Gustav Venter: ‘Modder en bloed’: ‘n Lang, stywe middelvinger vir die Britse Ryk

Vatso Engelsman!

Vatso Soutie!

Vatso Rooinek, vatso gulsige verdelger van volkere, vatso lafhartige kryger wat in blokhuise skuil en op oormag staatmaak, vatso afbrander van plase en aanhitser van barbare, vatso verkragter van vroue en moordenaar van kinders en vatso arrogante, smalende, leuenagtige, selfverheerlikende, onregverdige en selfmisleide Kakieparasiet.

Engelsman, vatso! Sean Else het ʼn fliek gemaak, Modder en bloed, en daarmee vir jou ʼn vet Boerenool uitgepak. Nog nooit in ʼn Afrikaanse fliek, eintlik Boerefliek, is die Engelsman so driftig, deurlopend en driftig sleggesê nie. Dit kon nie met ʼn beter nasie gebeur het nie.

Heldhaftigheid word in die Westerse mitologie hoofsaaklik in drie militêre gevallestudies belig en gevier: Leonidas en sy “300” Spartane by Thermopylae, die Jode wat die Romeine vergeefs by Masada weerstaan het en Jim Bowie, Davey Crockett en die ander Texane in die Alamo se verset teen die Meksikaanse leër van Santa Ana. Dit sê veel van Westerse propaganda dat die Boere se oorlog teen Brittanje nie met oorgawe en verwondering van mond tot oor, televisiestel tot oog, in skole en universiteite gehuldig word nie. Die Slag van Thermopylae was binne sewe dae gewonne, die Amerikaners het vir 13 dae in die Alamo uitgehou en selfs die Joodse weerstand het na ʼn jaar verkrummel.

Maar in Suid-Afrika, van 1899-1902 het twee ylbevolkte republieke met skaars ʼn beroepsoldaat tussen hulle, die magtigste moondheid van die tyd tot vuisvoosheid op die slagveld gekarnuffel. Selde het ʼn land met soveel voordele die krygsarena betree as Brittanje in 1899. Skatryk met ʼn weermag wat vir honderde jare gebrei is, weliglik toegerus met die beste en vernietigendste krygstuig, beskikkende oor ʼn haas onuitputbare bron soldate, perde en voorrade. Teen hulle was opgetrek ʼn tiende – en uiteindelik ʼn twintigste – van hulle mannekrag met ernstige tekorte aan wapens, ammunisie en voorrade en geen moontlikhede om nog in te voer nie. Die Britte se arrogante voorspelling was, soos almal van ons weet, dat hulle sou “tuiswees teen Krismis”. Hulle het net nagelaat om aan te dui watter Kersfees. Want vir twee en ʼn halwe jaar het hierdie Boere elke hou gevat wat die Britse leër kon plant, die stryd dikwels sonder kos, perde of ammunisie voortgesit, en die Engelse leër genadeloos uitoorlê en gekasty.

Die Spartane het by Thermopylae verloor, die Jode het by Masada (moontlik) selfmoord gepleeg en die Texane is by die Alamo uitgewis. Maar die Boere het uiteindelik tog geseëvier.

Daar is eenvoudig nie in die wêreldgeskiedenis ʼn meer kordate, heldhaftige, eerbare, lydsame stryd wat so lank deur so min met so weinig teen soveel met so baie gevoer is nie. (Die enigste moontlike uitsondering is die Duitse Derde Ryk wat tot die spreekwoordelike laaste druppel kinder- en oumensbloed uitgehou het teen dosyne lande met ʼn oorweldigende industriële krygsvermoë.)

Dis eintlik net die Engelse en die geestelike afstammelinge van Hensoppers en Joiners wat glo dat Brittanje die oorlog gewen het. Die Boere het hulle land vir ʼn kort rukkie verloor. Brittanje het sy Empaaier vir ewig verloor.

Die Boere se stryd teen die Engelse was die seëviering van nasionalisme teenoor meedoënlose imperialisme.

Nasionalisme? Nou ja, sien, dit is juis die element wat maak dat skrywers en filmmakers gedweë die hele onderwerp van Boereheldhaftigheid in die oorlog met groot omsigtigheid omsluip. Die hagiografiese juigkore moet aanhou histeries sing om die kollektiewe Suid-Afrikaanse ongemak met Boerenasionalisme te verdoesel. Want ongeag die gepronk van ons teenstanders, of die verguising en beskuldigings wat ons in die media moet verduur, of die magsvertoon deur die onbeholpe regering, hier is wat almal in hulle kern onthou en weet: Daar is geen manhaftiger, meer onstuitbare maatskaplike mag in Suid-Afrika as ʼn Boer met ʼn ontwaakte nasionalistiese instink nie.

