ons almal mekaar bly haat."
 
Coetzer reken 'n pelgrimstog na die Apartheidsmuseum in Johannesburg sal "die spoke van die verlede vir eens en vir altyd besweer. Om werklik versoening te bereik, ook met die verlede en ons eie verlede, moet dit deur bekentenis voorafgegaan word. Al is dit veertien jaar later."
 
Ek stel voor, net ter wille van 'n bietjie balans, dat 'n Museum van Vernietiging reg langs die Apartheidsmuseum gebou word. Hierin word die HEDE "nugter en gebalanseerd, maar skokkend", uitgebeeld, met "geen wegkruipplek tussen die foto's en oudiovisuele materiaal nie".
 
Wanneer besoekers instap, sien hulle ten eerste die Vryheidsmanifes van die ANC, waarin die volgende onderstreep word:
 
"Die regte van die mense sal dieselfde wees, ongeag ras, kleur of geslag;
 
"Daar sal gelyke status in die staatsliggame, in die howe en in die skole wees vir alle nasionale groepe en rasse;
 
"Alle mense sal gelyke reg hê om hul eie taal te gebruik, en om hul eie volkskultuur en gewoontes te ontwikkel.
 
"Alle nasionale groepe sal deur die wet beskerm word teen beledigings teenoor hul ras en nasionale trots;
 
"Die verkondiging en beoefening van nasionale, rasse- of kleurdiskriminasie en minagting sal 'n strafbare oortreding wees;
 
"Alle apartheidswette en -praktyke sal ter syde gestel word."
 
Langs die Vryheidsmanifes speel 'n grootskerm-video van oudpresident Nelson Mandela wat moord teen blankes verkondig. Dis nie moeilik om hierdie video te vind nie. Tik net NELSON MANDELA SINGS ABOUT KILLING WHITES in YouTube se soekboksie.
 
Dan, daarnaas, alle wetgewing en verordeninge en reëlings wat teen blankes en Afrikaans diskrimineer, byvoorbeeld dié oor agteruitstellende aksie; blanke ekonomiese ontmagtiging; swart ekonomiese bevraatsing; sportkwotas; Afrikaanse skole wat gedwing word om te verengels; blanke plek- en straatname wat nou die name van swart revolusionêre "helde" moet dra.
 
Dan, groot plakkate teen die mure van die misdaadslagoffers van die Nuwe Suid-Afrika, wit, swart en beige: vermoordes, gemarteldes, beroofdes, besteeldes, gekaaptes, ontvoerdes, verkragtes, die emosioneel vernietigdes. In glaskaste alle bekende feite, verslae, verhale en foto's daaroor.
 
Dan die ekonomiese slagoffers: mense wat hul werk verloor het; die hemelhoë werkloosheidsyfer; ondernemings wat ondergegaan het weens die gedwonge aanstelling van onbekwame gepigmenteerdes; winkels wat gesluit het ná die hoeveelste rooftog; miljarde rande wat tydens kragonderbrekings verloor is weens Evkom se onvermoë om vooruit te beplan; die haglike omstandighede van die nuwe armoediges; die armes wat in groter getalle as ooit tevore met ons is; mense wat in die buiteland moet gaan werk om hul gesinne hier te onderhou; gesinne wat buiteland toe gevlug het weens agteruitstellende aksie en misdaad.
 
Dan die landwye agteruitgang en verval: dorpe sonder enige dienste, water, vullisverwydering, slaggate in die paaie. Foto's wys hoe vuil en haglik eens vooruitstrewende stede, dorpe en woonbuurte daaruit sien; middestede soos dié van Johannesburg, Bloemfontein en Port Elizabeth waar geen blanke dit meer waag nie. Dan bemoedigende verhale van hoe blanke belastingbetalers en die boeregemeenskap sonder enige vergoeding dit op hulleself neem om die domastrante swart raadslede, wat miljoene verdien, se werk te doen – wat pompe herstel, watertoevoer na swart woongebiede herstel, water aanry, paaie herstel, munisipale voertuie herstel, strate skoonmaak …
 
Dan 'n volledige uitstalling gewy aan die korrupsie, gierigheid, vraatsug en luiheid van die nuwe heersers op alle vlakke, van die staatspresident tot die burgemeester wat nie kan lees of skryf nie … ons sien die uitkringende uitwerking van armoede, wanorde en ellende wat daardeur veroorsaak word. Ons sien die paleise en spogkarre van die land se leiers, hul weelderige buitelandse vakansies.

Langsaan 'n uitstalling oor die polisiemag. Ons lees hoe korrup en onbekwaam hulle is, van die hoogste tot die laagste vlak. Hoe misdadigers nooit opgespoor word nie, en indien wel, hoe die chaotiese toestande by howe dikwels tot hul vrylating lei. Ons lees hoe bewysstukke en lêers "wegraak". Ons lees hoe mense vir geringe oortredings in polisieselle gegooi word waar hulle verkrag en gesodomiseer word terwyl die beamptes aan diens horende doof en siende blind is. Ons lees van 'n man wat agter in 'n vangwa gesodomiseer is.
 
