Absa Bank het by die beleggingsbank Sasfin en die ouditeursfirma KPMG aangesluit deur sake met die Gupta-familie se Oakbay Resources and Energy te beëindig.
Die familie word ondersoek vir vermeende staatskaping.
Trevor Hoole, KPMG se uitvoerende hoof vir Suider-Afrika, het aan Fin24 gesê die politieke belangstelling in die Gupta-familie, asook vrae van aandeelhouers, het tot die besluit bygedra.
Hy sê die risiko verbonde aan die assosiasie is te groot. Hoole het in ‘n e-pos aan alle plaaslike personeel gesê hy het besluit om nie verder vir Oakbay te oudit nie.
Die Guptas se bande met President Jacob Zuma is tans onder die soeklig. Zuma se seun Duduzane is ‘n direksielid van minstens ses Gupta-maatskappye.
Oakbay het egter aan Fin24 gesê die “moeilike” besluit was nie om ouditredes nie.
Oakbay, wat mynbates besit, se waarde word op bykans tien miljard rand geraam.
‘n Woordvoerder van Sasfin sê die besluit om bande met die Guptas te verbreek is al verlede maand geneem en betrekkinge sal in Junie ten einde loop.
Absa het ook bevestig dat Oakbay nie meer ‘n kliënt is nie, maar die woordvoerder wou nie verder uitbrei nie.
Intussen is berig dat die Gupta-broers ‘n duur Hindoetempel ten bedrae van meer as R200 miljoen in hul tuisdorp, Saharanpur, in die noorde van Indië oprig.
Die oudste Gupta-broer, Ajay, word glo deur inwoners van die streek beskryf as ’n “lewende god”.
Rapport het vasgestel dat die Guptas die Oppenheimer-familie se superluukse geriewe by die O.R. Tambo-lughawe gebruik.
Die Guptas se twee sakestralers, ’n Sovereign en ’n Global Express 6000, gebruik Fireblade Aviation, ’n Oppenheimer-maatskappy, se geriewe.
Dié maatskappy, wat dienste aan superrykes verskaf, het sy eie terminus, doeanegeriewe, spa en slaapgeriewe.
Die Guptas het onlangs in twee volbladadvertensies in The New Age, die Suid-Afrikaanse koerant wat aan hulle behoort, ten sterkste ontken dat hul Suid-Afrikaanse winste die landsgrense verlaat.