Daarom dat skrywers, selfs Afrikaanse skrywers (PG du Plessis, Christoffel Coetzee) en Afrikaanse filmmakers (Piet de Jager, Deon Opperman) hulle aanbiedings van die Vryheidsoorloë katvoet balanseer met verslae en gerugte van Boerelafhartigheid, -verraad, -wreedheid en –nyd. Boereheldhaftigheid word in werke gekwarantyn as hipernasionalistiese fabels terwyl dit hulle vertrekpunt was dat die Hensopper of Joiner die mees getroue aftekening van die Boerekarakter is. Balans is hulle heiligste stelling, maar dit word ʼn selfgerigte parodie en is naderhand balans nie meer nie, maar eerder gedienstige propaganda teen die volk, ter wille van die aggressor.

By Sean Else, egter, is daar nie so ʼn kniehalterende soeke na balans nie, maar eerder na waarheid. En in die waarheid oor Vryheidsoorlog Twee is daar geen balans beskikbaar of nodig nie. Die Boere was reg, die Engelse verkeerd. Die Boer se stryd was edel; die Brit se stryd was oneervol. Wanneer Else dan die Engelse ʼn nool wys, is dit nie net aangaande die slag wat hulle in die oorlog toegedien is nie, maar ook daarvoor dat hy dié eenvoudige waarheid mag vertoon en dit sal doen, onbeskaamd en uitbundig, duidelik en by herhaling, met trots en oortuiging.

Hierdie is onapologeties ʼn fliek oor witmense. Daar is geen stoere swarte wat ʼn gewigtige toespraak gegun word om te verduidelik dat hulle net so erg soos die Boere gely het nie; geen kostelike kleurling vol pittige wyshede nie; geen hulpvaardige Indiër nie. En dít in ʼn fliek wat gedeeltelik deur die departement van handel en nywerheid, Kyknet en die Dagbreek Trust befonds is! Ons jong meneer Else, wil dit blyk, weet hoe om dinge gedoen te kry…

Die blote vervaardiging en bestaan van Modder en bloed is metafories van die Vryheidsoorlog self. Die Engelse propagandamediummasjien is so oorweldigend, so allesomvattend, so aansprakerig dat ʼn klein Afrikaanse fliek nie ʼn kans gegun sal word om dit teen te staan nie. Maar daar is dit dan nou. Modder en bloed is klein ja, ooglopend met ʼn begroting gemaak waarvoor ʼn internasionale fliek se assistenthaarkapper nie uit die bed sou opstaan nie.

As resensent word dit van my verwag dat ek na die tegniese aspekte en gehalte van die rolprent sal kyk. Ontspan. Dit is ʼn goeie fliek, goed vervaardig en opgevoer, met uitstekende rolvertolkings en die beste Afrikaanse draaiboek sedert Chris Barnard se Die storie van Klara Viljee, in elk geval wat die allerbelangrikste element van strukturering betref. Ja, ek kan kibbel oor kleiner voetfoute: Die klein begroting steur soms. Daar is nooit meer as ʼn halfdosyn Britse soldate bymekaar nie, selfs in die gevegstonele. Die storielyn is stroopsoet uit stapelwerk van Hollywood gelig met Sylvester Stallone se Escape to victory (gevangenes speel sokker teen Duitse wagte,) Burt Reynolds se The mean machine (gevangenes speel voetbal teen die bewaarders) en Aamir Kahn se Lagaan (Indiese plattelanders verslaan die Engelse leër se krieketspan). Daar is ʼn paar spatsels geyktheid en ʼn welige aanwending van standaardkarakters wat wissel van die astrante Ier tot die konvensionele onderwyser wat met sy onwrikbaarheid verbaas. En, as daar ʼn beswaar teen die draaiboek is, gaan dit oor die uitgerekte eerste bedryf wat te laat oorskakel na die uitbreidende tweede bedryf.

Goed. Daar is dit dan nou. Modder en bloed is tegnies nie volmaak nie. Maar man, is dit ʼn lekker fliek! Sean Else die skrywer en Sean Else die regisseur is saliglik onbelemmerd deur enige polities korrekte ongemak. Sy uitbeelding van Britse wreedheid knip nie oog nie. Dis onversag en onverskonend.

In hierdie rolprent het ons te doen met Willem Morkel, ʼn Kaapse rebel wie se lewe deur die Engelse vergruis word toe hy eers sy vrou aan die dood in ʼn konsentrasiekamp afstaan, toe sy babaseuntjie verloor en uiteindelik self gevange geneem en na St Helena verban word. Daar word hy en sy makkers blootgestel aan die afgryslike venyn van die eiland se militêre bevelvoerder, kolonel Swannel. Morkel en sy medegevangenes word deur omstandighede – en sy skerp impulsiwiteit – gedwing om hulleself voor te berei vir ʼn rugbywedstryd teen die bewaarders se spogspan. Die lewe van ʼn dapper jong seun berus op die uitslag.