Dan 'n mooi hoekie oor die situasie by ons hospitale en skole. Hoe haglik en oorvol dit by staatshospitale is. Hoe daar geen medisyne by sekere hospitale is nie. Hoe jy jou eie beddegoed hospitaal toe moet neem. Hoe sekuriteitswagte skole moet oppas. Hoe kinders by skole aangerand word. Hoe onderwysers by skole aangerand word. Hoe "dom" kinders geword het sedert uitkomsgebaseerde onderwys. Vergelykende eksamenuitslae van vóór die "wonderwerk" van 1994 tot nou toe.
 
Dan, die hoekie vir die Waarheids- en Versoeningskommissie, waar blankes gebieg en bely het oor hul aandeel aan die sondes van apartheid. Ons lees van skuldbekentenisse en verskonings van kerke en voormalige hoë amptenare en voetewassery. Ons hoor en lees Antjie Krog se beriggewing hieroor.

Ag, daar's nog talle, talle ander interessanthede wat in die Museum van Vernietiging ten toon gestel kan word.
 
Coetzer sê 'n besoek aan die Apartheidsmuseum "is soos om deur 'n tonnel te stap tot in die lig, want ons ken tog die einde van die verhaal: ons het die lig gesien en 'n vreedsame skikking bereik".
 
Ek dink die man sien die lig van 'n aankomende trein in sy tonnel. Die einde van die verhaal is groter onreg as ooit tevore. In die plek van die "duiwel" van apartheid is twintig erger duiwels losgelaat.
 
Maar hierdie duiwels en hul verwoestingswerk – die wandade, die gruwele, die onregte van die hede – mag nie aan die groot klok gehang word nie, want dit maak mense soos Coetzer & Kie ongemaklik en laat hulle sleg slaap.
 
Die grootste verdoeming van die huidige swart meerderheidsregering is die sewe pilare by die ingang van die Apartheidsmuseum: demokrasie, gelykheid, versoening, diversiteit, verantwoordelikheid, respek en vryheid.
 
Van elkeen van hierdie hoë ideale het die ANC 'n bespotting en leuen gemaak. Die mooiste woorde bedek die grootste gruwels.

Die blankes het al soveel versoeningsgebare gemaak – tot hul vuurwapens ingehandig. Gelate toegelaat dat die doeltreffende kommandostelsel op die platteland ontbind word. Dat die Skerpioene ontbind word. Afrikaans so te sê al heeltemal opgeoffer. 'n Nuwe Volkslied aanvaar. Sluk dit maar dat hul stads-, dorps- en straatname verswart word. Betaal nog ewe getrou belasting aan 'n korrupte, vyandige regering. Hou skole aan die gang waar hul kinders moet verengels en 'n vervalste geskiedenis moet leer. 'n Eed moet opsê wat hulle en hul geskiedenis verdoem. Neem verlief daarmee dat onderwyserskolleges tot niet gemaak is en duisende bekwame onderwysers uit hul poste gedwing is. Sluk dit maar dat ons rugbyspelers 'n geel ster teen rassisme moet dra. Ironies genoeg moes die Jode dit destyds dra om te toon dat rassisme bestaan, dat hulle 'n minderwaardige ras is wat uitgeroei behoort te word …

Talle blanke misdaadslagoffers het in 'n gebaar van uiterste versoening hul oortreders vergewe.
 
Hoeveel versoening nog? Om die soen van die dood gelate te aanvaar sonder 'n woordjie van protes?
 
Ek stel voor dat Coetzer & Kie dit hul doel in die lewe maak om versoening aan die regering en die swart massas te verkondig. Betig hulle oor hul ewigdurende fokus op ras en rassesamestelling. Dwing hulle om die Museum van Vernietiging te besoek. Dalk is dit die aangewese katarsis om hulle van die spoke van die verlede te bevry, om werklik versoening te bereik. Ja, maar hulle sal eers hul sondes moet beken en bely. En 'n klomp voete moet was.
 
Maak jou versoenende ogies oop, Coetzer. Vandag is daar erger as ooit apartheid, erger as ooit verdrukking van een ras van 'n ander. En hierdie keer is dit nie die blankes nie.

Die onderdrukking van die werklikhede van die HEDE kan net daartoe lei dat ons in 'n web van misleiding en oëverblindery en valse skuldgevoelens en goedgelowigheid ondergaan.

Ek vra: is dit nie tyd dat die Afrikaner, soos die ANC destyds, teen die onreg van die huidige bedeling veg met burgerlike ongehoorsaamheid nie? Die volgende stap, soos die ANC vir ons die mooi voorbeeld gestel het, is die gewapende stryd.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.