Die verloop van die voorbereiding en die wedstryd is heel voorspelbaar, maar soms is voorspelbaarheid ook goed, want so kry die kyker dubbele waarde: Eers vir sy afwagting en dan in die realisering daarvan. Ek glo ek gee niks weg as ek sê dat die Engelse ordentlik verniel en vertrap word nie.

Dit is ʼn plesier om vir Sean Else aan die werk te sien. Hy is ʼn Vryheidsoorlogentoesias en hy plant ewe plesierig visuele opmerkings en ander verwysings daaroor in die rolprent. Dank Vader, vir eens is selfs die wapentuig periodereg, al bestaan dit net uit ʼn paar Mauser K98-roere, ʼn Lee Enfield of twee en ʼn paar Webley-rewolwers. Morkel is natuurlik ʼn legendariese Afrikanerrugbynaam en daar is selfs ʼn Gideon Scheepers, en hoewel die regte een nie sy einde in St. Helena tegemoet gegaan het nie, is sy verskyning ʼn herinnering aan die verraad van die Engelse en die opofferings van die Boerevegters.

Else is ʼn geskiedenistradisionalis, maar hy beskik oor die visuele taal van die moderne filmmaker. Die enkele gevegstonele is knap gehanteer en laat die kyker vasgenael en selfs verbyster oor die hoofkarakter se roekeloosheid. Die koeël wat vlees tref se klapgeluid is ewe Saving Private Ryan, so ʼn fluitsuisdoef!-klank, en al is Morkel se onverwagte berede stormloop duidelik geleen uit David Lean se Lawrence of Arabia, is dit suksesvol in die onverwagsheid en intimiderende energie daarvan. In pas met moderne televisieverhaalvertelling, gee hy ongekende gewig aan ondergeskikte rolle en huiwer hy nie om gunstelingkarakters vroeg reeds te laat sneuwel nie.

Die kinematografie is meesleurend; gemaklik in halfduister of skellig. Die musiek is vol somber atmosfere wat met instrumentale triomfgesange afgewissel word.

Sean Else was wys genoeg, en moet gewild genoeg wees, om hom met uitmuntende toneelspeltalent te omring. Die hoofrol van Willem Morkel is toevertrou aan Stian Bam, ʼn akteur met ʼn werklike teenwoordigheid. Hy vertoon lank en imponerend, maar daar is ʼn opregtheid en ʼn meelewendheid in hom wat sy selfvernietigingslus suksesvol temper.

Grant Swanby se kolonel Swannel, Morkel se nemesis, is sekuur, oortuigend en kragtig. Else vind geen element ter versagting in hom nie, en daar is ook niks in Swanby se vertolking te sien nie. Swannel is die nootvaste verteenwoordiger van die Britse Ryk: Arrogant, oneerlik, wreed, genadeloos, lafhartig, agterbaks en haatdraend. In swart-en-wit terme is hy pikswart. Selfs die optrede van Jason Isaacs se kil wreedaard in Mel Gibson se The Patriot is verduidelik en selfs effens verskoon deur sy herkoms en ongelukkige oorvalling. Daar is geen sulke ligstrepies in Swannel nie.

Die res van die akteurs sit nie ʼn voet verkeerd neer nie.

Uiteindelik word die rugbywedstryd in die rolprent ʼn metafoor van die Tweede Vryheidsoorlog. Aanvanklik speel die Boere die spel soos hulle dit by die Engelse geleer het, maar omdat hulle nie so goed voorberei het of toegerus is nie, kan hulle net verloor. Dis eers wanneer hulle rugby op hulle eie manier begin speel, wat hulle die Engelse radeloos laat. Net soos die Boere in die Oorlog, wat van oorlog ʼn volksvernuf gemaak en toe die Engelse verrinneweer het.

Sean Else het gewys dat ons mense ʼn fliek kan maak en in die fliek wat hy gemaak het, het hy gewys dat ons mense oorlog kon maak en, indien nodig, dit sekerlik weer sal maak.

Na die vertoning van Modder en bloed in die teater waar ek dit gesien het, was daar ʼn waarderende handegeklap. Dit is seldsaam in ʼn flieksaal. Dit was nie vir my nodig om te besluit of ek daaraan sou deelneem of nie.

Ek was die eerste om hande te klap.

Modder en Bloed is geskryf deur Sean Else en hy is ook die regisseur.  Die fliek is vervaardig deur Llewelynn Greeff, Henk Pretorius en Sean Else.

Die film is op 1 April 2016 plaaslik vrygestel en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Webtuiste: www.modderenbloedmovie.com of Facebook: www.facebook.com

Hier is die amptelike lokfilm:

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.